Nou kan jy in Afrikaans jou woorde speel-speel tel

’n Hedendaagse Afrikaanse taalpionier

Só het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Sanet du Toit, ’n ma van Monumentpark in Pretoria beskryf. Hy het dié eer aan haar toegeskryf vir haar splinternuwe Afrikaanse woordbouspeletjie, Tel jou woorde.

Tel jou woorde is ’n unieke Afrikaanse weergawe van ’n woordbouspel vir oud en jonk. Met 117 teëltjies en ’n bord van 17X17 blokkies is elke spel anders en van voor af ’n uitdaging. Die spel is ontwerp om 1-6 spelers te akkommodeer – ja, jy kan selfs net teen jouself speel! Elke speler kry ’n beurt om ’n woord te bou met die sewe teëltjies op sy rakkie. Hy/sy probeer so veel moontlik punte bymekaar maak deur die meeste te maak van die teëltjies en die ligging van die bonusblokkies op die bord. Die speler met die meeste punte, kraai koning!

Tel jou woorde is ‘n splinternuwe Afrikaanse woordbou speletjie
Trots Afrikaans! Die splinternuwe Afrikaanse woordbouspeletetjie, Tel jou woorde
Jy kan nou speel-speel in Afrikaans woorde bou met Tel jou woorde
Tel jou woorde is ‘n splinternuwe Afrikaanse woordbouspeletjie

Die eerste van ’n beperkte hoeveelheid Grendeluitgawe van dié nuwe bordspeletjie is onlangs aan Langner deur Du Toit by die FAK se Afrikaanse Liedjietuin oorhandig.

Andre Steyn, bemarkingshoof van Spoetnik, Sanet du Toit, uitvinder en skepper van Tel jou woorde, waar die splinternuwe Afrikaanse woordbouspeletjie aan dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, in die FAK se Afrikaanse Liedjietuin oorhandig is

“Sanet (du Toit) is ’n taalpionier. Dis wonderlik en presies wat ons vandag nodig het. Scrabble het in 1995 laas in Afrikaans verskyn. Sy het as ma nou Afrikaans speel-speel vir almal lekker gemaak,” sê Langner.

Du Toit vertel sy het vandat sy vir haar eie kinders, nou onderskeidelik 18, 16 en 10 jaar oud, begin voorlees het, het sy begin soek na ’n Afrikaanse woordbouspeletjie. Sy self het met woordbouspeletjies grootgeword en toe sy en haar man, Callie, mekaar 20 jaar gelede leer ken het, het sy ook saam met hom en haar skoonouers op ’n plaas in die Kalahari vir ure lank woordbouspeletjies gespeel.

Sy het telkens met leë hande huiswaarts gekeer nadat sy die winkels vir só speletjie gefynkam het. Toe het sy vanjaar besluit om haar eie speletjie met handgemaakte teëltjies en ’n speelbord te maak. Hulle het as gesin met Tel jou woorde – laat elke letter tel vorendag gekom.

“Tel jou woorde kan deur van sewe- tot 107-jariges gespeel word.” 

Haar pad het toe met Spoetnik-bordspeletjies, ’n vervaardiger en verspreider van Suid-Afrikaanse bordspeletjies sedert 2015, gekruis en ’n vennootskap is gesluit.

André Steyn, bemarkingshoof van Spoetnik, sê: “Ons het na herhaalde navrae van die publiek en kleinhandelaars besef daar is ’n behoefte aan ’n Afrikaanse woordbouspeletjie. Gevolglik het ons met Sanet en Callie du Toit geskakel, wat heelwat kennis oor woordspelbordspeletjies het en sommer hul eie teëltjies vir woordbouspeletjies tuis vervaardig het. Aangesien ons graag saamwerk met plaaslike entrepreneurs, het ons ’n vennootskap met die Du Toits aangegaan vir die herontwerp van ’n regte Afrikaanse woordbouspel, wat hulle dan ook pragtig reggekry het met Tel jou woorde”.

Steyn glo Tel jou woorde gaan vir vele pret en plesier sorg vir duisende Afrikaanse families en in die proses sommer ook hul spel- en taal vaardighede verbeter.

Tel jou woorde – en laat elke letter tel is nou onder meer by Exclusive Books, Protea Boekhuis, Kraal Uitgewers en die FAK beskikbaar.