Die “Swanesang” van Lance James

Lance James Foto: Yolanda Barnard-Lemmer

Deur Yolanda Barnard-Lemmer

Op die omslag van sy nuutste album is daar ’n foto van sy profiel; ’n hawiks-neus, ruie wenkbroue en sewe-dagstoppelbaard – nou grys en stekelrig – en op sy kop; die kenmerkende cowboyhoed.

Hy het 24 van dáái cowboyhoede, in verskillende vorms en kleure. Hy bestel dit uit Amerika, want in Suid-Afrika het die hoede net nie die regte country-gevoel nie, glo hy.

Oom Lance James of te wel The Big Daddy van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf sit op ’n leerbank by die Calexico Vinyl Lounge and Restaurant in Braamfontein, Johannesburg. Hy lyk asof hy in die restaurant in ge-photoshop is, ’n karakter uit Bapsfontein se dae. Hipermodern-industrieel teenoor cowboystewels – ook 24 paar in sy kas. Sy snyersbaadjies – hy verlaat nóóit die huis met ’n denim aan nie – al sy klere word deur ’n snyer in Krugersdorp gemaak, pasknap aan sy lyf. Pure outydse sjarme en nostalgie.

Langer as ses dekades in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. 134 albums wat nog in baie mense se musiekversamelings is. Verskeie enkelsnitte en DVD’s. Verskeie toekennings. Platinum albumverkope. 81 jaar oud op 18 Julie.

“Mense van sy ouderdom is gewoonlik al in ’n aftreeoord,” lag die sanger Tobi Jooste, “maar oom Lance is blykbaar nog lank nie uit die mode uit nie.”

“Wat wou, aftreeoord,” brom hy in sy baard. “Ek doen nog so drie vertonings ’n week.”

Van die Kaap tot in Barberton tot in Pretoria.

“En die kinders en jongmense daag by my vertonings op. Dit is so al asof hulle terug hunker na vervloë dae. Die kinders wil tot foto’s saam met my neem. Nee, ek is nog glad nie uit die mode nie.” Hy snuit sy neus met ’n regte sakdoek. Geen papiersneesdoekie vir hom nie.

Maar vandag is hy híér, by die hipermoderne kuierkroeg en restaurant, om sy nuutste album bekend te stel. Almal is daar; van jong, hip-joernaliste (nog nat-agter-die-ore) tot ou SAUK-manne – Lance het vir jare vir die SAUK gewerk voordat hy in 1981 voltyds begin sing het – bebaarde hippies en gepakte-sakemanne.

Swansong. ’n Ironiese titel, dalk, want op 80 is Lance die oudste sanger in die land wat ’n vollengte album opgeneem het. Hy was elke oggend in die studio, vir maande. Daarna self aan die album gemeng en geboetser tot dit Lance-eksie-perfeksie was.

Verskeie jonger sangers het saam met hom duette gesing; onder andere Elizma Theron en Nianell. “Dit was te lekker om saam met hulle te sing. En ek het steeds ’n oog vir ’n mooi vrou en wel, die sangeresse is darem te pragtig,” sê hy en gooi ’n leepoog na Nianell, wat een van die gaste is.

“Die idee vir die album broei al tien jaar in my kop. Ek wou eintlik al op 70 my laaste album opgeneem het, maar dit het net nooit gebeur nie. Just Music het later vir my ’n kontrak aangebied en hulle glo dat oom Lance nog albums kan verkoop,” raak hy ’n bietjie bewoë, veral toe Nianell iets in sy oor kom fluister. “Ek wou eers nie nog ’n album doen nie – ek het gedog ek is klaar, uit die mode uit, toe motiveer my dogter my ‘Pa, jy kan dit doen.’”

Al het sy gesondheid hom die laaste paar jaar in die steek gelaat. Longontsteking wat hom vir ’n paar dae in die hoësorgeenheid gehou het. Oumanskete wat hom af en toe wakker hou. Vergeetagtig. Woorde wat geproe en versigtig geuiter word. Sy vrou, Valerie, het vir jare aan Alzheimer gely. Sy is in 2014 oorlede.

’n Doodse vrees vir Alzheimer?

Vinnig: “Ek het al die woorde van die liedjies vir die album geleer en onthou.”

Sy stem nog lank nie droog en krakerig nie, steeds meesleurend, warm met daardie rasegte country-ritme so reg uit Tennessee.

“Ek gorrel elke dag met warm water en heuning,” knipoog hy. “Dit is die geheime resep wat my stem jonk hou.”

Swanesong. “Die album is dalk my laaste, maar ek is gebore om te sing, om te vermaak. Ek wil nog ’n album opneem. Ek wil met ’n mikrofoon in my hand dood gaan.”

Sy hande beweeg oor die CD-omslag. Drie ringe pryk aan sy regterhand. Aan sy middelvinger, ’n liefdesring, van Eunice Wait. Sy Engelse roos. Sy tweede, groot liefde. Sy winterliefde. Eunice gee hom ’n klapsoen. “Sy is alles wat ek nou nodig het, my beminde, my versorger, my vriendin.”

Langspeelplate is teen die mure staangemaak. Van oom Lance se Swansong. Just Music het besluit om die album ook op ’n langspeelplaat op te neem en te versprei.

Sy loopbaan het in 1969 met ’n langspeelplaat begin en miskien eindig hy sy loopbaan ook daarmee. “Dit is mooi, oom Lance,” sê Tobi Jooste, “respek, oom Lance.”