FAK vereer inspirasievroue in die Vaaldriehoek

Vyf vroue in die Vaaldriehoek is deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer vir hulle dienswerk om die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis in hulle omgewing te bevorder.

Voor van links: Hester Boshoff, Elsie Steyn, Dalene Venter, Germaine Smith, Kobie Ströh Agter is : Marianda Schlebusch, koördineerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng

Die FAK-Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk het op 12 November bymekaargekom, waar die Rapportryers die lede van dié Kultuurnetwerk en dié vroue as gaste by die toekenningsfunksie in Vereeniging ontvang het.

Die FAK het in dieselfde week ook aan 15 dinamiese vroue in die Mosselbaai/Hartenbos-omgewing erkenning gegee. Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, was dit hoopskeppend om te hoor watter groot verskil elkeen van hulle maak op lewensterreine wat wissel van ekonomie, entrepreneurskap, welsyn, onderwys tot kuns en musiek.

“Dit is lekker om vir hulle dankie te kon sê,” het hy gesê.

In Augustus vanjaar, gedurende Vrouemaand het die FAK begin om vroue landwyd vir hul rol in hul onderskeie gemeenskappe te vereer. Dis vroue wat opstaan, bou en volhard – op elke terrein in die gemeenskap. Nominasies van regoor die land is ontvang. Die FAK-Kultuurnetwerke het dié vereringsprojek landwyd gedryf.

Onder die dinamiese vroue in die Vaaldriehoek, is Kobie Ströh, toegewyde genealoog en administreerder van Facebook blad – Monumente, Gedenktekens en Interessanthede SA. Hierdie blad word gebruik om ’n groter bewuswording te kweek en om kennis oor te dra van ons kosbare historiese erfenis.

“Baie dankie vir die toekenning. Dit laat my klein voel. Dis alles net genade. Ek het laas op skool ’n FAK-boekprys gekry. Dit was baie lank lank gelede,” het Ströh gesê.

Germaine Smith dien op die nasionale komitee van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA). Sy lei mense op in genealogie en is die dryfkrag agter die dokumentering en neem van foto’s van plaaslike begraafplase om sodoende die geskiedenis te bewaar vir ons nageslag.

“Dankie vir die toekenning, dit was regtig onverwags en baie geluk aan AL die formidabele vroue wat so saggies om ons hard werk.”

Hester Boshoff is ’n Afrikaansonderwyser by uitstek. Gedurende haar loopbaan het sy haar passie vir haar moedertaal, Afrikaans, uitgeleef en oorgedra aan elke leerling wat haar klas betree het. Sy was vir etlike jaar by Die Voortrekkers betrokke gewees en het as onderwyser die Rapportryers se jaarlikse Bybelvasvra trou ondersteun.

Dalene Venter werk as maatskaplike werker by die Tabitha-versorgingsoord en dien as raadslid by die Drie Riviere-wyk in Vereeniging. Sy ontvang hierdie toekennings vir haar werksetiek, die wyse waarop sy saam met mense aan projekte werk en haar toegewydheid in haar wyk.

Elsie Steyn is ná ’n motorongeluk in 2018 verlam. Met vasberadenheid het sy weer leer loop, kar bestuur en leef sy elke dag voluit.

Marianda Schlebusch, koördineerder van die FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, sê al die ontvangers was baie dankbaar gewees.

“Baie geluk aan elkeen van hierdie vroue wat uitstaan, bou en volhard! Oom Theuns de Klerk het in 1987 ’n oorkonde van die FAK ontvang vir sy bydrae tot die uitbouing van Afrikaanse kultuur. Hy is ook ’n lewenslange lid van die FAK. Sy sertifikaat wat hy saamgebring het, het die FAK-Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk weer aan hom oorhandig as trotse FAK-ondersteuner. Dit was vir die Kultuurnetwerk ’n eer om dit te kon doen.

“Die FAK-Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk beplan groot mylpale vir 2021 en ons sien uit om saam met elke organisasie wat ons taal, kultuur en geskiedenis op die hart dra, te werk!”