Katvoet: Meesterlik in Afrikaans

Die akteurs wat in Katvoet speel is voor van links: Voor Marion Holm, Laudo Liebenberg en Marius Weyers Agte is:Tinarie Van Wyk-Loots Foto: NARDUS ENGELBRECHT

Deur Alita Steenkamp

Gierigheid, valsheid, pretensie, seksuele begeerte, agterbaksheid en die onvermoë om die dood in die oë te kyk, is deel van die menslike natuur en strek oor lands- en kultuurgrense. In 1955 het die Amerikaanse dramaturg, Tennessee Williams ’n drama geskryf, Cat on a hot tin roof, waarin hy hierdie onderliggende temas verweef in ’n verhaal wat afspeel op ’n katoenplaas in die suide van Amerika. Die rolprentweergawe, met Paul Newman en Elizabeth Taylor in twee van die hoofrolle – dié van Brick (Boela) en Maggie – het aan hierdie drama onvergeetlikheid verleen.

Die talentvolle regisseur en dramaturg Nico Scheepers, wat teatergehore betower het met stukke soos Nêrens, Noord-Kaap, Amper Vrystaat en Moedertaal, het die geleentheid gekry om hierdie kragtige teaterwerk in Afrikaans te vertaal en te verwerk as Katvoet. Katvoet, ’n NATi/Feesteforum-produksie, ondersteun deur die US Woordfees, het vanjaar by die US Woordfees gedebuteer en reeds daar teatergehore aan die praat gehad. Nie net het Nico uitstekend daarin geslaag om die karakters almal Afrikaans te laat praat nie, hy het ook die agtergrond van die verhaal verskuif na ’n wildsplaas in Limpopo. Hy het dit so getrou gedoen, dat niemand ooit kan dink dat karakters soos Boela, Maggie, Moeks en Pappie, nie eg-Afrikaans is nie.

Nico vertel dat hy lank gelede na die rolprentweergawe van Cat on a hot tin roof gekyk het en dat dit hom gefassineer het.

“Die murg en die been van die storie, en al die kwessies waarmee die hoofkarakters moet stoei en waaroor hulle praat – die alkoholisme, homofobie en vroueslanery – het vir my so bekend gevoel aan die Limpopo waar ek grootgeword het, ek het onmiddellik geweet ek sou die stuk graag in Afrikaans wou verwerk. Dit is een van daardie droomproduksies wat jy altyd iewers koester, maar daar is nie altyd geld om so iets aan te pak nie. Tog het dit in my agterkop gebly en toe die geleentheid opduik, het ek geweet dat ek graag Tennessee Williams se verhaal ’n Afrikaanse kleur sou wou gee,” sê hy.

Katvoet vertel die verhaal van die Mouton-gesin wat op ’n wildsplaas in die Limpopo-bosveld woon. Die patriarg (Marius Weyers) vier sy 65ste verjaarsdag en almal is hier om die verjaarsdag te vier. Boela (Laudo Liebenberg) is die oudste seun wat besig is om homself dood te drink en tog is hy sy skatryk pa se kroonprins wat die plaas moet oorneem. Die enigste probleem is dat hy nog nie ’n erfgenaam het nie, en natuurlik sy alkoholmisbruik. Sy vrou, Maggie (Tinarie Van Wyk-Loots) is die spreekwoordelike kat op die warm sinkdak wat alles in haar vermoë doen om die liefdesvlam tussen haar en Boela weer aan te blaas. Sensueel flikflooi en flankeer sy met haar eie man, maar dié wil haar bloot net nie toelaat na aan hom nie. Moeks (Marion Holm) hou nie vir een oomblik op om te praat nie en is veral die een wat haar oë van die waarheid wegdraai. Dan is daar ook die lamsakkige Buffel (Albert Pretorius), Boela se jonger broer en sy praatsiekvrou Jollie (Martelize Kolver), wat wel gesorg het vir ’n stewige kroos. Die een na die ander familiegeheim word stadig maar seker ontbloot en die familie moet mekaar, en die waarheid, vir die eerste keer in die oë kyk.

Nico vertel dat die oorspronklike teaterteks van Tennessee Williams vir drie uur en tien minute speel met twee pouses tussenin. In sy verwerking het hy egter meer as ’n uur van die teks uitgesny aangesien daar baie herhaling was. Hy voeg by dat die Afrikaanse taal bloot net baie meer kleurryk is en dinge waarvoor Engels dikwels ’n lang omslagtige verduideliking het, bloot net makliker en vinniger kan vertel.

Aangesien hy beide die regisseur en die teksskrywer was, het alles baie vinniger verloop toe daar eers begin is met die repetisieproses. Wanneer daar besluit is om van die dialoog te verander, kon dit sommer daar en dan gebeur.

Paul Boekkooi skryf in ’n resensie wat in die Muskiet-feeskoerant van Innibos verskyn het dat die akteurs se spel onder die beste tel wat ons in jare ervaar het. Dit grens aan die fenomenale, sê hy. Hy lig veral vir Tinarie van Wyk-Loots uit wat uitstekend met haar vertolking van Maggie slaag en die eerste derde van die stuk domineer. Maggie flankeer voorwaar met Boela soos ’n slanke, smeulende kat wat vir aandag teen iemand se lyf aanvly, maar Boela kyk bloot net in sy whiskeyglas vas.

Vir Nico was die hele proses ’n besonder bevredigende een.

“Om so ’n reuseprojek in Afrikaans te doen, was geweldig bevredigend en ’n ongelooflike eer,” sê hy. “Aan die een kant was dit ’n fantastiese ervaring om met so ’n legendariese teks te werk, maar aan die ander kant beteken dit juis dat dit met ’n groot verantwoordelikheid gepaard gaan. Die kaliber akteurs met wie ek saamgewerk het, wat die woorde net gevat het en tuisgemaak het in hulle monde, het dit een van daardie ervarings gemaak wat ’n mens nie gou sal vergeet nie.”