In 2017 het liefhebbers van instrumentale musiek vir die eerste keer van die Vat Vas-dansorkes kennis geneem toe hul album, Gooi die meel, vrygestel is.
Nou is hul tweede album, Só maak ons, vrygestel en die vraag is of hulle op daardie sukses sal kan voortbou. Die orkes bestaan uit twee leierkitaarspelers, Rudie Grobler en Johan Duvenage, Martin Viljoen op baskitaar en Koos van Dyk op tromme. Die regisseur van die album, Ernie Bates, het self al as sanger en kitaarspeler ’n indruk op die musiekbedryf gemaak.
Die titelsnit, ’n komposisie van Rudie Grobler, is die eerste snit op die album en ’n mens kan van die begin af agterkom dat dit sommer ’n lekker album gaan wees. Die kitaarwerk is baie goed, en liefhebbers van kitaarmusiek sal baie hiervan hou. Ernie Bates het “Krap waar dit juk” (nie dalk jeuk nie?) geskryf, en hy is ook verantwoordelik vir die bykomende kitaarwerk. “As die son sak”, is ’n effens rustiger komposisie van Johan Duvenage en Ernie Bates. “Al langs die treinspoor” is ’n lekker komposisie van Rudie Grobler. “Met eish ja” het ’n baie gewilde Afrikaanse sêding geword na aanleiding van ’n bekende brandewynadvertensie, en Johan Duvenage het die snit met hierdie titel gekomponeer. “Daar kom ’n tyd”, gekomponeer deur Ernie Bates, wys hul veelsydigheid baie goed. Die rustige tema word voortgesit met die wals “As ek aan Ma dink”, ’n komposisie van Johan Duvenage. “Rubber en rook” is ’n uitstekende komposisie van Ernie Bates en Rudie Grobler; dit herinner baie aan die musiek van die Shadows van die 1960’s.
“Haak en steek” is ’n lekker vrolike komposisie van Rudie Grobler. Die kitaarwerk op Ernie Bates se komposisie “Blink kant bo” is uitstekend; dis een van die beste snitte op die album. Johan Duvenage se komposisie, “Sal jy?”, het hier en daar ’n tango-ritme, en dit maak van hierdie snit iets besonders. Hoewel hierdie album nie as Boeremusiek geklassifiseer kan word nie, kom “Stopstraat-vastrap” baie naby daaraan. Ernie Bates was die komponis van “Pa het my geleer”; nog ’n baie goeie snit. “Pik en proe” is nog ’n wals; weer eens ’n komposisie van Johan Duvenage. “As die snare huil” is dalk een van die mooiste snitte op die album. Daar kom ’n bietjie akoestiese kitaarwerk in “Taktiese spel” voor; dit sorg vir lekker afwisseling. Die laaste snit op die album, “Voete in die stofpad”, is ook die langste op die album, maar dit maak nie saak nie, want dis een van die beste snitte op die album.
Dis goed dat daar ’n oplewing in die gewildheid van instrumentale musiek is, en gelukkig bring die meeste instrumentaliste en orkeste hul eie unieke klank voort. Vat Vas Dansorkes het met ’n album vorendag gekom wat by kitaarliefhebbers van alle ouderdomme byval sal vind, en gelukkig is daar genoeg afwisseling wat verseker dat dit nie vervelig word nie.