Stomende liefde in predikantsvrou se samesweringsroman!

René van Zyl Foto: Carla van der Spuy

Deur Carla van der Spuy

René van Zyl se nuwe boek Die Alfadokument, gaan ’n paar wenkbroue laat lig.

As “mevrou Dominee” voel sy hartstogtelik oor kinderevangelie en om interkerklike Christelike musiekblyspele met ’n moderne kinkel te skryf en op die planke te bring. Sy het ook die interaktiewe kinderkerkkurrikulum, Bybelboekwurm opgestel wat kinders die Bybel van voor tot agter leer ken met behulp van speletjies en aktiwiteite.

René, wat op ’n plaas in die skaduwee van die Magaliesberge in Hartbeespoort woon, is die ma van twee volwasse dogters en ’n erg breingestremde seun.

Na ses vuurwarm liefdesverhale wat onder die Romanza-vaandel van Lapa-uitgewers uitgegee is, gaan Die Alfadokument, ’n splinternuwe genre van Lapa, onder die vaandel Wênkbrou hierdie maand op die rakke wees.

René (oudjoernalis en blogger) word as besonder kreatief, waaghalsig en ’n buite-die-boks denker beskou. 

Nie dat haar oopkopman Ds. Anton van Zyl, leraar van die Kuierkerk in Hartbeespoort, enige probleme met haar skryfwerk het nie. Inteendeel. Anton is heel rustig oor haar boekmanewales.

Sy sê: “Ons leef in verligte tye. Die gemeente se reaksie – veral onder die lesers – was nog net positief. Seks maak net so ’n deel van ons lewe uit soos eet, werk en televisie kyk. Buitendien bevat die Bybel ook romantiese stories en selfs seksuele beskrywings – kyk maar net na Hooglied.”

“Anton is superslim met ses grade, onder meer ’n paar M-grade in Ingenieurswese, Teologie en Berading. Ek gebruik hom soms as my kits-google. Hy sal my byvoorbeeld kan vertel hoe lank ’n lyk sal neem om te ontbind of wat gebeur as ’n vliegtuig val. Nie dat ek altyd sulke wrede, tegniese vrae vra nie. Soms het dit net met Bybelse of Antieke Geskiedenis te doen.”

René is ’n vasbyter en deurdrukker. Sy het Die Alfadokument (aanvanklik getiteld Vuurdraak) reeds ses jaar gelede tussen haar kinders se skoolwerk en haar kerkbedrywighede deur klaar geskryf waarna dit aanvanklik deur ’n hele paar uitgewers afgekeur is.

“Die genre was nou nie juis dit waaraan mense in Afrikaans gewoond was nie. Dit was ook my eerste groot boek na Wee Monk’s Tale, ’n Middeleeuse aksie-avontuurverhaal vir tieners wat ek uiteindelik self gepubliseer het.”

Sy het egter nie soos ’n verontwaardigde diva opgetree elke keer as ’n manuskrip die deur gewys is nie. Ja, erken sy, dit is erg as dit met “’n sensitiewe en emosionele siel” soos sy gebeur, maar sy het toe maar haar manuskrip ewe gedweë tot vervelens toe oorgeskryf en drasties verkort.

“Geen skrywer se werk is so goed dat dit perfek is nie. Herskryf is die beste leerskool. Maar dis harde werk. Gelukkig het die Here vasbyt soos dié van ’n vegbulterriër in my ingebou – iets wat ek nodig gehad het met ’n uitdagende en soms traumatiese lewe en huwelik met ons breingestremde seun. As ek klou, dan verdomp klou ek. Ek glo ek het hierdie karaktertrekke aan my twee dogters oorgedra want hulle doen dieselfde – boonop met hul pa se brein!

“Ek het uit elke uitgewer se verslag geleer totdat Lapa se alternatiewe genre-afdeling Wênkbrou dit middel vanjaar aanvaar het. Die Alfadokument val nie in die gewone misdaadroman se genre nie. Daar is talle kinkels en aksie en die verhaal beskik veral oor ’n dinamiese vroulike protagonis wat vir niks stuit nie.”

“Die samesweringsriller (of paranoïese riller) is ’n subgenre van rillerfiksie. Die protagoniste is dikwels joernaliste of amateur-ondersoekers wat heel toevallig aan ’n klein draadjie trek wat ’n groot sameswering onthul. Dis ’n soort moraliteitspel.”

Die gerespekteerde boekresensent Jonathan Amid, beskryf Die Alfadokument as “’n uiters aangename verrassing wat moontlik een van 2019 se groot gunstelinge kan wees” met “flink aksie- en stomende sekstonele, interessante ekspedisies na verskeie historiese en eksotiese landskappe en tonele, ’n goed georkestreerde intrige- en spanningslyn en ’n ewig-woedende stryd tussen die goeie en die bose.”

Van die verkragtingstonele in Die Alfadokument kan dalk as omstrede beskou word. Hoe op aarde het sy daardie navorsing gedoen?

“Ek is ’n rolprentslaaf met ’n voorkeur vir fantasie, aksie en misdaad. Ek is ’n Game of Thrones en Vikings-geesdriftige. Min dinge word daarin aan die verbeelding oorgelaat en ek het gelukkig ’n kreatiewe brein – ek kan my in situasies indink en hoe die betrokke persoon moes voel.”

Hoe kry sy dit reg om haar Romanzas wat op die breë mark, veral vir vroue wat weer iets van die wonder van die liefde wil beleef, so blitsig uit te ryg?

“Daar woel soveel idees vir stories in my kop rond dat ek snags wakker lê, dus moet ek heeltyd skryf om die karakters en stories lewe te gee, anders gaan ek mal word. Die Romanzas gaan oor gewone mense met gewone lewens en probleme. Baie van die idees kom uit my eie lewe en ervarings.”

René glo sulke verhale is nodig om mense vir ’n kort rukkie na ’n ander, vrolike dimensie te verplaas en die hede te vergeet.

“Ek het besluit om die Romanza-genre aan te pak nadat ek die ATKV en Lapa se skryfskool aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom bygewoon het. Dit het navorsing, kophou en tyd geverg.”

In haar min vrye tyd reis sy graag in Europa en neem duisende foto’s net waar sy kan. Sy het ’n besondere liefde vir Ierland soos ook in van haar boeke duidelik na vore kom.

In een van haar Romanzas is die held natuurlik ’n knieknakker Ier. Wee Monk’s Tale, the Secret of Immortality handel oor twee Ierse tieners en ’n sigeunermeisie wat in die Middeleeue met ’n kosbare Altaarbybel van Vikings vlug, wat die lewe vir hulle moeilik gemaak het.

Vanwaar die liefde vir Ierland? (Sy lyk self nogal Iers met haar diepseeblou oë en donker hare.)

“Ek weet nie! Ek is lief vir die groen en die blou van die land. Die reën, heerlike kos en gesellige mense – veral die koel weer, want ek is ’n warm mens! Ek weet nie hoekom ek so ’n liefde het vir ou kastele en kerkies nie. Dit doen dinge vir my siel. Ek sal daar kan bly.”

Sy hou daarvan om ’n bietjie pret en humor in ’n storie te verweef as teenvoeter teen ’n stresvolle wêreld.

Daarom bly haar slagspreuk: “Inlig, opvoed en vermaak.”