(A-B-familiename)
Saamgestel deur Isabel Groesbeek
Die aanvanklike bedoeling van die VOC om net ’n verversingstasie te vestig, het vinnig gegroei tot die vestiging van ’n permanente nedersetting.
Die eerste nedersetting van boere aan die Liesbeek het vroeg in 1657 plaasgevind toe grond aan nege Vryburgers wat in twee groepe verdeel is, gegee is.
Onder die eerste “Vryburgers” van 1657 was daar volgens Moritz 32 Nederlanders, 15 Duitsers, 3 Skandinawiërs, 1 Engelsman, 1 Fransman; tussen 1657 en 1662 van 193 “Vryburgers” was 128 Nederlanders, 53 Duitsers, 7 Skandinawiërs, 4 Engelse en 1 Fransman.
Hier is ’n kort opsomming van sommige van die oudste stamvaders uit die onderskeie stamlande wat aangebly en steeds nasate in ons land het.
APPEL, Jurriaan Jansz van Amsterdam, Nederland, tree in 1658 uit diens van die VOC en word Vryburger. Hy en Jannetje FERDINANDUS het twee seuns gehad met net Ferdinandus (geb. 1665) wat nasate het.
BASSON, Arnoldus Willemzn akomstig van Wesel, vandag in Duitsland wat destyds tussen regerings gewissel het, word reeds in die lidmaatregister van die Kaapse kerk in 1665 vermeld en in die lys van ‘Vryburgers’ van 1666/7. Hy tree te Kaap op 15.12.1669 (p.75) in die huwelik met Angela van Bengale en sewe kinders waaronder seuns Willem (gedoop 1670), Johannes (gedoop 1675) en Michiel (gedoop 1679) met ’n BASSON-nageslag.
DE BEER Jan Dirkse gebore Rynse Veen by Utrecht en afkomstig van dist. Utrecht, Nederland arriveer 1675 en tree in die Kaap in Maart 1675 in die huwelik met Anna Van VELDHUYZEN van Woerden. Agt kinders is uit die huwelik gebore o.a. ’n seun wat hul in Kaap ‘Dirk Africanus’ gedoop het, maar geen nageslag is van hom aangeteken nie. Lees verder in D.W. & Jaleen De BEER se publikasie, Die De Beer-familie: drie eeue in Suid-Afrika.
BECKER/BEKKER Peter Een van die BEKKER/BECKER-stamvaders, ook Pieter, was oorspronklik afkomstig van Königsberg, Oos-Pruise. Hy vertrek op 31.12.1694 as soldaat in diens van VOC per fluitskip Voetboog vanaf die Nederlandse Noordsee-eiland en ankerplek, Texel na die Kaap en arriveer op 16.4.1695 in Tafelbaai, eers as kneg uitgehuur, maar word in 1697 ’n Vryburger en boer o.a. in Drakenstein. Hy en die dogter van die De CLERCQ/De KLERK-stammoeder, Jannetje/Jeanne, ook GOUS/GOUWS-stammoeder, het sewe kinders gehad o.a. twee seuns, Stephanus (gedoop te Stellenbosch op 16.08.1705, p.20) & Marthinus (gedoop te Stellenbosch 14.12.1710, p.61) met nageslag. Sy veelbesproke lewe en verbanning na o.a. Mauritius en ook later Robbeneiland word in J.L. BUYS se manuskrip, Pieter Becker (’n stamvader) – sy misdade en verhore (1992) bespreek.
BERGH Olof afkomstig van Gothenburg, Swede was ’n lid van die Politieke Raad en het as VOC-amptenaar o.a. verkenningstog in 1682/83 na Namakwaland gelei. Hy en Anna de KONING (dogter van Angela van Bengale) het elf kinders gehad in die periode 1679 tot 1702, o.a. drie seuns, Simon Petrus, Marthinus en Albertus uit wie die BERGH-nageslag gebore is.
BEZUIDENHOUT Wynand Leenderts gebore in Nederland ongeveer 1639 is reeds op 23.09.1668 in die Kaap met Jannetje GERRITS getroud en was die baastuinier in die Kaap. Slegs hul seun Wynand (gebore 1674) het ’n nageslag gehad.
BOCK Christiaan, een van die BOCK-stamvaders, ook Christiaan BOK, was afkomstig van Wolfenbüttel en dien in 1696 as VOC-soldaat. Hy tree op 5.02.1713 te Kaap (p.1) in die huwelik met Anna van Bengale ook Anna Groothenning na sy as volwassene te Kaap op 1.01.1713 gedoop is. Hul oudste seun, Michiel het BOCK/BOK-nasate.
BOSCH Dirk, een van die BOSCH-stamvaders, was afkomstig van Amsterdam, Nederland en het ongeveer 1663 na die Kaap gekom, waar hy op 29.04.1668 met Geertruyd MEINTJES in die huwelik bevestig is. Hul het egter net twee dogters gehad.
Steven Jansz as BOTMA/BOTHMA-stamvader was afkomstig van Wageningen, Nederland en ontvang in 1657 ’n vrybrief as een van die eerste groep Vryburgers genaamd, ‘De Hollantse Thuyn of Stevens Colonie’. Die naam van sy eerste eggenote wat in 1700 oorlede is, is onbekend en hul het drie kinders gehad. Uit sy tweede verbintenis en wel met Hendrika HENDRIKS is twee seuns gebore, maar net hul tweede seun, Johannes/Jan BOTMA het BOTMA/BOTHMA-nasate.
VAN DER BIJL/BYL Gerhard Pieterzoon is ongeveer 1640 in Overschie, Nederland gebore en hy arriveer in 1667/68 sonder sy vrou en kinders in die Kaap. Hy rig na sy aankoms ’n versoek aan die regering dat sy vrou, Sophia TEMPEL en kind ook by hom kan aansluit. Hy dien in die Kaapse kerkraad. Verhuis later en boer op sy plaas Vredenburg, dist. Stellenbosch, waar hy ook as Heemraad in die distrik en as kerkraadslid dien. Hul enigste kind Pieter het nasate waaronder o.a. Johannes Van der BIJL (1900-1977) wat o.a. die genealogiese navorser en samesteller van die publikasies, Die familie Roux (RGN, 1978) & die Geslagregister Van der BIJL, 1667-1967 (1968) is. Lg. het ook meegewerk aan die publikasie oor die Beyers-familie.
BRAND Burchard, een van die stamvaders van die BRAND-vangenote, arriveer ongeveer 1686 en was afkomstig van Hamburg, Duitsland. Burger Stellenbosch en later wynhandelaar in Kaap. Hy en sy eggenote Catharina HARTZ het net een seun, Burchard Heinrich BRAND wat met ’n kleindogter van die Van der BIJL/BYL-stamouers in die huwelik getree het.
BRITS Hans Jacob, arriveer in 1682 as VOC-soldaat en afkomstig van Stein, Duitsland. Burger 1684. Uit sy verbintenis met Dina OLIVIER is elf kinders tussen 1692 en 1717 gebore met o.a. drie seuns, Cornelis, Rudolph & Ockert uit wie BRITS/BRITZ-nasate gebore is. Lees verder op www.stamouers.com oor herkoms en aankoms van dié BRITS-stamvader.
De BRUIN/BRUYN Theunis was een van die DE BRUYN-stamvaders. Hy het waarskynlik aan die einde van Februarie 1692 in Amsterdam in diens van die Kompanjie getree en moontlik in die winter van 1692 in die Kaap aangekom. Vryburger teen einde van 1694. Koop plaas Bloemkoolfontein in Nov. 1694 (in 21ste eeu die grond waarop die plaas Fairview is), dist. Drakenstein en op 28.07.1701 die plaas Vrymansfontein en verkoop dit weer in Julie 1705. Hy koop die plaas Paarl Diamant in teenswoordige Noord-Agter Paarl op 31.7.1706, maar verkoop die plaas en twee van sy slawe op 24.7.1709. Van 1702 tot 1709 was hy ’n sersant in die infanterie van Drakenstein. Theuns verlaat die Drakenstein, tree op 17.05.1711 in die huwelik en op 27.10.1711 het hy die plaas Vredenburg naby die teenswoordige Firgrove, dist. Stellenbosch vanuit die boedel van Johannes Bockelenberg gekoop. Op 19.4.1715 het hy egter die plaas Vredenburg aan sy swaer, Hans Jacob CONTERMANN (eggenoot van Justina se oudste suster, Anna Catharina CLEEF), verkoop. Theunis het weer na dist. Drakenstein verhuis en was ’n lid van die burgermag van Drakenstein van Okt. 1716 tot Okt. 1722. Die De Bruyns het waarskynlik van 1716 tot 1722 tussen Stellenbosch en omgewing, en Drakenstein rondgetrek. Op 7.9.1726 het hy ’n plaas Uitkyk, dist. Stellenbosch van Abraham Cloete gekoop. Die plaas is vanuit sy boedel aan Jan Engelbrecht verkoop. Theunis is nie lank na sy vrou, Justina CLEEF (1697-1732), tussen 23.12.1732 en 30.3.1733 oorlede nie en laat twee minderjarige kinders (`b4` Pieter & `b5` Hendrik) agter wat onder die voogdyskap van die Weesheer geplaas is en uit wie die De BRUIN/BRUYN/Du BRUYN-nasate gebore is. Die stamvader is waarskynlik in die ou kerkhof rondom die Stellenbosse Moederkerk begrawe. (Lees verder in: DE BRUYN G.F.C.: Geslagregister De Bruyn – De Bruin – Du Bruyn (Pretoria, RGN/HSRC, 1986.)
BRUERE/BRUWER Estienne Stamvader van die BRUWER-familie, Hugenoot afkomstig van Blois, geleë aan die Loire tussen Orleans en Tours. Hy het op 23-jarige ouderdom per Voorschoten van Delfshaven (Rotterdam) saam met die eerste groep Franse vlugtelinge na die Kaap vertrek. Op 13.4.1688 het hulle in Saldanhabaai aangekom van waar die Jupiter hulle verder na die Kaap geneem het en waar hul toe tussen 26/28.04.1688 in Tafelbaai na die ander skip met vlugtelinge, die Oosterland, in Tafelbaai aangekom het. Hy was ’n wamaker van beroep. Die plaas Ruste-en-werk in Dal Josaphat is op 28.8.1694 op sy naam getransporteer. In 1712 koop hy die plaas De Veerkeyker in die Land van Waveren, suid van Slangenhoek. Familienaam aanvanklik as “Bruell(e) en Bruwel” geskryf en later as “Bruwer”. Estienne is ook na verwys as “Steven”. Estienne het geen kinders uit sy eerste huwelik met Esther De RUELLE nie en is weer in 1702 met Suzanne, dogter van Jean DU PUYS/PUIS & Anne MARTIN, getroud. Uit sy tweede huwelik is sewe kinders tussen 1705 en 1722 gebore met net die jongste seun Johannes met BRUWER-nasate. Hul dogters is o.a. die voormoeders deur die dogterlyne van Scheepers-, Senekal-, Calitz-, Strydom-, Grobler-, Grové-, Coetzee-, Schutte- en Bekker-nasate. (Lees verder in o.a. WILLIAMS F.M. (red. L. Zöllner): Geslagsregister van die familie Bruwer (Pretoria, RGN, 1979); LE ROUX J.G. (red. RTJ Lombard): Hugenotebloed in ons are (RGN, Pretoria, 1988), asook die Hugenote Vereniging van Suid-Afrika Bulletin 48 (2011).
BURCHERDT/BURGER Berndt gebore te Lübeck ongeveer 1668 en oorlede te Drakenstein ongeveer 1705 is die stamvader van die BURGER-familie. Vyf kinders, vier seuns en een dogter is uit sy huwelik met die tweede oudste dogter van die Van der MERWE-stamouers, Willem Schalk Van der MERWE & Elsje CLOETE gebore. Al vier seuns het BURGER-nasate en die dogter Helena (gedoop te Drakenstein 8.07.1701; p.16) het o.a. Olivier-, Schoeman-, Bekker-, Lategan-, Fourie- en Du Plessis-nasate. Die stamvader was ’n smid en dien ook as Heemraad te Drakenstein. Spelvariasies t.o.v. stamvader se familienaam: Burchert, Burghert, Burghart, Burgaart, Borhert, Burgert en later Burger.
Algemene bronne:
HEESE J.A .& R.T.J. LOMBARD (red.): Suid-Afrikaanse Geslagregisters, 1 (A-C). Pretoria, RGN, 1985.
HOGE J.: Pernalia of the Germans at the Cape, 1652-1806. In: Archives Year Book for South African History, 1946. Cape Town, 1946.
MALHERBE D.F. du Toit: Driehonderd jaar nasiebou: stamouers van die Afrikanervolk. Tegniek Stellenbosch, 1959.
MORITZ E.: Die Deutsche Einwanderung in die Niederlandsische Kapkolonie, 1652-1806. Ludwigsburg, 1943.
Kerkregisters.
Internet: TANAP-, VOC- en Stamouers-webblad.
As jy dalk vorige Facebook-plasings gemis het, neem kennis dat daar reeds plasings oor die volgende stamvaders met medewerking van FAK-vriende geplaas is:
Van AARDE, Van AARDT, ALBERTYN, AURET, BADENHORST, BAARTMAN/BARTMAN(N), BEYERS, BOOYSE(N), BOSMAN, BOTHA, BUYS & DIPPENAAR.
Kontak gerus vir Isabel deur www.genealogielessenaar.com as jy ’n bydrae oor ’n spesifieke stamvader wil lewer of vir plasing wil aanvra.