Dit is nou al vyftien jaar sedert Jan Blohm se debuutalbum, Melkstraat confessions, vrygestel is; sedertdien het hy hom as een van ons land se voorste woordkunstenaars gevestig.

Sy jongste album, Jenny, is iets heeltemal nuut vir hom, naamlik sy eerste konsepalbum. Dit vertel die verhaal van twee tieners wat in 1980’s op De Aar woon. Hy wou lankal hierdie projek aanpak en het reeds besluit dat dit die klankbaan vir sy rolprent met dieselfde naam gaan wees. Daar is ’n verhaal agter “Levi Jeans”, die derde enkelsnit vanaf die album. Dit was gewoonlik werkers wat hierdie tipe denimbroek gedra het, maar dit het só gewild geword dat dit gou in ’n modegier ontaard het.  Die tema van die liedjie is bevryding en bemagtiging, aangesien vroue lank verbied is om dit te dra. Jan is ’n groot kunsliefhebber en die musiekvideo is in Lionel Smit se kunsateljee opgeneem.  Dit bevat skote van pragtige skilderye en beelde wat simbolies is van die kreatiwiteit agter hierdie album en produksie. Lionel was agter die kamera vir hierdie video en die boodskap is dat kreatiwiteit bevrydend kan wees.

Die tweede snit, “Nonnie”, is Jan se eie komposisie, soos die meeste ander snitte op die album.  Die titelsnit van die album is kort voor die inperking uitgereik en die doel was om die luisteraars aan die hoofkarakter in die verhaal bekend te stel. “Ou Karoo” het ’n baie groot treffer op verskeie radiostasies geword, selfs dié wat nie noodwendig sy musiek gereeld speel nie. Dis maklik om te verstaan hoekom; dit is beslis een van die beste liedjies van die jaar. Dit lê klem op die landskap wat deur hierdie mense se are vloei en maak dat hulle moeilik elders aanpas. Omdat die hele album in die Karoo afspeel, was die doel van die musiekvideo om mense aan die omgewing bloot te stel. Die video is in een dag by De Doorns, naby Touwsrivier, verfilm. Dit is die eerste plaas in die Karoo en volgens Jan besef mense nie hoe mooi die omgewing is nie.

“Soos ’n lady” is ’n baie mooi snit wat Jan self geskryf het. Die ou Hallelujalied “Waarom nie nou?”, was dalk die inspirasie agter sy komposisie met dieselfde naam. “Lallie” is die eerste snit op die album wat hy nie self geskryf het nie; dit is ’n komposisie van Koos Kombuis wat ook al deur Theuns Jordaan opgeneem is.  Jan kan ook lekker rock, soos wat hy op “Waar kry jy jou naam vandaan?”, bewys. Draai maar die volume vol oop as jy daarna luister! “Nog ’n song” kan as ’n kort tussenspel beskou word, aangesien dit net ’n minuut lank is. Die wysie van “As jy my nou kon sien”, klink dadelik bekend. Nee, dit is nie Steve Hofmeyr se liedjie met dieselfde naam nie, maar ’n Afrikaanse weergawe van Dobie Gray se nr. 1-treffer “Loving arms”. Die lirieke is byna regstreeks vertaal, maar dit klink beter as wat ’n mens sou dink. “Sannie van der Spuy” was ’n karakter wat David Kramer geskep het en van die fiktiewe dorp Volstruis afkomstig was. Jan se liedjie met dieselfde naam is egter sy eie komposisie.  “Dans my deur ’n veldbrand” is ’n mooi snit met baie goeie kitaarwerk. “Dawid” is nog een van Jan se eie komposisies, en hy stel sy vokale reikwydte hier baie goed ten toon. Die album word afgesluit met die lekker rock-snit, “My beminde”, wat beslis ’n treffer kan word.

Dit lyk asof hierdie album reeds besig is om gewild te word, en dis maklik om te verstaan hoekom. Wanneer ’n kunstenaar wie se musiek op ’n nismark gemik is, ’n trefferliedjie of -album uitreik, dink sommige geharde aanhangers dat daardie kunstenaar skielik te kommersieel geword het. Dit is beslis nie met Jan die geval nie. Hoewel die album by ’n breër gehoor as sommige van sy vroeër vrystellings byval sal vind, sal dit nie sy gevestigde aanhangers vervreem nie. Dit is sonder twyfel ’n skitterende album, en een van die heel bestes wat vanjaar uitgereik is.