Nadat “De la Rey” in 2006 vrygestel is, het Bok van Blerk ’n groot gunsteling onder Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers geword.

Hy was ’n paar jaar lank stil, maar sy jongste album, Hoor ons, is pas vrygestel en die vraag is of sy gewildheid dalk nog verder sal toeneem. Die eerste snit, en ook die eerste enkelsnit, is “Was”, waarin hy sing van die “goeie ou dae”. Johan Oberholzer het dit geskryf en nie almal sal noodwendig met die lirieke saamstem nie. Johan het ook die volgende snit, “Een”, geskryf, en die boodskap is dat mense mekaar nodig het. Die titelsnit het ’n baie kragtige boodskap; naamlik dat mense se stemme gehoor moet word en dat die Afrikaner nie stilgemaak kan word nie. Bok sing darem nie net van politiek nie; hy het “Ek is joune, jy is myne” saam met Johan Vorster en Christoph Kotze (Appel) geskryf. Dit is beslis nie ’n gewone liefdesliedjie nie en kan ’n groot treffer word. “Goeiemôre Suid-Afrika” is weer eens ’n patriotiese lied, soos dié waarvoor hy gewild geword het. Bok het “Voetspore” saam met Loki Rothman geskryf; hierin sing hy van die verhouding tussen ’n pa en sy seun. Bok het “Heeltemal deurmekaar verward” saam met Herman Kleinhans geskryf; die lirieke laat jou lekker lag. “Stoffel” is nog ’n lekker humoristiese snit; Bok en Herman het weer saamgespan en hulle kan dit meer gereeld doen!

“Land en strand” is ’n komposisie van Bok saam met Riaan Benade en hierin sing hy van manne wat saam gaan visvang. “Blouwildebliksemsfontein” is nog ’n hoogtepunt; weer eens het Bok, hierdie keer saam met Pietman Geldenhuys en Jaco Mans, met humoristiese lirieke vorendag gekom en Ricus Nel se konsertinaspel laat ’n mens lekkerkry. Bok en Ricus is groot vriende, en dis lekker om hom ook op hierdie snit te hoor saamspeel. Die laaste twee snitte is reeds voorheen uitgereik, maar kom vir die eerste keer op een van Bok se CD’s voor. “Sluise van die hemel”, saam met Robbie Wessels, is net so aktueel soos toe dit die eerste keer vrygestel is, veral noudat sekere dele van die land onder droogte gebuk gaan. Die laaste snit het ’n groot treffer geword; Bok sing “Die land” saam met Steve Hofmeyr, Jay, Ruhan du Toit en Bobby van Jaarsveld.

Bok het sy ondersteuners hierdie keer dalk ’n bietjie langer as gewoonlik laat wag vir ’n nuwe album, maar hierdie album is vol treffers en dis moeilik om te voorspel watter liedjies enkelsnitte gaan word. Dit is seker een van die lekkerste Afrikaanse albums wat die afgelope jaar verskyn het en daarom kan dit sterk aanbeveel word.