Minke Marais, 'n matriekleerling aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp. verstom almal met haar akteursvernuf. Foto: Theana Breugem

Deur Seugnet van Zyl

Sy oorrompel jou met haar toneelspel. Soveel so, dat jy jou omtrent moet knyp om jou te laat besef dat sy nog op skool is. Op die verhoog is egter al plek, waar Minke Marais, ’n matriekleerling aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp, wil wees. 

Dis dié einste 17-jarige aktrise wat gehoorlede op die Reza de Wet-tienertoneelfees by die onlangse Vrystaatse Kunstefees met haar spel in die solostuk Waterbrief, tot trane gedryf het. Sy is by dié fees as beste aktrise aangewys. Waterbrief is as tienertoneelfeesproduksie gekroon en sy regisseur, Mariki de Villiers-Knop, as beste regisseur. Dit was maar net die begin van die toekennings vir Minke en dié toneelstuk. By die FAK-Allegretto-toneelfees is sy weer as die beste aktrise aangewys en Waterbrief as beste toneelstuk; so ook  by Aardklop se Pronk-tienertoneelfees en by die ATKV-tienertoneelfees;  by haar hoërskool se toneelfees het sy, die produksie en sy verhoogspan weer koning gekraai en Waterbrief is by die ATKV-Tienertoneelstreeksfees in Roodepoort as streekswenner gekroon. 

Waterbrief, waarvan Nico Scheepers die teks behartig het, handel oor ’n jong meisie wat in ’n swembad verdrink het en dan haar lewensverhaal vertel oor hoe haar familie sonder haar voortgaan. Scheepers, dramaturg en regisseur, maak sedert 2014 sy merk op die Afrikaanse teaterlandskap met innoverende tienertoneel. Hy het dié toneelstuk spesifiek vir Minke geskryf nadat hy haar verlede jaar in ’n toneelstuk, waar hy ’n beoordelaar was, gesien het.

Al is Minke alleen op die verhoog in net haar swart baaikostuum geklee en met ’n enkele ’n wit houtboks as verhoogstut, voer sy jou so mee dat jy saam met haar lag en huil. Die verhoog word uitstekend belig soos sy met haar emosies stoei deur haar mede-hoërskoolleerling, Morné Swanepoel, terwyl Ulrich Helm die klank behartig en Dillen Breitenbach as verhoogbestuurder optree. Ulrich en Dillen is ook in die Hoërskool Noordheuwel.

Hennie van Greunen, ’n veelbekroonde regisseur, vervaardiger, skrywer en teaterkenner, sê Minke is ’n diamant.

“Dis (toneelspel) haar ding. Sy is ’n ontsettende goeie jeugakteur, wat ook ’n ontsettende goeie volwasse akteur gaan word.”

Volgens Van Greunen is Minke buiten vir haar besonderse toneelspel geseën met “roerende teks” deur Scheepers en Mariki de Villiers-Knop, as regisseur van Waterbrief, “op die hande gedra”.

Dis juis “tannie Mariki” soos Minke na haar drama-afrigter verwys, wat geweet het as daar een tiener is wat ’n eenpersoonvertoning kan aanpak, dit Minke is.

“As dit nie vir tannie Mariki was wat die potensiaal in my raakgesien het nie, sou ek vandag nêrens gewees het nie. Ek sou lost gewees het,” vertel sy waar sy in skoolsaal weer gereed maak om Waterbrief op te voer. Haar hare lyk nat, maar sy verklap dis haaropknapper. Net voordat sy die verhoog bestyg, smeer sy gou baba-olie oor haar lyf. Dit als sodat sy lyk asof sy pas uit die swembad geklim of in dié geval verdrink het.

Op hoërskool het sy regtig vir die eerste keer met die aanmoediging van De Villiers-Knop besef dat sy van toneel haar “nommer-een-passie” wil maak.

“Ek is van kleins af verskriklik skaam. Ek was nooit ’n mense-mens nie. Ek is ’n groot introvert. My ma wou my selfvertroue ’n hupstoot gee en ek het toe op vyf met modelwerk begin. Toe het redenaars gevolg en dramaklasse wat ek buitemuurs by tannie Mariki geneem het.”

Minke vertel sy wou nooit op die verhoog praat nie.

“My een vriendin het mimiek gedoen. Ek het dit begin doen, want ek hoef dan nie gepraat het nie. L Later het ek ’n dialoog saam met die vriendin gedoen en toe het my gesê kom ons probeer iets anders: ’n monoloog.”

Wat uiteindelik gevolg het, was haar eerste hoofrol in ’n toneelstuk in gr.10. Sy beskou gr.11 as haar deurbraakjaar waar sy die hoofrol in die stuk AnnaMaria Davidtz van Dik-Daan van Diepgezet.

“Anna-Maria was outisties. Dit was vir my die lekkerste rol om te speel. Dit het baie uitdagings gehad, maar dit was vir my die bevestiging gewees: ek móét hierdie doen. In gr.10 het ek besef ek wil dit doen, maar laasjaar was ’n bevestigingsjaar. Ek is so bly dat ek dit al in gr. 10 besef het, want ek sou nie gelukkig met enigiets anders as toneelspel gewees het nie.”

 Juis daarom gaan Minke volgende jaar drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.

Oor die vele toekennings vir haar rol in Waterbrief, kan sy nie anders as om dít as “mal” op te som nie.

“Baie van die goed het nog nie ingesink nie. Ek is baie, baie bevoorreg. Ons het nie geweet wat om te verwag nie, want die stuk is baie anders as ander toneelstukke. Dis baie fragile byna soos glas. Die reaksie en kommentaar is amazing.”

Volgens haar het sy met Waterbrief soveel tieners aangeraak om nie selfmoord te pleeg nie.

“Dis so great om te sien dat ’n stuk soos dít en ek as ’n tiener soveel impak kan hê in iemand se lewe.”

En skielik maak dit sin. Sy is geskape om te skep. Haar skooltas met die woorde: “created to create” en haar toneelspel verkondig dit immers.