Hoewel Jannie du Toit se musiek nog nooit op ’n kommersiële gehoor gemik is nie, het dit die toets van die tyd tot so ’n mate deurstaan dat ’n mens jare nadat dit uitgereik is, nog steeds daarna kan luister.

Sy jongste CD, Oesjaar, is teen die einde van 2018 vrygestel, en vir ’n welkome verandering bevat dit weer niks anders as Jannie se eie komposisies nie. Die eerste snit op die album, “Vat die pad”, is ’n moontlike treffer; hierin sing hy van die vreugdes van die langpad en dit maak ’n mens lus om self weg te breek. Die eerste enkelsnit vanaf die album is “Jy kyk sag”, wat hy vir sy vrou, Therina, geskryf het. Enigiemand wat liedjies skryf, sal met die woorde van “Net een lied” kan identifiseer. “Ons soek ’n Tata”, wat in Afrikaans en Engels voorkom, verwoord die soeke na ’n leier soos Nelson Mandela baie goed. Die groep Breathe, wat saam met Jannie sing, bestaan uit lede van die koor van die Universiteit van Johannesburg, onder leiding van Renette Bouwer. “Skilder van die wolke” is ’n lied tot eer van die Here. Die enigste snit op die album self wat nie splinternuut is nie, is “Sy genade is genoeg”. Die musiek is in 1983 geskryf as temaliedjie van Jannie se musiekblyspel Loeloeraai. Hy het die woorde oorgeskryf en dra dit op ter nagedagtenis aan sy jarelange musiekvennoot Christa Steyn, wat in 2012 aan kanker oorlede is. Murray Lubbe sing saam met Jannie op “Lig en donker”. Murray se pa, Andy, was in die 1970’s saam met Jannie deel van die sanggroep Trilogie, en hy is deesdae direkteur van die Innibos-kunstefees in Nelspruit. “Koffiekafeetjie” word aan Badia Isaacs opgedra, ’n mens kan aanneem dit is ’n kelnerin wat hom gereeld bedien as hy koffie in Melville drink. Die lirieke van “Ons grootste gawes” laat ’n mens dink aan wat regtig in die lewe saakmaak, maar hy laat ’n mens ook lag deur te sê hoe belangrik knoffel in kos is. Die jazz-agtige ritme sal vir sekere mense ’n aangeleerde smaak wees. Die titelsnit sal veral by wynliefhebbers byval vind.

Jannie het besluit om ook ’n paar van sy ouer snitte in te sluit. Die eerste hiervan is seker sy grootste treffer, “Liedjie vir jou”. Op hierdie opname sing hy dit saam met Karen Zoid; dit het op haar program Republiek van Zoid-Afrika voorgekom. “Drie-uur in die more” was die titelsnit van Jannie se tweede album; Andy Lubbe sing dit saam met hom. “Volgende winter” was die titelsnit van nog een van Jannie se albums, en een van sy groot treffers. “Ons twee” is reeds in 2001 geskryf, maar hierdie verwerking is in 2015 gedoen. Jannie het “Sonkant” ook in 2001 geskryf, maar dit is vir die eerste keer op ’n album ingesluit. Die laaste snit op die album is “We need a Tata”, die Engelse weergawe van “Ons soek ’n Tata”.

Jannie het weer eens met ’n uitstekende album vorendag gekom en dis sonder twyfel een van die bestes van die afgelope tyd. Jannie steur hom nie aan modegiere nie, en daarom sal ’n mens nog lank na hierdie album kan luister, lank nadat jy moeg geword het vir hedendaagse treffers.