OPPAS DEON MEYER, SIDNEY GILROY IS OP PAD

 Deur Yolanda Barnard-Lemmer

 

Hy lyk soos ’n amper-beenbreker wat eerder in Mike Bolhuis se span tuishoort as ’n Jo Nesbo-tipe skrywer wat woorde en misdaadstories soos sosaties aan ’n stokkie ryg.

Skouers wat die rekenaarskerm volmaak, ’n hoekige kakebeen wat skoonpa goedkeurend sal laat kopknik. ’n Modieuse baard wat sy vol lippe omraam.

Warm, so warm soos die herfsonnetjie, het ’n gryskopouma tydens die lesersbekendstelling van Middernag, sy tweede krimi wat oor Solly Mtembu handel, vroeër vanjaar gesê. En sommer ook sy debuutkrimi Klikbek gekoop.

Dit is Sidney Gilroy, ’n Vrystaatse boorling, wat besig is om sy pad na die hoogste misdaadtoringspits oop te skryf.

Sidney Gilroy

Dit is Woensdagaand, middel Oktober en Sidney wuif vir die Zoom-kamera. ’n Ietsie Vin Diesel en ’n skeut Brad Pitt (miskien is dit dáái hoekige kakebeen). G’n wonder ’n rolprentregisseur het hom raakgesien en hom reeds in 2018 ’n rol in ‘n tipiese Hollywood-steek-en-gil rolprent aangebied nie. Ironies genoeg is die titel Hell Trip en Sidney speel die rol van ’n bylmoordenaar.

“Ek het glad nie dialoog nie. Ek kap ’n tiener dood met ’n byl. En as ’n mens mooi kyk, sal jy my gesig in die lokprent van die rolprent op YouTube sien,” lag hy vanuit sy sitkamer in Suikerbosrand, so neffens Sandton.

Dit is hier, waar dié skrywer en nou ook akteur, die afgelope paar jaar nesskrop.

“My misdaadstories se millieu is wel Harrismith, maar ek sal nie daar kan bly nie. Ek is té veel van ’n liggiesman – hoewel ek hiér op my kleinhoewe – die beste van twee wêrelde het.”

Hy is ’n man vir die kunste – teen sy “tweede sitkamer” se mure pryk werke van Paul Manroe wat die Vrystaatse vlaktes en koppies uitbeeld.

“Ek is die heeltyd tussen mense, en hier tussen my skilderye en diere vind ek vrede. Ek is eintlik ’n eenkant-mens.”

Hy werk bedags as bedryfsbestuurder en saans sit en skryf hy tussen sy twintig rondloperkatte, “ek het almal gesteriliseer, want voor ek my oë kon uitvee het mamma-katte vir my nog ’n werpsel om te voed aangedra,” en sy trop honde.

Iemand wat jou lewe met jou deel?

“Ek is ’n baie privaat mens,” swaai hy die onderwerp terug na sy boeke.

Middernag, wat resensente as Vrystaat-noir beskryf, het hom nie net as skrywer gevestig nie, maar ook as misdaadskrywer wat stadig maar seker besig is om ander misdaadskrywers se bloed agter hulle op te vee.

En die eerste vir Afrikaans, ’n swart speurder wat met soveel deernis en menslikheid uitgebeeld word, dat die leser sommer voel asof Solly sy persoonlike vriend is.

“Ek het nie besluit om ’n swart speurder te skep nie. Solly het net gebeur. Ek het met ’n paar polisiemanne gesels tydens die navorsing van die boek en Solly is ’n kombinasie van hulle almal.”

In Middernag word ’n paar kinders vermoor.

“Dit is ’n realiteit – ’n seerplek wat skrywers moet oop- en gesond skryf.”

Hy het eers vyf jaar gelede begin skryf en hy erken: “Ek kon op skool glad nie skryf nie, en ek was ook nie vreeslik taalvaardig nie.”
Toe skryf hy ’n kortverhaal en stuur dit aan ’n bekende skrywer. Die terugvoer: “Jy het baie talent, hou aan skryf.”

Hy het aanhou skryf, “hoewel ek my eerste boek Klikbek ’n hele paar keer moes oorskryf,” vertel hy en knipoog vir die kameralens.

Hy is van plan om net nog een boek oor Solly te skryf. “Ek wil nie hê die leser moet moeg raak vir Solly en van hom af wegstap nie. Ek wil ook in ander genres begin skryf, nie net misdaad nie. Daar is vyf manuskripte op my rekenaar, maar ek kan nie nou al verklap waaroor dit gaan nie.”

Sy akteursloopbaan, as ’n mens dit so kan noem, het eintlik toevallig gebeur. “Ek was ’n liggaamsbouer en die regisseur van Hell Trip het my genader om vir ’n oudisie te kom. Ons het baie lekker saamgewerk en hy het my ook genader vir twee van sy ander rolprente.”

Hy was juis – so tydens die onderhoud – besig om woorde te leer vir The last Sacrament waar hy teenoor bekende aktrises soos Michelle van der Merwe speel.

“Ek het darem dialoog in dié rolprent. Ek is baie gemaklik voor die kamera, maar ek is eers ’n skrywer en dan ’n akteur,” sê hy.

Bestaan daar iets soos die perfekte moord? Vir ’n oomblik is hy stil en dan: “Daar bestaan nie iets soos ’n perfekte moord nie, maar wel iets soos ’n vergeldingsmoord, ’n passiemoord. Ek verstaan dit as ’n manier van straf, ’n manier om wraak te neem.”

Hy skryf wel oor moordenaars en afgesien van die bloed wat in Hell Trip gespat het, sal hy nooit iemand kan vermoor nie.

“Ek sal ’n skerpskutter kry, maar ek wil hom nie betaal nie.”

Alle grappies op ’n misdaadstokkie – Sidney geniet die lewe en hy steur hom op die rype ouderdom van 40 nie meer aan mense en hul dinge nie en nog minder aan skinderstories.

“Ek wil net die lewe geniet.”
En Zoom-Zoom waar Sidney eers gesit het, is daar net ’n swart beeld.

 Yolanda Barnard-Lemmer