Isabel Groesbeek
Moontlik is dit ’n reaksie teen ankerloosheid van die modern gejaagde lewe of net om nuuskierigheid te bevredig, of ’n in-diepte wetenskaplike studie om bloedlyne te bewys of van belang om erflike opvolging en eiendomsreg te bewys – feit is dat die belangstelling in genealogie wêreldwyd groei en dat die ‘gogga’ jou een of ander tyd ‘byt’.
Vir party mense begin dit deur ’n kind se skooltaak of ’n tiener wat vir oupa oor sy jong dae uitvra, of ander mense wil uitvind wat die oorsprong van hul familienaam is t.w.v. ’n beplande oorsese reis. Later groei dit tot ’n opwindende tydverdryf wat dikwels tot ’n familieprojek ontwikkel met die eindresultaat in sommige gevalle ’n uitgebreide wetenskaplike navorsingspublikasie oor hul familieherkoms.
Die meeste mense wat die spoor van hul familieherkoms wil volg, wil dadelik weet uit watter stamland hul STAMVADER(S) na Suid-Afrika gekom het. Die ideale manier om die studie aan te pak, bly egter om by ’n bekende individu te begin en dan geslag per geslag die familie terug te spoor (behalwe as jy ’n geslagsregister van alle vangenote wil opstel).
In die verlede was daar meer gehou by die vernoemingstradisie (bv. oudste seun vernoem na oupa aan vaderskant en tweede seun na oupa aan moederskant, ens.; oudste dogter na ouma aan moederskant en tweede dogter na ouma aan vaderskant, ens.). Aangesien die tradisie nie meer so algemeen gehandhaaf word nie, bemoeilik dit navorsing. Dit word noodsaaklik dat families hul persoonlike geskiedenis so veel as moontlik met hul kinders deel en deur familie self aangeteken word. Die feit dat baie Suid-Afrikaners ook emigreer en families meer migreer, veroorsaak dat rekords meer verspreid is en nie altyd maklik om op te spoor nie. Raak dus betrokke by die opspoor en korrekte aanteken van jou eie stamlyn(e) en familiegeskiedenis.
Hier is ’n aantal navorsingswenke:
Lesers word aangemoedig om die FAK-Genealogielessenaar te kontak vir hulp met die opspoor van jul ‘legkaartstukke’ t.w.v. aantekening en bewaring van jul persoonlike familiestamlyne, stories en geskiedenis ter aanvulling tot ’n breëre kulturele erfenis.
Sluit gerus by die FAK aan as vriend vir voordele m.b.t. genealogiese dienste. Klik hier
Isabel is beskikbaar vir ’n konsultasie en bied die beginnerkursus ‘Van waar Gehasi?’ op navraag (tans ook op digitale platform) aan.
Die jaarlikse GENEALOGIE- & FAMILIE-ERFENISFEES, nou onder die vaandel van die FAK, is ’n uitstekende byeenkoms om jou vrae aan ’n verskeidenheid van genealogiese navorsers te kom stel. Omkring 10 Oktober 2020 op jou kalender en hou die sosiale media dop vir nuus in dié verband.