Dit is omtrent drie jaar sedert die Suid-Afrikaanse musiekbedryf vir die eerste keer van Werner Burger kennis geneem het.
Werner se verhoognaam, Jan Rhaap, kom van die uitdrukking Elke Jan Rap en sy maat, en met die aanvanklike uitreiking van sy debuutalbum, Laaste kans, het hy inderdaad as Elke Jan Rhaap bekendgestaan. Dié album is later onder die titel Opge-rhaap, heruitgereik, en hy het bloot Jan Rhaap geword.
Nou is hy terug met sy nuwe album, Wat is mens?, en die vraag is of hy op die sukses van sy debuutalbum kan voortbou. Die eerste snit, “Afrika se tent”, is reeds ’n enkelsnit; hy het dit saam met Lourens Wessels geskryf. Met hierdie snit kom ’n mens agter dat hy baie goed in ’n hoë en lae register kan sing. Jan Rhaap was, soos Adam Tas, ook in Hoërskool Garsfontein, en dis duidelik dat Adam Tas hom as kunstenaar beïnvloed het. “Loer deur die skrefie” is nog ’n spanpoging van Jan Rhaap en Lourens Wessels. Mauritz Lotz se kitaarwerk is baie goed, en ’n mens kan agterkom hoekom Mauritz een van ons land se beste kitaarspelers is. Weer eens is sy oorgang tussen ’n hoë en lae register iets besonders. Jan het die eerste enkelsnit, “Ramskilpad”, self geskryf en dit was ’n treffer op verskeie radiostasie. Hierin sing hy oor ’n lekker mannekuier. “Byt vas” gaan oor die verlange na ’n geliefde en die vooruitsig van ’n weersiens. “Jy is”, wat Jan saam met Lourens Wessels geskryf het, sluit hierby aan; hy sing van dit wat sy geliefde vir hom beteken. “Ruk die pleister af” is ’n baie goeie snit, en hierin sing hy van die seer van die lewe wat soms te veel is. Die titelsnit is ook effens rustiger, en hierin sing hy van die dinge wat regtig in die lewe saakmaak. “Plattelandse droom” is nog ’n mooi snit, en ’n mens hoop dat dit radiolugtyd sal kry. Die klank van reën in die agtergrond maak dit iets besonders. “Vrede in my hart” is ook ’n moontlike enkelsnit; dis een van die beste snitte op die album en weer eens sing hy van dinge wat regtig saakmaak. “Wild in jou oë” is nog ’n moontlike enkelsnit; die lekker rock-klank sal dit ’n treffer maak. Op die laaste snit, “Huisie in die bos”, span hy saam met Juan Boucher. Hulle het dit saam geskryf en hulle sing dit ook saam. Dit het ook reeds ’n treffer geword en ’n mens kan verstaan hoekom. Dit sal ewe veel vir hul albei se loopbane beteken.
Jan Rhaap het met hierdie album weer gewys dat hy een van ons land se voorste liedjieskrywers is. Hier is geen teken van oppervlakkige musiek wat net daarop gemik is om die dansvloere vol te kry of om platinumstatus binne ’n rekordtyd te behaal nie. Daarom kan dit baie sterk aanbeveel word.