Hierdie boek bied insig en respek vir elke koeksoert

Deur Marianda Schlebusch

Koeke en terte

Outeur: Susan Coetzer

Uitgewer: Lux Verbi

Skoukoeke, tipsyterte, boerbeskuit en platgevalde koeke … die indeks klink soos ’n volledige bakboek. En as jy begin lees oor die deeg, beslag en mengsels, kry jy nuwe insig en respek vir elke koeksoort.

In haar boek, Koeke en terte maak Susan Coetzer raakvat opsommings van die algemene vrou. Elkeen van ons is so verskillend en uniek soos die verskeidenheid in die tuisnywerheid. Die boek is méér as die ou grappie van degies – want elkeen het ruimte vir groei en ontwikkeling. Dit is geskryf uit ondervinding, waarneming en insig, met humor en deernis verduidelik Susan Coetzer elke gebak wat in God se tuisnywerheid verskyn. Vroue, gemaak na Sy hand en Sy beeld. Elkeen verskillend.

Hier word prakties na elke “koek en tert” gekyk uit ’n Bybelse oogpunt. Daar is vrae en stellings om elkeen beter te leer ken, Bybelstukkies om te lees asook stilwordtyd voor God. Die boek is ideaal vir die begin van die jaar, om in groepe te behandel en elkeen se persoonlikheid beter te verstaan. Daar is oordenkings en teksverse vir die medereisigers, want dit gee aan elkeen die geleentheid om in die ander persoon se skoene te loop vir die spreekwoordelike myl, want as dit jou seermaak – maak dit tien teen een die ander een ook seer.

Gebruik hierdie boek om naasteliefde, deernis en aanvaarding te kweek, vir jouself maar ook die groep waar jy inskakel.

Wees dapper, wees sterk, wees vasberade en doelgerig om jou volle potensiaal in God te verwesenlik!