Titel: Branderjaer
Skrywer: Joha van Dyk
Uitgewer: Human & Rousseau
Resensent: Francois Bekker
Die jeug, het Hennie Aucamp iewers geskryf, het ’n omgekeerde nostalgie – hulle verlang na die toekoms. En dikwels is daar talle redes waarom jong mense wil wegkom van die huidige. Asof die hier en nou nie ’n lekker plek is nie. Joha van Dyk se Branderjaer neem hierdie onrustige hunkering met ’n boeiende storie onder die loep.
Die Weskus-dorp, Stormbaai, is ’n dorp soos enige ander klein plek in die land. Klein gemeenskap. Stillewaters. Goedige mense wie se lewens in ’n voorspelbare roetine vasgelê is. Min of geen verrassings hier nie. Of so blyk dit op die oppervlak te wees.
Deidre Anker se onmiddellike probleem is dat haar wiskundepunte nie op peil is nie. Of eerder, dit is vir haar ma ’n hengse probleem, want advokaat Anker koester groot verwagtinge vir haar dogter as professionele vrou eendag. Dit is om hierdie rede dat die matrikulant Louw Swanepoel getaak word om as tutor vir Deidre behulpsaam te wees met wiskunde.
Twee teenpole. Deidre en Louw. Sy aan die regte kant van die spreekwoordelike spoorlyn met ambisieuse ouers agter haar. Hy aan die verkeerde kant van die spoorlyn met moeilike omstandighede by die huis. Daarby is hy deel van ’n vriendekring wat bekendstaan as die Branderjaers wie se reputasie hulle ver vooruitloop. Daar is geheime agter hierdie ouens waarvan mens liewer nie moet weet nie. Maar Deidre en Louw vind kort voor lank geesgenote in mekaar wie albei op hul eie manier vasgevang voel deur omstandighede. En albei van hulle het ’n intense behoefte om vry te wees van ander mense se idees en gevaarlike selfsug.
Gestroop van cliché’s, sentiment en resepmatigheid is Branderjaer ’n teks wat lees soos ’n vars oggendbries op die strand. Dit behou jou aandag en skep voortdurend ’n nuuskierigheid wat jou noop om aan te hou lees.
Knap karakterisering verseker die leser se empatie met die karakters en behou jou aandag omdat jy wil weet wat dit is wat gemaak het dat hulle doen wat hulle doen.
Agter die misterie van die branderjaers wat al ’n mitologiese teenwoordigheid op hierdie dorp geword het, is ander veel donkerder geheime. Soos hulle sê, elke huis het sy kruis en ons het gewoonlik nie die vaagste benul wat agter ander mense se toe deure gebeur nie.
As ’n twintigjarige het Joha van Dyk haar vinger op die pols wat betref wat dit is wat hoërskoolleerlinge se gedagtewêreld opeis en hoe hulle die lewe beskou. Omdat sy ’n stewige storie wat briljant gestileer is, vertel, word Branderjaer nooit ’n neurotiese marteling vir die leser nie.
Ongelooflik is die feit dat dit ’n debuutwerk is. Enersyds ’n onthutsende verhaal omdat dit die donkerkant van die lewe deurgrond. Dit is ook ’n verhaal van hoop wat bewys dat die lewe uit keuses bestaan, solank jy die moed het om eerlik te leef. Al is die teikenleesmark veertien jaar sal volwasse lesers ’n groot fout maak om hulself as potensiële lesers te diskwalifiseer.