Sommige kunstenaars is landwyd gewild terwyl ander se sukses streeksgebonde is; en soms wonder ’n mens hoekom dit gebeur.

Dit is nou al byna vyftien jaar sedert Desmond Wells sy polisieuniform vir ’n mikrofoon en ’n kitaar verruil het. Sy debuutalbum, Heeltyd speeltyd, het ’n paar treffers, soos “Sou dit nie “cool” wees nie”, “Veels geluk liewe maatjie” en “Jy’s die een” opgelewer, maar dit was hoofsaaklik die radiostasies in die Wes-Kaap, waar hy vandaan kom, wat gereeld sy musiek gespeel het. Sedertdien het die een album na die ander gevolg, en nou het hy besluit om ’n paar van sy ouer liedjies opnuut op te neem, en ’n paar nuwes in te sluit.

Desmond se nuwe album, getiteld Dans dit beter, skop af met die “Hithouse remix” van een van sy grootste treffers tot dusver, “Desiré”. Dit lyk asof hy met ’n meer elektroniese klank vorendag gekom het; dit sal beslis by sy teikengehoor byval vind. Dieselfde geld die “Future house remix” van “Heeltyd speeltyd”, wat daarop gemik is om die dansvloere vol te kry. Desmond was nog op laerskool in die 1980’s, en hy het besluit om ’n aantal liedjies uit hierdie era in te sluit. Die eerste daarvan is ’n keurspel wat byval sal vind by almal wat van dié tipe musiek hou; dit bevat “The safety dance” van Men without hats, “Around my dream” van Silver Pozzoli, “Break my stride” van Matthew Wilder en “Tarzan boy” van Baltimora. Gelukkig is die ritmes van hierdie liedjies baie dieselfde en dit was nie nodig om enigsins daaraan te verander nie. Sommer die volgende snit is nog ’n 1980’s keurspel, hierdie keer met treffers van Depeche Mode, naamlik “I just can’t get enough”, “Master and servant” en “Strange love”. Desmond se musikale invloed strek egter verder terug, soos hy met sy Creedence Clearwater Revival-keurspel, wat bestaan uit “Midnight special”, “Have you ever seen the rain” en “Proud Mary” bewys. “Sy’s my wonderwerk” is ’n oorspronklike snit wat die dansvloere gou vol sal kry. “Dans my verlief” was die titelsnit van een van Desmond se vorige albums, en hy noem die nuwe weergawe die “Synth heaven remix”. Die volgende snit is ’n retro-danskeurspel; dit bestaan uit “You are my darling” van Tony Christie, “Sweetheart darling my dear” van Mixed Emotions (verkeerdelik op die omslag as “Lisa my love” aangedui) en “Radio dancing” van Engelbert Humperdinck. Die oorspronklike weergawe van “My liewe Heksie” het twee jaar gelede op sy vorige album, Staan vir altyd by my voorgekom. Nog ’n groep van wie hy ’n keurspel ingesluit het, is Erasure; dit bestaan uit hul treffers “A little respect”, “Sometimes” en “Oh l’amour”. Daar is een snit wat om die regte redes baie aandag op sosiale media getrek het. A-ha se treffer “Take on me” is reeds in 1985 vrygestel en is nou nog gewild. Desmond se weergawe is só oortuigend dat ’n mens mooi moet luister om seker te wees dat dit nie die oorspronklike een is nie. Daarna volg nóg ’n hoogtepunt, naamlik die “Bad boy mix” van een van sy eerste treffers, “Sou dit nie cool wees nie”. Dit is selfs beter as die oorspronklike weergawe en daarom behoort dit van voor af ’n treffer te word. Desmond het Robin Gibb se byna vergete treffer “Boys do fall in love” ook op die album ingesluit, asook ’n uitstekende weergawe van Bruce Springsteen se “Dancing in the dark”. Die laaste keurspel op die album bevat die Beatles-treffers “I saw her standing there”, “Please please me”, “Day tripper” en “Ticket to ride”. Die album word afgesluit met nog ’n hoogtepunt. “Veels geluk liewe maatjie” is ’n lekker eietydse verjaardagliedjie wat geskik is vir mense van alle ouderdomme. Die “Footloose remix”-naam van die nuwe weergawe is ook nie om dowe neute nie, aangesien dit op dieselfde ritme as die temaliedjie van dié gewilde 1980’s rolprent gesing word en die musikale verwerking ook baie daarmee ooreenstem.

Dis duidelik op wie hierdie album gemik is; jy kan nie stilsit as jy daarna luister nie en jy kan nie anders as om lus te voel om te dans nie. Die titel van die album is dalk vir sommige mense ’n oppervlakkige lewensbeskouing, maar die vraag is of dit regtig saakmaak, aangesien dit enige partytjie lewe sal gee.