Die liedjieboer Anton Goosen

Deur Yolanda Barnard-Lemmer

Dit is tienuur die oggend. In die Rhapsody’s kuierrestaurant se rookgedeelte. Die Pieter Stuyvesant- en Camel-rook skimmel deur die lug. “Julle moet ophou rook,” mor hy en waai-waai weg.

Ons steek nog ’n sigaret aan. Hy gluur na die pakkie blou wat op die tafel lê. “Daar is lewe na rook,” ’n kuglag. Amper vier jaar wat die pakkies nie meer in sy bosak (soms agtersak) boer nie. “Dit is een wens wat ek het, en dit is om nooit te begin rook het nie …”

“Hallo, Anton,” ’n man kom skud blad. “Ek like jou kwaai. Kan ek gou ’n foto neem?”

Die Liedjieboer. Anton Goosen, inderdaad, in sy blompatroonagtige kraaghemp (sy trouhemp), sonbril op die neus, lang, grys hare in ’n dun vlegsel. ’n Gerehabiliteer roker, maar steeds ’n rocker, al veertig jaar lank.

“Julle moet ophou rook,” knor hy weer. “Julle sal sien, die effek is bykans onmiddellik. Ek kon dit na ’n week begin voel; ek het nie meer na my asem gehyg as ek die lughawetrappe moet op- en afklim nie. My kitaar het ook ligter begin weeg,” sê hy en vat ’n sluk van sy tamatiedrankie (sonder vodka). Sy gesondheid is uitstekend vir 73, want sy vrou, Estie, sorg dat hy baie gesond eet. Hy stap gereeld en kitaar speel, sê hy, is baie harde oefening.

Behalwe vir sy oë, vandag weer rooierig, is hy gesond soos een van die Overberg se walvisse. Hy skuif die sonbril, wat begin afskuif het, op. “My oë is baie sensitief vir helder son- en verhoogligte, maar die donkerbril los die probleem op. Ek ly aan droë oë-sindroom. Dit beteken dat my traankliere nie reg werk nie. Dit het dieselfde effek as ’n motorruitveër wat oor ’n droë ruit vee. Dit veroorsaak irritasie.”

Weer pa word? “Mmmm, ek is nog nie eers oupa nie. Aa, ek weet nie …”

Hy is in Pretoria om sy nuwe album te bemark. “Ek weet nie of ek weer ’n album gaan uitreik nie. Ek sal op 80 weet, maar as die muse by jou is, moet jy solank as wat jy kan liedjies opneem. Gelukkig is dit nie meer nodig om albums in ateljees op te neem nie. Die digitale era het alles verander.”

40 jaar, noem hy dié album.

Die album het vyftien snitte op.

“Ek dink dit is my beste liedjies van die afgelope veertig jaar. Ek wou nie ’n Greatest hits-tipe album uitgebring het nie. Dit moes eerder ’n feesviering gewees het. Daar is ’n paar nuwe, onuitgereikte alternatiewe weergawes van bekende liedjies op, ’n paar Engelse liedjies en ook die verbande weergawe van ‘Kruidjie-roer-my nie’.”

Die goeie ou dae van sensuur. Anton skud sy kop. “‘Boy van die suburbs’is destyds onder embargo geplaas omdat die boy sy Afrikaans té veel gemeng het. Ek en my regisseur, Chris Kritzinger, moes die komitee gaan sien en verduidelik dat ‘seun van die voorstede’ net nie sou werk nie. Hulle het dit my toegegee, maar die sensuur waaronder ‘Begrafnis in Zeerust’geplaas is, is eers in 1994 opgehef.

“Sensuur het vandag ’n ander betekenis; radiostasies het hul eie kriteria van wat goeie smaak is al dan nie. Walglikhede en haatspraak sal nie toegelaat word nie.”

Nie dat Anton bang is om heilige koeie te slag óf om in openbare debatte betrokke te raak nie. Hy en Steve Hofmeyr was al in sosialemediagevegte betrokke. ’n Brugbou-konsert moes gehou word om die twee te versoen “en Johannes Kerkorrel was beslis ook nie van my beste vriende nie.”

Dit is net van die stories wat hy in sy biografie, wat volgende jaar uitgereik gaan word, gaan vertel. “Ek en die joernalis Hanlie Retief werk al die afgelope drie jaar aan die biografie en die waarheid gaan in die boek ontbloot word. Waarhede van ’n hele paar jare in die musiekbedryf en almal gaan nie noodwendig daarvan hou nie.”

Anton bly al elf jaar op Gansbaai. In ’n vissershuisie wat al 140 jaar oud is en wat op die hawe en see uitkyk. Die afgelope paar jaar, twee jaar wettig, knipoog hy, het hy vir Estie wat die see, die haweliggies en die vuurtoring met hom deel.

En dit is nie hy nie, sê Anton, wat Gansbaai lekker maak nie. “Die locals is plat-op-die-aarde-mense. Hulle het geen pretensies of nonsies nie.”

Oor die dood is Anton baie filosofies. “Ek het ’n paar goeie vriende die jaar verloor. Piet Botha was ’n groot terugslag. Johnny Clegg en Isaaz Mtsali, ’n Bushrock­-tromspeler.

“Ja, ek is feilbaar. Die dood is deel van ons lewe. Dit is onafwendbaar.”

Hy vat ’n laaste slukkie van sy tamatiedrankie, staan stywerig op. Dit was ’n lang sit. “Lees Allan Carr se boeke of kyk na die DVD’s. Dit is al wat my gehelp het om op te hou rook.” Uit sy leersak loer ’n boek. Kamphoer. Sy vliegtuigleesstof wanneer hy weer Kaap toe vlieg. Na Estie toe.