Die rol wat Olivier J. Henning in RSA genealogie gespeel het

soos deur homself vertel (Villiersdorp, September 2020)

Olivier Johannes Henning *11-9-1869 en sy Engelssprekende vroutjie, Magdalena Maria Daisy (gebore Beeton) * 5-1-1877. Die Britse goewerneur, Lord Milner wou hierdie Engelssprekende onderwyseres gebruik om Afrikaner-kindertjies te verengels, maar het nie rekening gehou dat sy dalk op ’n Afrikaner-boerseun verlief kon raak nie.

As ’n vyf-/sesjarige seuntjie het ek eendag gehoor hoe my ma vir haar suster in ’n fluisterstem, verskuil agter haar een hand, vertel dat haar skoonma – my ouma Daisy Henning aan my pa se kant – jare terug, gedurende die “Boereoorlog”, een van die onderwysers was wat ’n man met die naam “Lord Milner” wou gebruik om Afrikanerkindertjies te verengels.

Van Lord Milner en die “Boereoorlog” het ek nog niks geweet nie. Ek het net afgelei dat dit iets verskrikliks moes wees om Afrikanerkindertjies te verengels – wat dit ook al beteken het. Toe hierdie ouma dus ’n rukkie later by ons kom kuier, wou ek haar dus met ’n klip gooi toe sy op ’n dag in ’n vreemde taal – Engels – met my geraas het. Sonder dat ek op daardie stadium daarvan bewus was, was my ma se opmerking en hierdie insident die saadjie wat by my geplant is om later genealogiese navorsing te begin doen.

Jare later, toe ek ernstig in genealogie begin belangstel, het ek die ware verhaal van ouma Daisy nagevors en tot die besef gekom dat sy eintlik die heldin in hierdie “verengelsingsverhaal” was.

Ouma Daisy het in Julie 1902 met my oupa Olivier Johannes Henning in die huwelik getree. Sy was ’n jong onderwyseressie wat in 1897 begin skoolhou het. November 1918 sterf haar man gedurende die Groot Spaanse Grieppandemie en sy bly agter met sewe kinders waarvan die oudste 14 jaar en die jongste ses maande was.

As ’n jong, hooggesofistikeerde Engelse dametjie wat omtrent al die kunste van toneelspeel, sang en musiek beoefen het en altyd pragtig en deftig aangetrek was, maar geen kennis van boerdery gehad het nie, moes sy alleen op ’n boereplaas in een van die mees onherbergsame dele van Suid-Afrika haar kinders grootmaak en ’n boerdery behartig om aan die lewe te bly – en dit in Afrikaans, wat nie haar huistaal was nie. Sy het nooit weer getrou nie.

Beide my ouers het dikwels vir ons van hulle voorsate en my pa van hulle pragtige plaas Damfontein, in die Aliwal-Noord-distrik vertel, wat my baie beïndruk het.

Ek, Olivier Johannes Henning, is op 14 Desember 1943 te Aliwal-Noord gebore as die vierde kind van Leonard Henning, gebore 24 Julie 1908 en Jannetta Sophia Hendrina Susanna Kruger, gebore 10 Mei 1911. My genealogiese nommer in Die Henning Familiekroniek is ‘a2b7c8d8e3f4’.

Gedurende Desember 1980 het ek en my gesin, tydens vakansie, vir ’n paar dae by my neef – Olivier Henning en sy gesin – te Aliwal-Noord oorgebly. Ek het my neef versoek om die ou Henning-familieplaas, Damfontein in die distrik vir ons te gaan wys. Die hele plaas, maar veral die begraafplaas, was vir my baie interessant. Hier het verskeie geslagte van ons voorsate begrawe gelê.

Toe ons terugry dorp toe, vat my neef ons na die museum van die De Wet-familie op die dorp. Die De Wet’s het ’n maatskappy gevorm wat na hierdie museum moes omsien. Soos ons deur die museum gestap en ek al die pragtige oudhede, ander artefakte en geslagsregisters bewonder het, het die gedagte by my opgekom: “Wat is die De Wet’s beter as die Hennings. Wat hulle hier vermag het, kan ons mos ook doen.” Dit het water op die genealogiesaadjie in my psige gegooi, wat dit werklik laat ontkiem het.

By die huis gekom, het ek onmiddellik aan die werk gespring en begin om ’n basiese geslagsregister van ons nabye familie saam te stel. Ek het vroeg in 1981 ook by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se Afdeling Genealogie Navorsing aangedoen. Hier het die hoof, dr. RTJ (Roelf) Lombard my aangeraai om ’n handleiding vir genealogiese navorsing, wat hy met ’n redaksiespan saamgestel het, aan te skaf en om by die Noord-Transvaal-tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) aan te sluit. Die RGN-handleiding was van onskatbare waarde en ek het met oorgawe by die Pretoria-tak van die GGSA ingeval en aan al hulle aktiwiteite deelgeneem.

My entoesiasme en die deel van my ondervindinge by navorsingsinstellings met die ander lede van die tak, het gemaak dat ek van tyd tot tyd gevra is om my metodiek met nuwe lede van die tak te deel.

Intussen het ek elke geleentheid wat ek gekry het, gebruik om by die RGN met haar mikrofilms van kerkregisters, al die Argiefbewaarplekke en die kantore van die Meester van die Hooggeregshof aan te doen om na dokumentasie van Hennings te soek. Ek het nie net gekonsentreer op doop-, huweliks- en sterfregisters nie, maar het ook met sorg deur alle ander argivale bronne, soos die Opgaafrolle (belastingopgawes) en talle ander argiefgroepe, asook gepubliseerde bronne gewerk en tot die besef gekom dat verskeie minder bekende argiefgroepe ’n goudmyn was wat ook groot bydraes tot die vakgebied van genealogie lewer.

In my normale dagtaak het ek van tyd tot tyd met die Staatsheraldikus in aanraking gekom. By hierdie instelling het ek die werk Illustrations to the Armorial General van Rietstap van V. & H.V. Rolland’s te siene gekry. In hierdie monumentale publikasie word meer as 112 000 familiewapens wat gedurende die Middeleeue ontstaan het, geïllustreer – en daar verskyn nie minder as nege wapens wat met die van Henning verband hou.

Dit het ook onder my aandag gekom dat kort na die Tweede Wêreldoorlog ’n sekere NH Theunissen ’n reeks artikels in die destydse tydskrif Brandwag gepubliseer het, waarin hy ’n verskeidenheid Afrikaanse familiewapens voorgehou het. Dit het ook nie lank geneem nie voordat hierdie wapens – ook die Henning-wapen wat voorgehou is – deur die niksvermoedende bevolking opgeraap en as outentiek aanvaar is. Waar daar meer as een wapen vir ’n bepaalde van in Rolland se boeke opgeneem is, het Theunissen eenvoudig een gekies en dit as die wapen van daardie Afrikaanse familie voorgehou.

In my navorsing het ek tot die gevolgtrekking gekom dat slegs ongeveer 200 Henning/Hennig’s uit die 4 000 Hennings in Suid-Afrika moontlik aanspraak kon maak op die wapen wat Theunissen voorgehou het. Na my mening is hierdie fout ook met talle (moontlik die meerderheid) ander families gemaak.

Omdat dit bykans onmoontlik is om ’n moontlike verwantskap met enige van die Rolland-wapens te bewys, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat ons ’n nuwe wapen by die Staatsheraldikus sou moes registreer en dit kon slegs in die naam van ’n familiebond gedoen word.

Ek het drome begin droom van ’n Henning-familiebond met ’n wettige familiebondswapen, ’n uitgebreide Henning Familiekroniek, ’n Henning-museum, ’n Henning-tydskriffie of -nuusbrief en Henning-aandenkings.

Teen 1984 was ek van mening dat ek gereed was om my eerste publikasie die lig te kon laat sien. Omdat ek graag ’n familiewapen in die boek wou vertoon, het ek alle Hennings in Pretoria en omstreke, van wie ek die adres kon opspoor, uitgenooi na ’n vergadering met die doel om ’n Henning-familiebond te stig.

Op 21 Julie 1984 het ’n groep van ongeveer dertig Hennings by my huis te Wierdapark, Verwoerdburg bymekaar gekom en ons het ’n familiebond gestig, met ’n bestuur wat uit nege lede bestaan het. Die eerste take van hierdie bestuur was om ’n grondwet en ’n bondswapen vir die nuwe familiebond op te stel.  Ekself is as Bondsekretaris verkies, omdat ek die enigste lid was wat kennis van genealogie gehad het. Ek sou inderwaarheid as uitvoerende beampte optree, met die ander lede wat net, gesamentlik, hulle stempel van goedkeuring op  my aksies geplaas het. Soms het een of meer van die bestuurslede my bygestaan met die uitvoering van take.

Op daardie stadium het ons reeds geweet dat ongeveer 90% van alle Hennings in Suid-Afrika afstam  van Peter Henrich Henning, wat in Desember 1740 te Lippstadt in die staat, Lippe (vandag deel van Duitsland) gebore is en wat in 1765 by die Kaap van Goeie Hoop aangekom het. In die ou Baltiese dialek wat in daardie dae nog in Lippe gebesig is, was die uitspraak van sy naam amper dieselfde as die Hollandse Pieter Hendrik – “Peeter Henrik”.

Die wapen van die Peter Henrich Henning Familiebond, soos goedgekeur deur die Staatsheraldikus.

’n Paar maande na die stigting van die Henning Familiebond het die bestuur eenstemmigheid met die ontwerp van ’n wapen vir die familiebond bereik en het ons op aanbeveling van die Staatsheraldikus besluit dat die naam van ons familiebond, die Peter Henrich Henning Familiebond sal wees. Ek het die voorlegging en verdere konsultasies by die Buro vir Heraldiek hanteer. Met verloop van tyd het ons egter die naam “Henning Familiebond” begin gebruik.

’n Paar maande na die stigting van die Henning Familiebond het die bestuur eenstemmigheid met die ontwerp van ’n wapen vir die familiebond bereik. Ek het die voorlegging en verdere konsultasies by die Buro vir Heraldiek hanteer.

Toe ek die konsep van my boek vroeg in 1985 by die drukkers ingegee het vir druk en bind, kon ek die Heraldiekgoedgekeurde wapen dus ook insluit. Ek het 300 boeke by die drukker bestel. Toe ek my koste na die verkoop van ongeveer 240 boeke verhaal het, het ek die res van die boeke aan die familiebond geskenk om ter stywing van die Bond se finansies te verkoop.

Vandag word die Henning Familiekroniek digitaal uitgegee. Dit is ’n omvangryke bron van gegewens waarin die rekords van meer as 13 000 Hennings en aangetroudenes verskyn; die algemene geskiedenis van die familie word vertel; daar is meer as 1 000 foto’s opgeneem; die geskiedenis van die stamvader word volledig vertel, plus ’n skyfievertoning oor hom; die oorsprong van die naam en Henning-familiewapens word behandel; interessante statistieke van die familie word bygehou; daar is ’n verbruikervriendelike databasis wat die soek van spesifieke gegewens vergemaklik.

Ek het ook in 1985 begin om elke drie maande (Februarie, Mei, Augustus en November) ’n nuusbrief, aanvanklik met die naam, “Henning” uitgegee. Mettertyd het ons die naam van ons nuusbrief verander na “Ons Haantjie”. In die ou Baltiese dialek wat teen die einde van die dertiende eeu in die gebied om die Baltiese see gepraat is, was ’n haan ”hen” en ’n vroulike hoender (hen) “henne” genoem. Die vertaling van ’n jong haantjie was “Henning” en dit is die bynaam wat aan iemand se seun gegee is en uiteindelik ’n voornaam en ’n van geword het.

In elke nuusbrief het ons probeer om geboortes, sterftes, huwelike en die bekendstel van Henning-families te plaas. Ander nuus wat ons ontvang het, asook interessante artikels wat ek deur my navorsing opgespoor het, is ook geplaas. In November 2020 sal ons die “Ons Haantjie” nuusbrief nr. 144 uitgee – al 144 op tyd!

In 1987 hou ek en my gesin vakansie in Aliwal-Noord – geleë in die hartland van die Hennings. Ek ontmoet Gawie Immelman, skakelbeampte van die Aliwal-Noord munisipaliteit. Ek vertel hom van ons familiebond en ons doelwitte, onder andere dat ons graag ’n familiemuseum êrens in die Nooroos-Kaap sou wou inrig.

Die eerste kerkgebou wat gedurende 1857 te Aliwal-Noord opgerig is en waar die Henning Familiebond vanaf 1991 tot 2019 ’n uitstalling in stand gehou het.

Hy vertel my van die munisipaliteit se plan om ’n museum in te rig in die eerste kerkgebou wat gedurende 1857 in Aliwal-Noord opgerig is. Hierdie ou kerkgebou het op daardie stadium leeggestaan.

Ek was bewus dat twee Hennings betrokke was by die bou van hierdie eerste kerkgebou en my eie oupagrootjie het die boumateriaal aangery en was die tweede voorsinger in die dae voor orrels en ander musiekinstrumente in kerke gebruik is.

Die plan was om ’n tipiese negentiende-eeuse dorpstraat met winkels en ’n paar huise in te rig. Hulle was van plan om die eerste drie trekboer-families – die De Wets, Jouberts en Hennings – wat in die distrik gevestig het, uit te nooi om uitstallings voor te berei.

Net daar het ons twee se planne bymekaar gekom. Mnr. Immelman het daarna ook gesprekke met die De Wet-maatskappy gevoer en kon hy ’n voorlegging aan die Stadsraad van Aliwal-Noord maak.  So is die wiele aan die rol gesit om die samewerking tussen die munisipaliteit, De Wet-maatskappy en Henning Familiebond te formaliseer. Ongelukkig was die Joubert familie nie gerat om aan hierdie projek deel te neem nie. Teen 1990 was al die onderhandelinge deurgevoer en kon ons begin met die oprigting van ons uitstalling.

Tydens my navorsing na die Henning-families het dit duidelik geword dat die Hennings van die vroegste trekboere was wat hulle gedurende die eerste drie dekades van die negentiende eeu in die Stormberge – die distrikte Burgersdorp, Aliwal-Noord, Dordrecht, Molteno en Jamestown – gevestig het.

My oupa se oupa het gedurende die 1830’s reeds hier in die Stormberge gewoon, maar in 1841 vir hom ’n nuwe plaas in die Barnardspruit-veldkornetskap uitgemerk en hierdie plaas die naam Damfontein gegee.

Ek het besef dat ons nie net ’n klomp ou goed in ’n vertrek kon uitstal en dit dan ’n museum noem nie. Die tema “Die Henning-familie as Tipiese Noordoos-Kaap Trekboere” het by my posgevat en die bestuur van die Henning Familiebond het my voorstel vir die tema van ons museum aanvaar. Hierdie tema was gepas omdat ons genoeg artefakte van die negentiende-eeuse plaas, Damfontein in die hande kon kry om in ’n uitstalling te rekonstrueer.

Die huis wat in 1850 op Damfontein gebou is en waarvan ons ’n replika gemaak het om in die Henning-uitstalling in die Kerkpleinmuseum te gebruik.

Ons het verskeie foto’s gehad van die tweede huis wat in 1850 op die plaas gebou is. My pa is in 1908 in die huis gebore en het daar grootgeword. Hy het in 1990, toe hy 82-jaar oud was, ’n replika van hierdie huis, in houtpanele by sy huis in Brakpan gebou, wat hy, met my en Mauritz Henning se hulp, teen die einde van 1990 in die nuwe museum opgerig het.

Hoewel ons voldoende artefakte ontvang het om te vertoon, was daar verskeie kosbare meubelstukke wat die huidige eienaars nie bereid was om aan ons af te staan nie. Ons was nietemin baie trots op ons uitstalling!

In die middel, die fasade van die Henning-uitstalling in die Kerkpleinmuseum, Aliwal-Noord. Links, die negentiende-eeuse apteek en regs die huis van die De Wet-familie.

Ons het tydens ’n groot fees wat oor ’n hele naweek gestrek het, met trots ons uitstalling op 4 April 1992 in gebruik geneem, met die Burgemeester van Aliwal-Noord wat die eregas by die geleentheid was.

Intussen het die normale aktiwiteite van die familiebond voortgegaan, met die groot hoogtepunt die eerste nasionale Henning-fees wat ons vir die langnaweek van 9/10/11 Oktober 1988 te Aliwal-Noord beplan het. Etlike honderde feesgangers het opgedaag en die fees was ’n klinkklare sukses. Ons het daarna weer in 1994 te Bloemfontein; 2004 te Swartkoplapa, Centurion, en 2014 by die Voortrekkermonument, Pretoria, groot nasionale feeste gehou, wat almal suksesvol, plesierig en genotvol was.

Met die nuwe openbare vakansiedag wat sedert 1994 op die kalender verskyn het – Erfenisdag 24 September – het ek gedurende 1996 ’n pragtige uitstalling by die Voortrekkermonument ingerig. Weereens ’n reusesukses! So het ons ook deelgeneem aan genealogiese uitstallings by die Genealogie- & Erfenisfees in 2008 (deur Isabel Groesbeek te Pretoria georganiseer);  die Cultivariafees in 2009 te Paarl en die Genealogie Opedag in 2018 te Stellenbosch (gesamentlik deur Isabel Groesbeek, die NG Kerkargief & GISA georganiseer).

Gedurende 1997 het die Henning Familiebond ’n volgende stappie geneem deur ’n webwerf op Internet te skep. My suster se dogter, Dr. Jannetta Steyn wat ’n hooggekwalifiseerde dosent en navorser by die Departement van Rekenaarwetenskap by die Universiteit van Newcastle in Engeland is, het die webblad vir ons geskep en ek moes net die inhoud van die webblad in drie tale – Afrikaans, Engels en Duits – en die uiteensetting verskaf. Ons hou hierdie webwerf, wat deur duisende mense vanoor die hele wêreld besoek word, voortdurend op datum.

My betrokkenheid by die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA), ’n lede-organisasie, het in die laat 1980’s begin ontwikkel. Die GGSA is vanuit die Wes-Kaap bestuur, waar dr. Cor Pama toe as voorsitter van die Nasionale Komitee opgetree het. Die nasionale bestuur was verantwoordelik om die kwartaallikse vaktydskrif, FAMILIA en ’n nuusbrief uit te gee. Algemene nuus, soos kennisgewings van vergaderings, navrae deur lede, mededelings deur lede is in die kwartaallikse nuusbrief opgeneem. FAMILIA en die nuusbrief was veronderstel om gesamentlik elke drie maande versprei te word, maar weens die omvang van die werk en ander redes het dit bykans nooit korrek verloop nie.

Die destydse Transvaaltak (later Noord-Transvaaltak) het voorgestel dat dié tak verantwoordelikheid vir die Nuusbrief sou neem en ek is gevra om die Nuusbrief te behartig. Ek het hierdie taak met blymoedigheid aanvaar en was altyd, op tyd, gereed met die nuusbrief vir die betrokke kwartaal. Ek het tot Mei 1991 die funksie vervul.

Sedert 1989 is daar besluit dat die bestuur van GGSA voortaan nie net deur lede van die Wes-Kaap gevul sou word nie en gedurende 1992 en 1993 is mnr. Conrod Mercer van die Suid-Transvaaltak as nasionale president en ek as vise-president van die Nasionale bestuur verkies. Gedurende Maart 1994 en weer gedurende Maart 1995 het die GGSA besluit om spesiale merietetoekennings aan my te maak “vir my uitstaande bydrae tot die vakgebiede van genealogie in Suid-Afrika”.

Met my verhuising na die Overberg was ek verplig om my verpligtinge as vise-president van die GGSA neer te lê, weens die feit dat ek so ver van alle takke gewoon het.

Soos die nuwe Suid-Afrika ontvou en dit duidelik geword het dat Afrikaners self na hulle kultuurgoedere sou moes begin omsien, het ek besef dat die Henning-familie se geskiedenis ten volle genestel was in die geskiedenis van hierdie nuwe volk wat hier aan die suidpunt van Afrika ontwikkel het. Ek het dus aan die bestuur van die familiebond voorgestel dat ons, as ’n familiebond, moes deelneem aan die herdenking van kultuuraktiwiteite, waar ons geweet het die Hennings deel aan gehad het.

Die eerste stap was om die familiebond as lid van Die Erfenisstigting in te skryf. Ekself sou die verteenwoordiger van die Henning Familiebond wees.

As gevolg van die verval van die Bethulie Konsentrasiekamp-gedenkteken en -begraafplaas, besluit die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, in Bloemfontein, in samewerking met die Erfenisstigting en ander kultuurorganisasies gedurende 2010 om ’n Konsentrasiekamp-gedenkteken op die terrein van die Oorlogsmuseum en Vrouemonument op te rig. Hulle het begin om donasies in te samel vir die oprigting van so ’n gedenkteken.

Vyftien Henning-vrouens en -kinders het gedurende die Anglo-Boereoorlog (ABO) in die Bethulie “Helkamp” gesterf. Die Henning Familiebond het gevolglik ruim bygedra tot hierdie oprigtingskoste. Die naam van die Henning Familiebond verskyn op ’n gedenkplaat by hierdie nuwe gedenkteken by die Oorlogsmuseum.

Hierna volg drie verdere skenkings aan die Oorlogsmuseum vir die oprigting van ’n gedenkmuur met die name van alle burgers wat gedurende die ABO gesneuwel het, die kunsprojek met die herdenking van die eeufeesviering van die Nasionale Vrouemonument en die herwinning van die pediment van die ou Vierde Raadsaal van die Republiek van die Oranje Vrystaat.

Wat ook van belang is, is dat die geld wat die familiebond tot die oprigting van die Konsentrasiekamp-gedenkteken bygedra het, aangewend is om ’n matrys te maak van die engelbeeld wat oorspronklik in Bethulie gestaan het, maar wat later in die Oorlogsmuseum uitgestal sou word. Met hierdie matrys kon die Oorlogsmuseum nou replikas maak vir die nuwe Gedenkteken asook vir die nuwe Bethulie-gedenkteken wat die Bethulie gemeenskap kort hierna self heropgerig het. Die Henning Familiebond het dus ook hier, indirek ’n bydrae gelewer.

Graaff-Reinet kan werklik as die bakermat van die Henning-families van Suid-Afrika beskou word. Ons ou stamvader, Pieter Hendrik Henning het reeds vanaf die stigting van die distrik in 1785 daar “Achter de Sneeuwberg” geboer. In die beginjare het Pieter Hendrik Henning duidelik ’n belangrike rol daar gespeel – veral met die uitroeping van die Republiek van Graaff-Reinet in 1795. Hy was een van die 267 burgers van Graaff-Reinet wat in April 1795 die Republiek van Graaff-Reinet uitgeroep het.

Andries Pretorius, Andries Hendrik Potgieter, Louis Trichardt en Gerrit Maritz was almal Voortrekkerleiers wat inwoners van die Graaff-Reinet-distrik was ongeveer dieselfde tyd toe Pieter Hendrik Henning en later sy seuns ook hier gewoon het. Hulle het mekaar in alle waarskynlikheid geken.

Pretorius het sy tog na die Noorde gedurende die Groot Trek van Graaff-Reinet af begin. Daar is gevolglik gedurende 1943 ’n monument ter ere van hom langs die N9-nasionale pad opgerig. Ongelukkig het daar na die 1994-bewindsoorname ’n plakkerskamp op dieselfde terrein ontwikkel en het dit te gevaarlik geword om hierdie monument te besoek.

Gedurende 2012 besluit die Rapportryers en die AB-tak van Graaff-Reinet om fondse te begin insamel om hierdie monument na ’n nuwe, veiliger terrein binne die Camdebo Nasionale Park, Graaff-Reinet, te verskuif.

Ek het van hierdie poging verneem en het onmiddellik die saak aan die bestuur van die Familiebond voorgelê. Ons het weer besluit om by te dra en vandag pryk die naam van die Henning Familiebond ook op ’n paneel by die nuwe standplaas van die monument.

Met die nuwe 1994-politieke bedeling het ’n nuwe politieke party in 1995 die bewind in die nuwe munisipale distrik van Maletswai (Aliwal-Noord) oorgeneem. Die hartlike samewerking tussen die Henning Familiebond en die plaaslike munisipaliteit het ongelukkig hiermee tot ’n einde gekom. Die munisipaliteit het alle instandhoudingswerk aan die Kerkplein-museum, waar die Henning-uitstalling gevestig was, gestaak en gerugte het die rondte begin doen dat die munisipaliteit die gebou as ’n stoor wou gebruik. Selfs ’n welwillendheidbesoek wat ek by die burgemeester afgelê het om hulle te oortuig dat die museum ’n bate vir die dorp is, het nie gehelp nie. Die verval het net voortgeduur. Verskeie inwoners van Aliwal-Noord het my begin waarsku dat ons uitstalling in groot gevaar is.

Gedurende 2018 het een van die lede van die familiebond die saadjie by my geplant om ’n virtuele familiemuseum op Internet te skep. Ek het van die gedagte gehou en  onmiddellik met Jannetta Steyn bespreek. Ons het dadelik met voorbereidingswerk begin en vandag kan hierdie pragtige virtuele museum op die Henning-webwerf by www.henning.org besigtig word. Ons kon nou selfs van die waardevolle meubelstukke, wat mense steeds in hul huise gebruik en nie wou afstaan nie, in hierdie virtuele museum gebruik.

Slegs een van die doelwitte wat ons vir die Henning Familiebond gestel het, is nog nie bereik nie. Dit is die daarstelling van ’n beursfonds waaruit beurse vir belowende Henning-studente toegeken kan word.