Deur Daantjie Dinamiet

Sedert Juan Boucher in 2012 vir die eerste keer tot die musiekbedryf toegetree het, het hy ’n aantal toekennings gewen en sy gewildheid onder die publiek het al hoe meer toegeneem.

Nou is hy terug met sy jongste album, Gewigloos, en die vraag is of hierdie album soveel byval by die publiek sal vind. Volgens Juan is dit sy eerste album wat net met lewendige instrumente opgeneem is en daar is hoegenaamd geen programmering gedoen nie.

Die eerste snit, “Lewenslustig”, gee ’n mens reeds ’n aanduiding van wat om te verwag. Soos met die res van die album, het Juan dit self geskryf, en die lirieke het meer om die lyf as sommige van sy vorige treffers. “September” is ’n effens rustige snit volgens Juan se standaarde, en behoort nogal gewild te word. Rudi Kleingeld se kitaarwerk op die titelsnit is uitstekend, maar Juan het tog ’n paar taalfoute met die lirieke gemaak deur van byvoorbeeld “van dit” en “oor dit” te praat. Dit moet “daarvan” en “daaroor” wees. Die eerste enkelsnit is “Mis maar net jou hart”; en hierin sing hy van die beginstadium van ’n liefdesverhouding. Die video is in die Wes-Kaap verfilm maar Juan wou die indruk skep dat dit oorsee gedoen is. Op “Geroeste ysters” bring hy hulde aan die manne wat aan die Grensoorlog deelgeneem het. “Kampioen” is een van die snitte wat veral by jonger luisteraars byval sal vind.

Een van die hoogtepunte vanaf die album is “Gif”, waarop Liezel Pieters saam met hom sing. Liezel het al een soloalbum vrygestel en het ook deel van die groep 4Werke geword. Sy het ’n ongelooflike sterk stem; dit maak ’n groot verskil. Hierdie snit móét ’n treffer word! Juan wys weer sy rustiger kant met die mooi snit, “Kan ek?”, maar net daarna draai hy en Neil Somers die krane oop met die moontlike tweede enkelsnit, “In die Bosveld”, waarvan ’n musiekvideo ook reeds verfilm is. Neil is een van ons land se voorste sangers en liedjieskrywers, maar hy was maar stil die afgelope tyd. Daarom is dit goed dat hy saam met Juan sing. Juan het “Toestand” saam met Len Muller, wie se jongste album sommer binnekort vrygestel word, geskryf. Dit is ’n baie lekker rock-snit met skitterende elektriese kitaarwerk. Die laaste snit is ’n liedjie wat hy geskryf het toe hy omtrent 21 jaar oud was en hy ’n bietjie té lekker saam met die manne gekuier het. “Brandewyn” sal onder diegene wat hou van kuier, byval vind, maar die woorde behoort nie té ernstig opgeneem te word nie. Die opname klink asof dit voor ’n gehoor gemaak is.

Diegene wat nog effens skepties was oor Juan se talent as sanger en liedjieskrywer sal hul menings verander nadat hulle na hierdie album geluister het. Dis goed om te sien dat daar niks anders as “regte” musiek voorkom nie, want programmering is ’n neiging in moderne musiek wat die geloofwaardigheid daarvan ondermyn. Dit is dalk sy beste album tot dusver, en dit behoort aanklank by ’n groot verskeidenheid luisteraars te vind.