15 Vroue in die Mosselbaai-omgewing is onlangs deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vir hulle dienswerk om die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis te bevorder.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het gesê: “Dit is hoopskeppend om te hoor watter groot verskil elkeen van dié vroue op lewensterreine, wat wissel van ekonomie, entrepreneurskap, welsyn, onderwys tot kuns en musiek, maak. Dit is lekker om vir hulle dankie te kon sê.”

“Gemeenskappe is die vesel wat die land aanmekaar hou. Dit gee my moed en baie hoop vir die kultuur in ons land.”

Langner het die oorhandiging seremonie van die eerste Inspirasie Vroutoekennings in Mosselbaai en omgewing op 10 November by die Groot Trekmuseum in Hartenbos bygewoon. ’n Spesiale toekenning is ook tydens die seremonie aan Jan en Jeanette Ellis van die Janine Stryk- en Wasmuseum op dié  dorp gemaak.

“Dit is ’n klein, maar merkwaardige museum met ’n versameling van meer as 800 antieke tot moderne strykysters en wasmasjiene van regoor die wêreld. Dit is ’n belewenis om te sien. Ek is verskriklik beïndruk. Om die geskiedenis van was en stryk op hierdie manier uitgebeeld te sien, het my werklik ver laat terugdink ook aan die rol wat was en stryk in elkeen van ons se lewens gespeel het.”

Langner het die Ellisse ook geloof vir die besonderse manier waarop hulle hul oorlede dogter Janine se nagedagtenis deur middel van die museum gedenk.

“Ek het al in baie gemeenskappe in Suid-Afrika gekom en ek het nog nooit so iets gesien nie. Ek was heeltemal stomgeslaan.”

Die FAK-Mosselbaai-Kultuurnetwerk is net meer as ’n jaar gelede deur Elizma Smith, koördineerder van kultuurnetwerke in die Wes-, Oos- en Suid-Kaap, gestig. In Augustus vanjaar, gedurende Vrouemaand het die FAK begin om vroue landwyd vir hul rol in hul onderskeie gemeenskappe te vereer. Dis vroue wat opstaan, bou en volhard – op elke terrein in die gemeenskap. Nominasies van regoor die land is ontvang. Die FAK-Kultuurnetwerke het dié vereringsprojek landwyd gedryf.

’n Motiveringsbrief oor elk van dié 15 vroue is tydens die oorhandigingseremonie voorgelees. Onder die dinamiese vroue, met uiteenlopende passies en beroepe, is ’n ma-en-dogter: Joan en Cornelle Carstens. Beide is enorme steunpilare in die gemeenskap. Benewens ’n juweel van ’n teater, die Monroe-teater, wat hulle bestuur, is Cornelle ’n verhoogkunstenaar in eie reg en ook ’n bekende gemeenskapsjoernalis wat haar taal en kultuur op hierdie gebied bedien.

Agter van links: Heleen Coertze, Annemarie Dellemijn, Zandra Klapwijk, Lynette Honiball, dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, Petronel Baard, Amelia Thiart, Marlise Labuschagne, Cornelle Carstens, Joan Carstens en Gerrie Pretorius
Voor van links: Elaine van der Walt , Genevieve Muller, Elizma Smith, koördineerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Wes-, Suid- en Oos-Kaap, , Jeanette Ellis, Jan Ellis en Denise Lloyd

Iemand wat geen bekendstelling nodig het nie, is die Lang Vrou en Afrikaanse kabaretdiva, Petronel Baard. Hierdie formidabele vrou het amper eiehandig die verborge kunstenaarstalente in die Suid-Kaap blootgelê. Haar opheffingswerk het tot gevolg dat diegene sonder stem die geleentheid kry om gehoor en ontwikkel te word. Baard het dan ook die gehoor met ’n paar pragtige nuwe skeppings uit haar pen getrakteer. Mordegai Erasmus, sanger van Groot-Brakrivier het saam met haar opgetree.

Annemarie Dellemijn word as ’n engel beskryf. Hierdie liefdevolle, saggeaarde vrou dra almal se belange op die hart en onthou die fynste besonderhede van hul omstandighede. Saam met haar man, Anton, wat ’n plaaslike raadslid is, dien hulle die gemeenskap met oorgawe.

Heleen Coertze, ’n entrepreneur en gemeenskapsleier van formaat het al vele inisiatiewe op Groot-Brakrivier begin en deurgevoer. Hieronder tel die Muse-fees wat ’n sonderlinge dorpsfees was, die Fragrance Route na Friemersheim asook ’n aantal puik musiekuitvoerings en opvoerings. Saam met haar is Elaine van der Walt van die Art@39 Long-kunsgalery ‘n groot inspirasie vir plaaslike kunstenaars. Sy was ook een van die groot geeste agter die Muse-fees wat omgewingsbewaring saam met kuns in die gemeenskap laat tuiskom het.

Marlise Labuschagne, assistent-streekorganiseerder van Helpende Hand in die Wes-Kaap, het die vermoë om mense te mobiliseer en saam met haar te vat. Labuschagne het daartoe bygedra dat die Mosselbaai-tak van Helpende Hand onlangs as die tak van die jaar en hul voorsitter, Magriet Potgieter as voorsitter van die jaar aangewys is.

Amelia Thiat is ’n kampvegter vir Kansa en word geken aan haar sagmoedige leierskap as omgeemens wat altyd haar gemeenskap ondersteun. Lynn Honiball is ’n baie bekende haarkapper in Mosselbaai. Sy is iemand wat met die gemeenskap om haar ’n pad stap en vir baie mense help om hul droom te leef. Sy is een van Mosselbaai se legendes.

Genevieve Muller is ’n vrou wat as leier in die gemeenskap uitstaan. As skoolhoof van die Diaz Primêre Skool, het sy haar eie dramagroep vir leerders wat onder haar leiding al baie toekennings ontvang het. Mosselbaai se crafts-ikoon, Zandra Klapwijk het die Craft Art Workshop in Mosselbaai begin. Sy lei mense op in kunsvaardighede en maak self die pragtigste glaskunswerke uit herwinde glas. Sy hou daarvan om kultuurwerke te skep en daarom het sy aan elke wenner ’n stel plekmatjies geskenk waarop Afrikaanse volksliedjies tipies aan die FAK-Sangbundel, aangebring is.

Denise Lloyd, bestuurder van die Hartenbos Seefront word as een van die “mossels van Mosselbaai” beskryf. Sy ken die gemeenskap deur en deur en wend haar kennis en kundigheid tot voordeel van die dorp aan. Lloyd is ook die sameroeper van die FAK-Kultuurnetwerk op dié dorp.

Ziegfried van Huyssteen, adjunk hoof van die FAK, oorhandig aan Denise Lloyd haar toekenning.
Agter is: Elizma Smith, koördineerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Wes-, Suid- en Oos-Kaap

Drie van die genomineerdes, waaronder raadsdame Venolea Fortuin, wat op die munisipale raad dien en voorsitter van DAWN (die DA se Vroue-organisasie) se Oos-streek asook sekretaresse van die DA Oos-streek is; Adri van Nieuwenhuizen, besturende direkteur van Pink Trees For Pauline wat die land in pienk toedraai en geld vir hulp aan kankerpasiënte insamel, en Karin Cupido, ondervoorsitter van MOCCA (Mossel Bay Creative Culture Association) en ’n groot rolspeler om die kunste onder die gemeenskap te bevorder, kon die funksie nie bywoon nie.

Gerrie Pretorius, sanger en aanbieder van die televisieprogram, Leef jou reis, het ook die toekenningsfunksie bygewoon. Pretorius het op Mosselbaai grootgeword en onlangs is verskeie insetsels oor dié dorp en omgewing op dié program uitgesaai.

Petronel Baard,
Elizma Smith, koördineerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Wes-, Suid- en Oos-Kaap, Denise Lloyd en Cornelle Carstens