Boek is ’n literêre tonikum wat sterk aanbeveel word vir die ernstige en waagmoedige leser.

Weerlose meganika

Anton Roodt

Uitgewer: Tafelberg (NB-Uitgewers)

Resensent: Francois Bekker

Anton Roodt se Weerlose meganika kan as ’n kulturele parodie met die tong lekker in die kies beskou word. Met ’n bisarre aanslag wat nie heilige koeie spaar nie. Waarskuwing, hierdie teks met vreeslose innuendo vereis ’n oop kop by die leser. Ek kan nie onthou wanneer laas daar so iets opwindend in Afrikaans gepleeg is nie. Verstommend is die feit dat dit ’n debuutroman is.

Iewers in die toekoms neem die opgewondenheid weer besit van kolonel Rooipiet Moolman. As direkteur van die Kulturama-museum en navorsingsentrum in Welkom wat die geskiedenis bewaar vir die nageslag is hy en sy span druk besig met die voorbereiding vir die jaarlikse Versoeningsfees wat die Slag van Bloedrivier gedenk. Binne die Azaniese Federasie is dit die fees der feeste wat blykbaar in dieselfde asem as Oberammergau en selfs die Wagnerfees by Bayreuth genoem word.

Moolman kan sy geluk nie glo nie as sy hoofnavorser met ’n besondere vonds by sy kantoor opdaag. ’n Fotobeeld op ’n koperplaat wat in Natal opgespoor is, het nie alleen die potensiaal om die geskiedenis te herskryf nie. Die opvoering van die Slag van Bloedrivier  kan nou met ’n nuwe kinkel internasionale opslae maak. En raai wie gaan die eer hiervoor kry? Kolonel Piet Moolman staan op die drumpel van wêreldroem.

Op die foto kan duidelik gesien word hoe drie engele op daardie historiese dag bo die Slag van Bloedrivier sweef.        

Nou volg wending op wending. Een van die engele wat aan die opvoering gaan deelneem, is ’n slimbot (Olympia sewe reeks), die mees gevorderde stuk tegnologie op hierdie aarde. Wanneer sy Piet Moolman se pad kruis, is sy lewe nooit weer dieselfde nie. Dan word die foto van die engel gesteel en die slimbot-engel op wie Piet sy hart verloor, sterf. Alle hel bars los.

Weerlose meganika is ’n stuk toekomsfantasie deurspek met satire. Wat hierdie resensent eindelose plesier verskaf het, is hoe Roodt spesifiek taal aanwend om die spot te dryf. Woorde vloei hier soos vonkelwyn. En dubbelsinnig!  Kolonel Moolman se administratiewe hoof word as ’n “draadsitter” beskryf. Die naam Boytjie Dames is net een voorbeeld van slim woordspeling. Boytjie benodig dringend geld om vir sy geslagsverandering te betaal!

Kolonel Rooipiet Moolman is die verpersoonliking van die kortmannetjiesindroom. Hy is ’n tipiese burokraat wat wegkruip agter prosedure en protokol. En is skytbang vir ’n oudit. Heeltemal uit sy diepte uit steun hy swaar op Boytjie Dames wie se algemene kennis vir Moolman en die Kulturama van onskatbare waarde is. En weet ons, grootheidswaan maak gewoonlik op vir gebrekkige vermoëns. Omdat die skrywer sy karakters, ook vir Moolman, met deernis teken, lag ons nie net vir Moolman nie, maar ook saam met hom.     

Daar is ’n rits ander kleurryke karakters soos die Kulturama se sekuriteitshoof, Doc Ndlovu. Terloops, elke jaar as die Slag van Bloedrivier opgevoer word, vertolk Moolman die rol van Andries Pretorius en Ndlovu die rol van Dingaan.

Weerlose meganika is luid, vreemd, snaaks, onbeskof, bisar en dekadent. Wat onder die loep geneem word, is kolonialisering, die hubris van korrupsie, staatskaping en vrae oor die mens se verhouding met tegnologie. Daar word korte mette met die manlike ego gemaak.  

Weerlose meganika is ’n literêre tonikum wat sterk aanbeveel word vir die ernstige en waagmoedige leser. ’n Roman wat jou laat skaterlag en dink tegelykertyd.