Kaapsehoop

Deur Alita Steenkamp

Skilderagtig, sonderling, sjarmant, bekoorlik … ’n mistieke bergdorpie. Hierdie is alles beskrywings waarmee die dorp Kaapsehoop in Mpumalanga gereeld in woorde geteken word. Wanneer ’n mens deur die dorp drentel, sal jy volkome saamstem – ’n unieke plek wat boonop spog met ’n ryk geskiedenis. Jy moet maar net hoop dat die dorp nie tydens jou wandeltog toegerol is in ’n miskombers nie. Dit gebeur heel dikwels en verklaar ook waarom die dorpenaars dit – Ons plek in die wolke – noem.

Kaapsehoop, ’n dorpie bo-op die platorand van die Drakensberge, is bekend vir die vrylopende perde in die plantasies, die aalwyne wat in die winter die klipbanke in die omgewing baldadig in rooi tooi en die uitsonderlike voëllewe. Boonop is daar ’n skilderagtige waterval digby die dorp. Maar waar kom die Kaap in die naam van ’n dorp in Mpumalanga vandaan? word daar gereeld gevra.

Geskiedskrywers het verskillende teorieë oor die ontstaan van die naam Kaapsehoop. Waaroor almal wel saamstem, is dat dit in 1872, toe goud daar ontdek is, gou bekendgestaan het as Duivelskantoor. Gerugte wil dit hê dat Marthinus Wessel Pretorius, die eerste president van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), die dorp besoek het en besluit het dat ’n mens nie ’n dorp na die duiwel kan vernoem nie. Die rotsagtige bergformasie en die mis wat dikwels die berg versluier, het hom aan Tafelberg laat dink. Die hoop gedeelte in die naam is dan die hoop dat daar goeie goudvondste gemaak sal word. Kaapsehoop lê bo-op die platorand en die vallei daar onder, waarin Barberton lê, staan bekend as die De Kaap-vallei met ’n Noordkaap- en Suidkaaprivier wat daardeur vloei.

Die delwers en fortuinsoekers het mettertyd die dorpie verlaat toe die goud wat gemyn is nie naastenby soveel was as wat daar gehoop is nie. Jamestown naby Barberton, Pelgrimsrus en uiteindelik die Witwatersrand het veel meer goud opgelewer en die goudsoekers is sak en pak weg.

Oor die herkoms van die wilde perde wat sinoniem met Kaapsehoop is, is daar ook vele teorieë. Sommiges glo dat dit afstammelinge is van die delwers se perde wat hier agtergebly het, ander glo weer dit is die Britse troepe wat in die Anglo-Boereoorlog in Kaapsehoop gewoon het en hulle perde, met hulle terugkeer na Engeland, hier agtergelaat het. Daar is selfs ’n heerlike fantasieverhaal wat vertel dat ’n sirkustrein ontspoor het en die sirkusperde het toe hier op Kaapsehoop beland. Dit maak nie regtig saak waar hulle vandaan kom nie. Die perde wat in die plantasies en op die kwartsiet grasvlaktes rondom die dorpie rondloop, is deel van Kaapsehoop se bekoring. Van die troppe is ook heel tuis in die dorp want hier is heerlike groen gras, sappige tuinblomme soos rose en meer as genoeg drinkwater tussen al die visdamme en fonteine op die dorp. Daar is nagenoeg tussen 160 en 200 vrylopende perde in die Kaapsehoop-omgewing.

Jaarliks lok die Kaapsehoop-marathon, die Wildeperdefees, Bohemian Groove Café se Veteraan Volkswagen-fees en Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees se Boeke-crawl ’n hele paar besoekers van regoor die land na die bergdorp. Hier is immers ’n hele paar heerlike kuierplekke en restaurante waar enige moeë stedeling kan verpoos. Oor naweke kuier die Laevelders ook graag daar bo waar dit aansienlik koeler as onder in die Laeveld is.

Die bekoring van Kaapsehoop lê natuurlik in veel meer as bloot lekker kuierplekke met groot kaggelvure, en dis veral die ligging wat hiervan so ’n uitsonderlike plek maak. Hier is vier pragtige staproetes digby Kaapsehoop wat ’n mens na die mooiste plekke, onder meer na die Blouswaelvlakte neem. Alhoewel die ernstig bedreigde blouswaels nou al vir ’n paar somers nie teruggekeer het na hierdie grasvlakte nie, hoop almal om weer eendag hier blouswaels te sien. Dis ook hier op die Blouswaelvlakte waar Kaapsehoop se interessante klipkalender is. Johan Heine, ’n vlieënier, doen tans intensiewe navorsing om sy teorie, dat die klipkalender opgerig is deur mense wat ongeveer 5000 jaar gelede hier goud gemyn het, te bewys. Om die son of die volmaan oor die klipkalender te sien opkom, bly ’n lewensveranderende ervaring.

Vir die meer avontuurlustige siele is daar ook aktiwiteite wat die bloed vinniger sal laat vloei. By Kaapsehoop Horse Trails kan jy op ’n rit van een of twee ure, ’n voldagrit en selfs ’n rit van drie dae lank op die rug van ’n perd gaan.

Kaapsehoop Scootours bied aan oud en jonk heerlike pret op ’n ekovriendelike veldskopfiets met monsterwiele. Die afdraande roete volg die Battery Creek-ravyn en eindig by die mooiste punt langs ’n glashelder waterstroom.

Ander interessante besoekpunte in die dorp self is die ou kliphuisie van die Mynkommissaris wat in 1884 gebou is en wat steeds staan, en die ou stoomenjin wat vroeër vanjaar op Kaapsehoop staangemaak is en wat uit 1910 dateer. Die ou begraafplaas is ook beslis ’n besoek werd en een van die grafte wat aandag trek, is dié van Evan Davies wat tydens die Eerste Wêreldoorlog in die gruwelike slag van Delvillebos geveg het, dit oorleef het en uiteindelik as ’n 80-jarige, rustig in sy huis op Kaapsehoop gesterf het. Ingrid Murphy se Gold Dust Trading is ’n heerlike snuffelwinkel met mooi goed uit vergange se dae wat ’n mens ook vir lank kan besig hou. Hier is ook verskeie ateljees waar kunstenaars hulle handewerk te koop aanbied.

Van bo by die uitkykpunt by Kaapsehoop kan jy op ’n helder dag ’n paar bekende Laeveld-landmerke sien: Legogote naby Witrivier, Pretoriuskop in die Wildtuin, die oeroue Makhonjwa-berge wat Barberton omsoom en dalk, dalk in die verte: die kuslyn van Mosambiek. Op ’n helder dag is die uitsig van hier enige tyd net so skouspelagtig as die uitsig by God’s Window.

Wanneer ’n mens dan weer na onder stap, al tussendeur die interessante en ruwe klipformasies wat met die Skepping hier neergestrooi is, lê die dorpie, met sy prentjiemooi huise en bekoorlike tuintjies, rustig en wag. Iewers sal jy wel ’n perd hoor runnik: Welkom in Kaapsehoop!