Deur Petronel Fourie

Kom sit aan

Outeur: Rudi Swanepoel

Uitgewer: Lux Verbi

Om by ’n etenstafel aan te sit, behoort veel meer te behels as om kos in jou lyf te kry. Vir Rudi Swanepoel is tafels ook praatplekke en luisterplekke. Dit is waar herinneringe gevorm word. ’n Etenstafel is ’n heelwordplek. Om ’n tafel te dek, om reg te maak vir gaste, is ’n heerlike en heilige ding.

In dié boek lei Swanepoel die leser op ’n reis van selfontdekking. Hy doen dit deur talle vrae te vra – sommige met antwoorde, sommige met suggestie, sommige retories.

Een so ’n vraag is wat dit vir jou beteken om te eet. Is dit bloot die bevrediging van ’n drang, of ’n heilige daad, ’n manier om in verbondenheid te lewe? Hy meen dat die kos wat ons eet, nie bloot koue voorwerpe is wat ons verbruik nie. Alles wat ons eet, was eens lewend, het gegroei en is gevorm. Dis ons band met die aarde.

Swanepoel sê ons het twee keuses: Ons kan eet as onnadenkende verbruikers, of as bewustelike wesens. Die boek is sy getuienis dat die gewoonte om bewustelik te eet, jou lewe radikaal kan verander.

Op fisiese vlak moet ’n maaltyd al jou sintuie betrek – hoe lyk jou kos, hoe ruik dit, smaak dit goed, voel dit aangenaam, kraak dit wanneer jy dit byt? Wat ons sien en inneem en verteer, is net soveel deel van die ervaring van menswees as die funksie wat kos in ons lewe en liggame vervul, meen hy.

Maar kos het ook sielkundige en geestelike dimensies – dink jy na oor wat jy eet, is jy dankbaar, wek dit herinneringe op en dra dit by tot ’n positiewe liggaamsbeeld?

’n Groot voordeel van die etenstafel, sê Swanepoel, is daardie maaltyd se vermoë om mense aan mekaar te verbind. Dis oor etes dat jy mense leer ken en leer verstaan, en dis met ’n bord kos voor jou en ’n drankie in jou glas waar nuwe vriendskappe ontstaan of afgeleefdes begrawe word.

Met dié boek wou hy twee dinge bereik: Om mense lus te maak om self te kook, en om mense uit te nooi om saam te eet. Dis ’n boek oor eet dié – nie oor dieet nie. Swanepoel is daarvan oortuig dat diëte nie werk nie. Gesond eet, aandagtig en met selfbeheersing eet – dit werk. Die oplossing lê binne jou, in hoe jy dink en voel oor jouself en oor kos.

Die ding met diëte, sê hy, is dat dit nie oor die kos gaan nie, maar oor jou. Oor jou verhouding met dit wat jy eet, hoe jy dink oor wat jy eet, of jy geniet wat jy eet en of jy ’n gesonde verhouding het met dít waarmee jy jou liggaam voer. “Hoekom van kos die vyand maak as dit ék en jý is wat sukkel met selfbeheersing?”

Sy raad is om kos as versorging te beskou, as die kosbare brandstof wat jou liggaam, gees en siel nodig het om volledig mens te wees. “Wees bewus van die voorreg om vir jouself en ander te kan sorg deur middel van ’n bord kos. Eet met aandag en met smaak. Waardeer wat jy het.”