In 1995 het Leon Schuster ’n tradisie begin deurdat hy ’n album vrygestel het om die Springbokspan in die vierjaarlikse Wêreldbeker-rugbytoernooi te ondersteun; Hie’ kommie Bokke het die suksesvolste album in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf geword.
Sedertdien het dit met elke Wêreldbekertoernooi gebeur, behalwe dat ander kunstenaars ook met rugbyalbums vorendag gekom het. Vir vanjaar se toernooi het Robbie Wessels ’n paar kunstenaars bymekaar gekry en ’n album, waarop hy die meeste van die liedjies sing, Staan saam, saamgestel. Ons rugbyondersteuners was maar nog altyd provinsialisties, maar wanneer die Springbokke speel, ondersteun almal hulle. Dit is presies waaroor Robbie en Appel, wat homself ook reeds as sanger gevestig het, sing. Die musiekvideo is op Loftus Versfeld en by Hoërskool Garsfontein verfilm en ’n mens sal nog na dié liedjie kan luister lank nadat die Wêreldbeker verby is. Jason Bourne was die hoofkarakter in die Bourne-filmreeks wat tussen 2002 en 2016 vrygestel is. Robbie sing van iemand wat net na ’n bietjie geselskap soek en vir wie rugby ’n tipe ontvlugting is.
Die eerste kunstenaar benewens Robbie wat op die album voorkom, is Early B. “Back die Bokke” is ’n rymkletsliedjie soos wat ’n mens van hom kan verwag; jy hou daarvan of jy hou nie daarvan nie. Pieter Koen se bydrae tot die album is “Sit dit harder”; Pieter se aanhangers sal hiervan hou. Daar is een groot verrassing op die album. “Liefling” het ’n rugbyliedjie geword nadat die toeskouers dit gereeld vir Derick Hougaard gesing het toe hy nog gespeel het. Robbie sing dit saam met Jo Black, Danny Smoke, Appel en Pieter Koen. Hulle het regtig ’n uitstekende opname daarvan gemaak. Tydens die bekendstelling van hierdie album het Robbie dit alleen gesing en gewys dat hy regtig ’n talentvolle sanger is maak nie saak wat mense dalk dink nie. Appel se bydrae tot die album is “1,2,3 (Dis ‘n lekker dop dié)”; die manne wat lief is vir kuier, sal hiervan hou. Robbie vertel in die volgende snit waar die skrum vandaan kom, maar hy bedoel dit as ’n grap. “Sumo nie meer nie” is op die wysie van Lianie May se treffer “Jy soen my nie meer nie”, en ’n mens kan nie anders as om te lag as jy daarna luister nie! Fatman se treffer “Dorp toe” is volgende; dit het ook op albei sy albums tot dusver voorgekom.
“Japaan” is Robbie se eie komposisie, en hierin sing hy oor die nederlaag wat die Springbokke in 2015 teen Japan gely het en die feit dat die Springbokke hul reputasie in ere moet herstel. Robbie laat die lagspiere weer oortyd werk met “Ons eet alles”, gebaseer op ’n aantal bekende liedjies. Hierin sing hy van die Japanners se eienaardige eetgewoontes. Die hoogtepunt van die album is “Legendes”, waarop vier bekende oud-Springbokke, Bakkies Botha, Naas Botha, John Smit en Mannetjies Roux hul boodskappe vir die Springbokspan oordra. Die feit dat Robbie dit kon regkry, bewys sy geloofwaardigheid as rugbyondersteuner. Jo Black se bydrae tot die album is die titelsnit van sy uiters suksesvolle debuutalbum “Skepe”. Op die laaste snit, wat Robbie self geskryf het, bring hy hulde aan die Springbok-losskakel Patrick Lambie.
Robbie het meer as een keer al gewys dat hy weet hoe om nie net die lagspiere te laat werk nie, maar ook hoe om vir rugbyondersteuners te gee wat hulle wil hê; die tipe musiek wat die regte atmosfeer skep net voordat ’n wedstryd begin of wanneer daar na ’n wedstryd verder gekuier word. Hopelik sal dit die Springbokke motiveer om hul beste te gee en, wie weet, dalk die Wêreldbeker huis toe te bring.