Titel: Skepsel

Skrywer: Willem Anker

Uitgewer: Queillerie

Resensent: Francois Bekker

Daar is boeke wat lekker lees. Boeke wat jou oorrompel en meesleur. Ander weer konfronteer jou en daag jou uit om jou vooropgestelde idees te heroorweeg. Sommiges gryp jou aan die keel om jou genadeloos te wurg. Betowerend onvergeetlik kan dit ook wees. Willem Anker se Skepselis al hierdie goed en meer.

Stilisties is die roman opsigself interessant. Drie verhaallyne, elk met hul eie opskrifte, kom jukstaposisioneel en afwisselend aan die beurt. Behalwe vir “Kraken” met sy tien hoofstukke het “Beendere”en “Slimhuis” elk nege hoofstukke. Storielyne wat skrams verby mekaar beweeg om ‘n aangrypende geheel te vorm, op filosofiese vlak in ieder geval.

Rebecca Maas het haar vrou en hulle kind vir eers in Den Haag agtergelaat om by haar sterwende pa aan die Kaapse Weskus te wees. In die huis van Henk Maas – ’n slimhuis wat met jou kommunikeer – word getob oor wat met die gesin Maas gebeur het. Henk die eiendomsmagnaat en Rebecca as humanis besin saam oor die aand toe Rebecca se ma gesterf het. Die pa-dogter-verhouding was nog nooit watwonders nie. Dit word ’n doodbegeleiding van vergifnis, wat empatie en wedersydse begrip vereis. Daarby moet Rebecca haar pa se laaste wens oorweeg en tot uitvoering bring.

Twee Suid-Afrikaanse argeoloë is deel van ’n span wetenskaplikes wat besig is met die uitgrawing van ’n rare vonds beendere in Skandinawië. Albei is getroud maar is vir enkele maande reeds in ’n passievolle verhouding met mekaar. In Svalbard wil hulle twee goed weet wat die beendere dan moontlik is en of hulle verhouding die nodige diepte het om ingrypende keuses te maak as hulle terugkeer na Suid-Afrika. Maar dan verdwyn die een minnaar spoorloos. Waarop stuur hierdie wending af?

Dan is daar die avant garde-kunstenaar wat gebore is op die dag toe die Berlynse muur geval het. Sy liefde of obsessie eerder met objekte, rig sy kuns en lewe. Die leser onderneem uiteindelik die wittebroodsreis saam met hom en sy geliefde. Die olietenkskip met wie hy trou se meganiese funksionering bied hom ’n ekstase wat kwalik onder woorde gebring kan word.

Willem Anker se Skepselhet ’n reikwydte wat die leser uitasem laat nadat jy die boek klaar gelees het. ’n Veelheid van temas kom onder die loep. Enige poging om die kern van die verhaal tot een sin te reduseer, is gedoem tot mislukking.

Homo sapiens staan sentraal in die storie wat die verhouding tussen mense, tussen mens en tegnologie, en ons soeke na sin in die algemeen ondersoek. Uiteindelik ons onverantwoordelike verhouding met die blou planeet en hoe vervlietend die lewe is.

Met sterk storielyne, interessante karakters, ’n veelheid van storielyne en newestorielyne asook ’n teks met ongelooflike gravitas, is Skepsel ’n stuk monumentale prosa. Daar is ’n ongelooflike aanbod feite en melding van subkulture wat vra om nagelees te word – ideaal vir die nuuskierige bibliofiel. Het ek die vlymskerp sardoniese humor genoem? Dat Afrikaans tot so ’n indrukwekkende roman in staat is, dwing bewondering en respek af. Verpligte leesstof vir die liefhebber van ernstige letterkunde.