Somtotaal – dit kan tot “leesbabelas” lei!

Deur Carla van der Spuy

Titel: Somtotaal (fiksie)

Skrywer: Anchien Troskie

Uitgewer: Human & Rosseau (druknaam NB-Uitgewers)

Hierdie roman begin hom gedurende die apartheidsjare afspeel wanneer Ester Labuschagne en Nonthando Majolo saam op ’n afgeleë plaas in die Oos-Kaap grootword. Hulle was, soos so dikwels op plase tussen wit en swart in daardie era die geval was, as kinders boesemvriendinne. Vriendskappe is gesmee wat nie vanselfsprekend tot in volwasse jare voortgeduur het nie.

Hierdie hegte “susterskap” is egter deur verraad eerder as kleurkwessies gekelder. As Nonthando en Ester se kinders, Dewald en Mila volwassenes is, kom spook die verlede by hulle. Die verhaal gaan oor die nadraai en voortslepende bagasie wat na 1994 deel van ons geskiedenis geword het, maar ook oor diegene wat kleurblind was teen ’n agtergrond waar witmense geboer en swartmense op die landerye en in kombuise gewerk het.

Troskie wat veral bekendheid met haar topverkoperboek Dis ek, Anna verwerf het,

skrik nie vir swaar onderwerpe soos verlies, depressie, skuldgevoelens wat diep weggebêre word en selfdood nie. Sy klim letterlik in die kop van ’n depressielyer en gee vir ’n buitestaander of iemand wat nie deur die “swart hond” geteister word nie, ’n blik op hoe dit moet wees. Sy weet hoe om die donker kant van die mens se psige te ondersoek.

Maar uiteindelik is daar ook verlossing en die liefde wat seëvier – maar sonder stroperigheid of sentiment.

Dis ’n boeiende verhaal wat jou tot aan die einde aan die raai hou. Soms herlees mens sekere sinsnedes wat so goed aanmekaargesit is, dat jy dit wil onthou.

Dié storie word vanuit die oogpunt van ’n kind, ’n tiener, ’n jong volwassene en later ’n middeljarige vertel.

Dit hou jou in so ’n mate gevange dat jy nie kan besluit of jy dit in een deurnagsessie of versigtig proe-proe wil klaarlees nie. En dit hou jou tot aan die einde aan die raai.

Troskie se skryfstyl is gemaklik en toeganklik. Haar gebruik van sinne wat soms uit een enkele woord bestaan, is treffend.

Ek hou van die vergelykings wat sy gebruik soos dié oor die Russiese Babushka-poppies wat soos “’n geheim binne ’n geheim” in mekaar pas.

Sy skryf oor die rouproses: “Haar pa het langer gewerk en as hy ingekom het was dit net sy lyf by die agterdeur. Sy kop was nie daar nie.” En oor ’n kind se eensaamheid: “Niemand sorg dat Ester bad nie. Kyk of sy agtuur in die bed is nie. Ester probeer so min as moontlik in haar ouers se geselskap te wees omdat hul stiltes en fluisteringe haar banger maak as vir die donker.”

En dan die besef: ”Mens kan nie aldag in jou kop leef nie. Ons almal het iets of iemand nodig.”

Op ’n ligter trant gee sy ’n raak beskrywing van ’n skreeuende baba met “’n gesig die kleur van ryp moerbeie.”

Rassekwessies word deurentyd aangespreek. Ondanks die feit dat haar hartsvriendin swart is, bly die vooroordeel en wette van daardie tyd – “Sy kan nie mooier as ek wees nie want sy is swart. Sy kan nie slimmer as ek wees nie want sy is swart.” Hierdie emosies word afgewissel met selfondersoek wat aan selfkastyding grens.

Sy slaag daarin om die spanningslyn deurentyd te bewaar terwyl die leser om die beurt verontwaardiging, moedeloosheid, hoop, woede en verligting beleef.

Somtotaal se storielyn en karakters gaan jou lank nadat jy die boek toegeklap het, bybly. Jy sal dele daarvan weer wil lees. En dit kan tot ’n leesbabelas lei.

  • Somtotaal,  is Anchien Troskie se eerste roman in amper vyf jaar.Dis ek, Anna het onder Troskie se skuilnaam, Elbie Lötter, verskyn in 2004. Dié boek was in 2005 ontvanger van die Booksellers’ Choice-toekenning. Daar is reeds meer as 75 000 eksemplare van dié boek in Afrikaans verkoop en meer as 20 000 in Engels (It’s me, Anna). Anchien woon op ’n plaas in die Oos-Kaap.