Baie Afrikaanse volksliedjies het hul oorsprong met die Groot Trek gehad, of is daardeur geïnspireer.
“Aanstap rooies” is een daarvan; die rooies in die liedjie is osse wat ’n wa trek, en die kwassies verwys na die punte van hul sterte. Die eerste van drie verse is deur BA de Wet geskryf en die tweede en derde verse, wat minder gereeld gesing word, deur Pierre Malan.
In dié liedjie word daar gesing van die osse wat die waens moet trek, maar aan die einde van die dag uitgespan word waarna daar kamp opgeslaan word. Later het “Cowboy” Kobus van der Vyver ’n grappige langspeelplaat vrygestel waarop hy ’n parodie van dié liedjie, getiteld “Aanstap vlooie” ingesluit het. Hierin het hy gesing van ’n hond wat vol vlooie was. Sonja Herholdt se seun Simeo Hamman, het ook ’n opname van laasgenoemde liedjie gemaak.
Die liedjie het tot so ’n mate inslag gevind dat Mountain Ridge-wynkelder in 2012 ’n Aanstap Rooies- droë rooiwyn gemaak het en ’n straat in die woonbuurt Pellissier in Bloemfontein is na die liedjie vernoem.