deur Nadia de Kock
Kwela Boeke
Die laaste wens van ’n jare lange vriendin stuur Talla na die
Glencoe-vallei in Skotland. Sy neem digbundels saam, asook haar wolkboekie om
haar stokperdjie voort te sit – die soeke na seldsame wolke. Sy gaan by Munro’s
tuis, ’n onopgesmukte herberg gewild onder bergklimmers, en hoop om stories oor
tradisionele tartanwewerye te versamel.
By Munro’s
ontmoet sy die koddige rondloper, Mikey, wat die hele Skotland plat stap op
soek na sy Kate – ’n geliefde wat hom glo jare gelede sonder waarskuwing
verlaat het. Talla word by Mikey se soektog betrek, maar dit blyk gou dat sy
gedagtes nie helder is nie, en sy geestestoestand net so troebel.
Intussen
duik herinneringe aan Talla se kinderdae in Warmbad, en aan haar eerste liefde,
Astian, by haar op. Wat is dit aan die stilte van hierdie vallei wat vergete
verledes na die oppervlak laat dryf? Dit help ook nie dat Astian net ’n dag se
reis ver, in Shetland, woon nie. Sal sy dit waag om die antwoorde op vrae uit
haar eie verlede na te jaag?
Oor die skrywer
Nadia de Kock is ’n IT-spesialis met haar kop in die wolke. Sy is ook skrywer, reisiger en gewese uitgewer. Sy bly in Johannesburg.