Dit is vanjaar vyftig jaar sedert die suksesvolste instrumentale groep in Suid-Afrika se geskiedenis, die Klipwerf-Orkes, gestig is.
Ter viering daarvan is hul jongste album, Hantam dis die lewe/C’est la vie, pas uitgereik en soos gewoonlik bestaan dit uit ’n mengsel van Boeremusiek, Afrikaanse en internasionale treffers. Die eerste snit op die album is hul weergawe van Broers (Christo en Cobus Snyman en hul broer Nic Stevens) se groot treffer “Huis toe”. Dis net moeilik om te verstaan hoekom hulle dié snit ’n vinniger ritme gegee het. “Misvloer-seties” is Boeremusiek op sy beste en dalk een van die lekkerste snitte op die album. Die titelsnit, “C’est la vie”, was oorspronklik ’n treffer vir Chuck Berry, en Klipwerf se weergawe is glad nie sleg nie. “Trés jolie” het dalk ’n Franse titel, maar is ’n tradisionele Boeremusiek-komposisie. “Flower of Scotland” het die laaste tyd geweldig in gewildheid toegeneem; dié Skotse volkslied is ook al deur Andriëtte en Pietman Geldenhuys (onder die naam Peter Murphy) opgeneem. “Wheels” is ’n ou bekende instrumentale komposisie wat oorspronklik deur Billy Vaughan gewild gemaak is; weer eens word dit met ’n vinniger ritme gespeel. Die legendariese Boereorkesleier en konsertinaspeler Japie Laubscher sou vanjaar ’n honderd jaar oud geword het; daarom is dit gepas dat sy komposisie “Ek staar na die verte”, ingesluit is.
Don Williams se treffer “Amanda” het van voor af gewild geword nadat Steve Hofmeyr dit saam met Demi-Lee Moore opgeneem het; die tydsberekening van Klipwerf se opname was baie goed. Die volgende snit is ’n keurspel wat bestaan uit “Jou kombers” (ook bekend as “Daar lê die ding”) en “Pale toe”. Selfs Elvis Presley kom aan die beurt; sy treffer “Kiss me quick” is ingesluit, en Klipwerf se opname klink nie sleg nie. Brian (Basjan) Nieuwoudt is ’n veelsydige instrumentalis en sanger van die Weskus wie se musiek nie so bekend is in die res van die land nie. Sy komposisie, “Die muishond eet nie jam nie”, is ingesluit en dis dalk een van die hoogtepunte op die album. David Kramer se “Hanne” het die laaste paar jaar weer gewild geword nadat Theuns Jordaan dit opgeneem het, en nou het Klipwerf dit ook, met ’n effens vinniger ritme, opgeneem. Ricus Nel het ’n opname van Chris Blignaut se bekende treffer “Die Bosveldbul” waarop hulle saam met hom speel, op sy nuwe album ingesluit, maar hul instrumentale weergawe daarvan kom hier voor. Die laaste snit op die album is hul weergawe van Boney M se treffer “Going back west”.
Dit gebeur nie aldag dat ’n groep of ’n orkes so lank bymekaar bly nie en natuurlik gaan so ’n lang tydperk gepaard met personeelverandering en ander uitdagings wat te bowe gekom moet word. Nogtans het Klipwerf dit reggekry om die hele land se voete te laat jeuk; en hulle het dalk ook deur die jare baie verbeter. Daarby het hul gewildheid sedert die 1990’s geweldig toegeneem. As jy na musiek soek wat jou die heeltyd sal laat skoffel, kan jy gerus hierdie album by jou versameling voeg!