Beer Adriaanse is ’n akteur, regisseur, draaiboekskrywer en musikant. Foto: Chantelle Loots

Deur Seugnet van Zyl

Op 34 is Beer Adriaanse ’n akteur, regisseur, draaiboekskrywer en musikant.

Die “geskrewe woord” soos hy daarna verwys lê hom egter die naaste aan die hart.

Hy is baie lief vir lees en skryf.

Om ’n akteur te wees, erken hy het “eintlik heel laaste gekom”.

Beer speel nie net in televisiereeks Hotel nie, maar is ook sedert die tweede reeks deel van die skryfspan.

Waar hy aanvanklik deel van die regie vir Hotel wou wees, het die vervaardigers hom eerder gevra om ’n oudisie te kom doen.

“Ek het toe dadelik gesê: ‘ek is nie eintlik ’n akteur’ nie, maar het toe met dié oudisie een van die hoofrolle gekry.”

Al lê sy grootliefde by skryf, geniet hy dit ook sy lyf akteur te hou.

“Ek verkies eintlik om beide te kan doen, want dit raak bietjie geisoleerd om so alleen te sit en skryf. So, om dan gou stel toe te gaan en deel te word van ’n familie vir ’n maand of twee en dan weer te skryf, is vir my baie lekker. Ek verkies daai dinamika.”

Hy doen dié twee ook maklik.

“In die televisie- en rolprentbedryf skuif dinge so baie rond. Die bewegende dele is vir ewig in flux. Jy moet so bietjie vooruit beplan. Ek gaan daai maand byvoorbeeld net op die stel wees en moet ek dus eers klaar skryf of daarna skryf.”

As hy kon sou hy altyd sy ma, Wilna, die bekende fiksiekrywer se opinie oor sy draaiboeke wou hoor.

“Sy verstaan storie en struktuur baie, baie goed. Ek het my liefde vir rolprente by haar gekry. Tussen haar en my middelste broer, Jaco, veral. Hy is ook ’n (wetenskapfiksie)skrywer. Hulle kritiek sal ek altyd vertrou. My pa, Deon, is uitstekend met kontiniteitsfoute. Hy sal vir my sê jy kan nie ’n 1993 Passat in ’n fliek hê wat in 1996 afspeel nie. My ander boet, Johann (’n hoofbedryfsbeampte by ’n internasionale myboueksplorasiemaatskappy in Gabarone, Botswana) is net ’n baie goeie bonsbord vir idees. Almal is gelukkig lesers, wat baie help en almal het daardie ingebore liefde vir die geskrewe woord.”

Sy grootste droom oftewel “die berg” soos hy daarna verwys, is om eendag sy eie fliek te skryf en die regie daarvan te behartig.

Hy sê hy het ’n boekrak vol volledige tekste, halwe tekse en net idees waarvan uit hy dié fliek nog sal maak.

Beer se “gelukkige plekkie” is waar hy by elke aspek van ’n fliek betrokke kan wees.

“Jy is totaal en al verdiep in elke aspek van die fliek.

Beer is ’n noemnaam wat hy op skool aan die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch gekry het. Sy doopname is eintlik Jakobus Petrus.

“Ek het vir so twee jaar teen dít baklei, maar toe die onderwysers my dit ook begin noem, het ek besef dis dan nou seker my naam. Ek het gedink dit sou weggegaan het, maar terwyl ek nog op skool was het ek in ’n band (Zinkplaat) beland, waar ons almal op die CD ons byname gebruik het.”

Zinkplaat was ’n Afrikaanse rockgroup, wat in 2002 in ‘n koshuiskamer in dié skool deur Bertie Coetzee saam met Beer Adriaanse begin is. Basson Laubscher en Beitel van der Merwe het kort daarna aangesluit. Dié groep het vyf vollengte albums agter hulle naam en is vir Tempo- sowel as Sama-toekennings benoem. Hulle het regoor die land en by feeste opgetree. Zinkplaat het in 2006 ’n draai in Engeland gemaak en in 2009 teruggekeer daarheen vir die Immergroen-fees. Hulle laaste album Retrospekulasieis is in 2013 bekendgestel.

Ná skool het hy ’n B.A.-graad en B.Phil. in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch en ook ’n M.Phil. in film- en mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad behaal.

“Daar het het baie mense teen die tyd al geweet het van Zinkplaat. Hulle het toe net aangehou om my Beer te noem.”

Vir 10 jaar lank was Beer deel van Zinkplaat, waar hy die tromspeler was. Hy was ook die skrywer en/of regissur van tientalle musiekvideo’s, twee dokumentêre programme, ’n klomp advertensies, ’n regstreekse laataand-komedieprogram (Vrydag-NAG Laat) asook twee kortflieks, Die Buurtwag en Beskermhere. Daar het al twee koerantrubriekreekse uit sy pen verskyn, en hy was skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNet-drama-komedie Buurtwag wat vir drie ATKVMediaveertjies en twee Tempo-toekennings benoem is.

TV-kykers sal Beer ook onthou as Johnny in die Afrikaanse mokumentêr, Johnny en die Maaiers, en Boer Gil in die parodie-reeks Boer Soek ’n Ou. Hy was ook in die flieks, Vir Altyd, Johnny is nie dood nie, Wonderlus, Kanarie, Vir ontbyt en Chin up! te sien. Deesdae speel hy ook in Fynskrif, ‘n drama wat rondom die regsfirma, Van Wyk & Vennote, sentreer ook op kykNET. Beer is pas klaar met die verfilming van die tweede seisoen van dié dramareeks.

Hy verkies komedie, maar speel ernstiger rolle ewe gemaklik.

“Ek is spanspeler. Ek geniet dit om deel te wees van ’n ensemble as ’n ondersteunende akteur.”

Beer sê hy mis sy musiekmaakdae “geweldig baie”.

Hy leer hom deesdae self om kitaar te speel, want hy kan nie tromme in sy woonstel speel nie.

In die onderhoud sit hy met ‘n kitaar op sy skoot wat hy bly tokkel. Nes hy sy ander rolle oënskynlik maklik onder die knie gekry het, besef ‘n mens dadelik dat hy die kitaar ook gou sal baasraak.