Vroeër vanjaar het Ruhan du Toit aangekondig dat hy nie meer deel van die groep Touch of Class gaan wees nie maar eerder ’n loopbaan as solosanger wil volg.
Ruhan het Ronell Erasmus se plek as Deon van der Merwe se sangmaat in dié groep ingeneem en saam het hulle vier albums opgeneem waarvan die jongste Touch of Class-album, More magic, die laaste een is. Dit is ’n opvolgalbum van hul uiters suksesvolle album Magic en die vraag is of hierdie een net so gewild sal wees.
Die eerste snit is Meat Loaf se groot treffer “I’d do anything for love”, waarop Carlé Weber saam met Ruhan sing. Hul weergawe is die helfte korter as die oorspronklike een, wat ’n mens die indruk gee dat die oorspronklike een heeltemal te lank is. Hierdie een hoef buitendien glad nie daarvoor terug te staan nie. Die volgende snit verskil radikaal daarvan; dit is die tradisionele liedjie “Danny Boy”; natuurlik is Ruhan se stemwerk uitstekend, en dieselfde kan van Deon se akoestiese kitaarwerk gesê word. Touch of Class se weergawe van The Animals se bekende “House of the rising sun” verskil baie van die oorspronklike een, maar is nogtans uitstekend. Ruhan bewys weer eens dat dit vir hom maklik is om tussen ’n lae en ’n hoë register te beweeg.
Deon se akoestiese kitaarwerk op hul weergawe van The Eagles se treffer “Hotel California” is eenvoudig skitterend. Een van die grootste verrassings op die album is ’n baie mooi weergawe van Elvis Presley se treffer “In the ghetto”. Kevin Leo sing saam met Ruhan op “Fall on me”, waarop hy ’n ander kant van sy sangtalent wys. Die musikale verwerking van hul weergawe van Tom Jones se “Delilah” is uitstekend. Dit verg baie moed om “Bohemian rhapsody” aan te durf, maar hulle het dit baie goed reggekry, en hul weergawe hoef glad nie vir Queen se oorspronklike een terug te staan nie. Die volgende snit is nog ’n bekende treffer, naamlik “To love somebody”, wat oorspronklik deur die Bee Gees gesing is. Nog ’n groot verrassing is ABBA se treffer “The winner takes it all”. Nie net verskil die musikale verwerking heeltemal van die oorspronklike een nie; dit is ook snaaks om te hoor dat ’n man dit sing. Die ander verskil is dat Ruhan ’n deel daarvan in ’n ander taal; nugter weet hoekom. Monique Steyn sing saam met Ruhan op die Andrew Lloyd Webber-komposisie “All I ask of you”. Sedert The Righteous Brothers in 1965 ’n treffer met “Unchained melody” gehad het, het baie ander kunstenaars dit opgeneem, en sommige weergawes was beter as ander. Touch of Class se weergawe is egter een van die bestes tot dusver. Baie mense jonger as veertig dink dat Mariah Carey die oorspronklike kunstenaar was wat “Without you” opgeneem het, maar dit was in die vroeë 1970’s ’n treffer vir Nilsson. Weer eens word dit in meer as een taal gesing; ’n mens wonder hoekom dit nodig was. Die jong sangeres Amira Willighagen, wat Holland’s got talent gewen het en deesdae in Suid-Afrika woon, sing saam met Ruhan op Freddie Mercury en Montserrat Caballé se treffer “Barcelona”. Daar is een Afrikaanse snit op die album, naamlik Lianie May se treffer “Vergeet my nie”; dié opname is by verlede jaar se Afrikaans is groot-konsert gemaak.
Ruhan het weer eens sy sangtalent op ’n besondere wyse met hierdie album ten toon gestel, en hoewel Dusty Dixon sy plek by Touch of Class gaan inneem, kan ons uitsien na ’n solo-loopbaan van sy kant af. Intussen sal liefhebbers van musiek van hoogstaande gehalte hierdie album geniet.