Liedjieboer innie langpad – Anton Goosen

Hoewel Anton Goosen reeds in 1976 bekendheid as liedjieskrywer verwerf het nadat Sonja Herholdt sy komposisie “Jantjie” opgeneem het, het hy drie jaar later sy eerste debuutalbum as sanger vrygestel.

Daar is al verskeie versamelings van sy musiek sedertdien vrygestel, maar hierdie keer het hy sommige snitte wat dalk nie so bekend is nie, bymekaargevoeg en twee nuwes opgeneem. “Swart water (die vloek van Boontjieskraal)” is ’n bewys dat Anton weet hoe om ’n storie te vertel. Dit vertel die verhaal van die vloek wat oor die manlike erfgename van die plaas Boontjieskraal in die Overberg naby Caledon uitgespreek is. Hoewel Anton gewoonlik die woorde en musiek vir al sy liedjies skryf, is “(Gee hom) ’n Hemel vol blou akkers” ’n uitsondering aangesien dit die toonsetting van ’n Ingrid Jonker-gedig is.

“Skippetjie skommel”, nog ’n nuwe snit, vertel die verhaal van die treiler-vissermanne, terwyl “’n Veer uit die Klein Karoo” die tema van ’n dokumentêre program van Koos Roets is. “African day” is ’n skitterende snit waarop Gito Baloi baskitaar gespeel het en die Soweto College-koor saam met hom gesing het. Hierdie snit is al in 1996 opgeneem. “Die laaste tango” was ’n uitstekende Afrikaanse riller-rolprent waarvoor Deon Meyer die draaiboek geskryf het. Lise Swart het die temaliedjie van hierdie rolprent saam met Anton gesing. Anton het “Gansbaailapa” in 1993 vir die eerste keer opgeneem, en sedertdien is dit op twee van sy versamelalbums ingesluit. “Theme from The lullaby/Siembamba” was die tema van ’n internasionale rillerfliek wat André Frauenstein vervaardig het. “The road”, wat op Anton se album Danzer voorkom, is ’n baie kort snit; dit is ’n duet saam met Piet Botha, wat vroeër vanjaar oorlede is. “Josie Josie” was een van Anton se vroeë komposisies, en Sonja Herholdt het ook ’n treffer daarmee gehad. Anton se Engelse weergawe is egter hier ingesluit. “Beste Henry” is een van die byna vergete juwele wat Anton deur die jare geskryf en gesing het; dis effens lank maar dit boei jou end-uit. Die enigste ander snit waarvoor Anton nie die woorde geskryf het nie, is “Ek sal vir jou ’n leeu gee”, waarvoor Breyten Breytenbach die woorde geskryf het. Anton het, kort nadat “Boy van die suburbs” oorspronklik vrygestel is, ’n “rock and roll”-weergawe daarvan opgeneem; dit is by hierdie versameling ingesluit. Die “rock-medley” bestaan uit “Blommetjie gedenk aan my” en twee liedjies wat hy self geskryf het maar deur ander kunstenaars gewild gemaak is, naamlik “Byeboerwa” en “Harlekyn”, natuurlik treffers vir Carike Keuzenkamp en Sonja Herholdt onderskeidelik. Die laaste snit is ’n hoogtepunt. Die temaliedjie van die rolprent Pretoria o Pretoria is deur die SAUK, wat destyds geen kritiek van die regering geduld het nie, verbied. Dit is op die wysie van “Kruidjie-roer-my-nie”, met dieselfde refrein maar ander woorde waarin Pretoria uitgebeeld is soos dit destyds was, geskryf. Dis wonderlik dat hierdie snit ingesluit is. Daar is egter ook een laaste, weggesteekte snit, naamlik Anton se weergawe van “Straattroebadoere”, wat hy self geskryf het, maar ’n treffer vir Laurika Rauch was.

Met hierdie album het Anton net weer bewys hoekom hy die legendariese liedjieskrywer en sanger geword het wat hy is. Dis goed om ook na sy minder bekende snitte te luister, want dis maklik om net by sy treffers vas te haak en van enigiets anders te vergeet. Hierdie album kan eenvoudig nie sterk genoeg aanbeveel word nie.