Wenkbrou – hulle skrik vir niks!

Johan Jack Smith, opdraggewende redakteur van Wenkbrou.

Deur Carla van der Spuy

Hulle is aweregs, soms omstrede, ietwat aspris, “kwaadklitsend”, nie noodwendig skokkend nie maar met oorgenoeg gravitas.

Dis Wenkbrou, die nuwe druknaam van Lapa-uitgewers wat vroeër vanjaar gestig is en reeds ’n beroering onder lesers veroorsaak het. Daardie manuskrip wat nie genregebonde is nie, word dalk net deur hierdie nuwe druknaam wat hom nie in ’n boksie laat prop nie, opgeraap.

Johan Jack Smith, opdraggewende redakteur by Wenkbrou, asook redakteur van die ATKV-tydskrif Taalgenoot, sê daar is soortgelyke drukname oorsee, maar hy neem aan dat die plaaslike uitgewersbedryf dalk ’n bietjie skrikkerig was vir manuskripte wat buite genres val. Daar is egter heelwat manuskripte wat afgekeur word omdat die fokus van die betrokke uitgewer daardie spesifieke jaar anders is.

“Mens kan hulle seker ook nie kwalik neem nie, die uitgewersbedryf is baie mededingend. Maar die terugvoer wat ons kry, is oor die algemeen positief.”

Hy gesels oor die feit dat Wenkbrou al vir goeie skrywers wat nie heeltemal konvensioneel is nie, hoop gegee het – ’n kans om ’n deurbraak te maak. Maar ’n soort “stortingsterrein” vir manuskripte wat elders afgekeur is, is dit allermins.

“Baie van die Romanza-skrywers het dalk manuskripte wat rondlê wat moontlik heel anders is as wat hulle gewoonlik skryf. Ons wil vir hulle en alle ander skrywers daardie platform gee. Net omdat ’n boek nie in ’n genre pas nie, beteken nie dat dit swak is nie. Ek dink dis juis die oorspronklike, slim, juwele wat tussen die genres lê,” sê Johan.

“Om ’n opdraggewende redakteur by Wenkbrou te wees, is ’n uitdaging maar ek kry uiteindelik die geleentheid om te publiseer waarvan ek hou, amper soos die gesegde wat lui dat jy moet skryf wat jy self wil lees,” vertel hy.

Wenkbrou se eerste publikasie was Smit Motors van Reney Warrington wat haar tweede boek na Oktober was.

“Afgesien van enkele eksplisiete sekstonele is dit nie noodwendig skokkend nie, maar dis ’n fantastiese storie wat nie noodwendig in ’n genre inpas nie.”

Op ’n vraag wat hy as “sensitiewe temas” beskou, sê Johan hy wonder soms of hulle die druknaam “Wenkbrou” moes gebruik het.

“Dit gaan eerder vir my oor stories wat buite die genre val en nie soseer oor tekste wat wenkbroue laat lig nie. Nie dat ons van omstredenheid wegskram nie. Solank die boek goed is. Dis Lapa se manier om veelsydiger te wees sonder om die huidige genres af te water.

“En as jy mooi daaraan dink – wat is deesdae nog ‘sensitief’? En wat vir my sensitief is, is nie noodwendig vir die volgende ou sensitief nie. Ek voel daar is al oor alles geskryf. Die vlakke daarvan verskil net.” 

Wat die manuskripte betref wat hulle ontvang het, vertel hy alles is tot dusver gekeur, nog niks was opdraggewend nie.

“Ek hoop namate ons groei sal ons nog daardie roete volg. Halley se komeet, asook Sypaadjie is beide deur debuutskrywers geskryf. Aanstaande jaar word meer manuskripte deur debuutskrywers gepubliseer.

“Ek glo as die gehalte hoog is, sal ons ook prosa, poësie en kortverhale oorweeg, maar tans is ons fokus nog op romans.”

Oor die feit dat terugvoer van resensente oor hul titels goed is maar dit uiteindelik die leser is wat bepaal of ’n boek verkoop of nie, sê hy: “Ek stem volkome saam. Dis tog die lesers wat die boek koop. Baie resensente probeer hul stempel met resensies afdruk en te veel van hul eie stem weergee. ’n Leser wil net weet of hy die boek moet koop en of hy dit gaan geniet.

“Die blad Lekkerlees Boekrak op Facebook is ’n baie goeie aanduiding of lesers ’n boek geniet het of nie. ’n Leser het onlangs na aanleiding van ’n vraag oor watter boek vanjaar die belangrikste was, geskryf dat Wenkbrou as druknaam vir haar uitgestaan het. Dit was volgens haar nodig om ’n druknaam te begin wat boeke van hoogstaande gehalte publiseer wat ander uitgewers bang is om te publiseer.”

Johan meen dat as mens so na sosialemediabladsye se aanhangers kyk, is die deursnitleser in Suid-Afrika, ongeag van die genre, ’n bietjie ouer, naamlik 50-plussers.

Wat die toekoms betref, is daar reeds ’n roman vir elke maand van 2020 beplan deur van debuutskrywers tot diegene wat buite hul genres skryf, asook gevestigde skrywers.

Hy benadruk dit dat hulle liewer minder boeke in ’n jaar gaan uitgee en die gehalte hoog wil hou, eerder as ’n klomp gemiddelde boeke.

En hoe behartig Johan twee veeleisende beroepe?

“Ek probeer maar, maar dit gaan rof. Ek gaan dinge aanstaande jaar ’n bietjie rustiger neem, alhoewel ek nog my M-graad moet voltooi.”

Hoe dink Johan gaan ons jong mense aan die lees kry?

“Sjoe, goeie vraag. Ek dink wel ouens soos Fanie Viljoen maak die opsies darem meer. Ek het in ’n stadium amper glad nie begin Afrikaans lees nie as gevolg van die snert wat ons op hoërskool moes lees. Of nie snert nie, net ‘uncool’ leesstof.”