Aanskou die wonder van ’n vrou

Deur Petronel Fourie

’n Wonder is iets buitengewoons of bonatuurlik. Dis ook om nuuskierig te wees, iets te oorweeg, te bepeins. Dis iets wat nie met die verstand verklaar kan word nie, iets waaraan mense hulle verwonder, iets wat verbasing wek. Al hierdie definisies in ag genome, is ’n sinvolle sinoniem vir wonder, die woord “vrou”. Aangesien dit Augustus vrouemaand is, aanskou ons nou die wonder van die vrou!

Die woord vrou het op 20 Augustus 1755 vir die eerste keer in vroeë Afrikaans verskyn, in die samestelling Vrouwe Cabaay, oftewel “vrouekabaai”, waarná Pannevis in 1880 die woord vrouw opgeteken het.

’n Vrou word gedefinieer as ’n volwasse mens van die vroulike geslag, of ’n eggenote, of die derde hoogste speelkaart met die prent van ’n koningin daarop.

Wanneer ’n vrou fyn opgevoed en gesofistikeerd is, verdien sy die eretitel van dame. Hoewel dit oorspronklik ’n Franse eretitel vir ’n vrou uit die adelstand is, word die woord sedert die 17de eeu ook in Nederland en in Suid-Afrika gebruik vir ’n volwasse vrou uit die sogenaamde beskaafde stand. Word ’n dame boonop ’n juno genoem, is sy nog fors en mooi ook. Dié beskrywing verwys na die Romeinse beskermgodin van die vrou, die huwelik en die geboorte.

Die meeste moeders streef daarna om hul dogters as ware dames die wêreld in te stuur. Maar as dame van die nag, wil geen fyne vrou bekendstaan nie. Dis gelyk daaraan om ’n lolita genoem te word, ’n wellustige jong meisie wat volwasse mans se koppe laat draai. Eweneens wil jy nie as ’n amasone of Mansfelder geken word nie, want dan is jy weer te manhaftig, grofgespierd en eiewillig. Weet ook maar jy word beledig as iemand vir jou sê om tog nie so ’n ou vrou te wees nie! 

Die woord dame doen ook elders diens. Wanneer jy ’n groep vroue en mans aanspreek, is dit immers dames en here, ongeag wie jou gehoor is. En sou jy nie weet of die vrou voor jou ’n getroude mevrou is nie, noem jy haar maar dame.

Dis geen wonder nie dat Afrikaans ’n hele klomp grande dames (uitspraak daam) deur die eeue opgelewer het – invloedryke vroue wat in verskeie sfere wondere verrig het. Een so ’n vrou is Elizabeth Eybers, wat in haar pragtige gedig, getiteld “Die Vrou”, skryf: “Somer en herfs en winter trek in wye onafgebroke wisseling deur die land, maar sy bly draer van die lente, want liefde het haar verhef bo die getye”. ’n Beeldskone, wónderskone beskrywing.

As ek aan formidabele Afrikaanse vroue dink, kom Johanna Brand en haar moeder, Maria van Warmelo, met hul kappiekommando tydens die Anglo-Boereoorlog dadelik by my op. Hulle is boaan die lys van vroue wat die grense van hul geslag en die aanvaarde norme van hul tyd vreesloos en onverskrokke oorgesteek het. So ook die skrywer MER, wie beskou word as een van die grootste Afrikaners van die vorige eeu, een van die uitnemendste prosaïste, pleitbesorger vir armes en eensames en vurige stryder vir die bemagtiging van die vrou. Beslis ook Mabel Malherbe, die eerste burgemeesteres van ’n Suid-Afrikaanse stad (Pretoria) en stigter van die eerste vrouetydskrif Die Boerevrou.

Vergeet ook nie vir Rykie van Reenen nie, baanbrekerjoernalis wat ’n groot rol gespeel het in die professionalisering van vrouejoernaliste. Die wondergoeie skrywer en aktrise Anna Neethling-Pohl, lieflingsopraan Mimi Coertse en liedjielegende Laurika Rauch het hul stempel duidelik afgedruk, soms wonder bo wonder.

Die vrou is die wondergom van die wêreld, sy hou alles in stand. C Louis Leipoldt som dié sentiment goed op met die woorde: “Waak oor dié stem! Let op dié siel! Behou die beste wat ons nasie het – die vrou!”Kassie:

  • Die vrou
  • AG Visser
  • Die vrou is die sout van die aarde,
  • die suurdeeg, beskou op die keper:
  • Al hoër steeds rys sy in waarde:
  • Sy’s beide die sout en … die peper!
  • Wie ter wêreld verstaan ooit die vrou,
  • en wie sal haar geheimenis weet?
  • Haar verjaarsdae moet jy onthou,
  • maar haar ouderdom moet jy vergeet!