Liefdeshartaanval – Riaan Grobler

Deur die jare was daar ’n aantal radio-omroepers wat ook ’n sangloopbaan begin volg het, maar die enigstes wat regtig sukses behaal het, was wyle Lance James, Pieter Koen, Leon Schuster en Riaan Grobler.

Riaan was vroeër ’n omroeper by Radio Rippel en Groot FM, maar is nou by Pretoria FM. Hy is ook reeds sedert 2005 ’n sanger, en ’n paar van sy liedjies het al treffers geword. Sy jongste album, Liefdeshartaanval, is pas vrygestel nadat die uitreiking daarvan deur die Covid-19-pandemie vertraag is.

Omdat Riaan nog steeds ’n radio-omroeper is, ken hy plaaslike kunstenaars baie goed. Op die titelsnit sing hy saam met Jennifer Zamudio, wat vanjaar haar twintigste jaar in die musiekbedryf vier. “Vat hom vas” is ’n lekker snit wat deur Rudi Claase geskryf is en ’n treffer kan word. Daar is egter nie net splinternuwe snitte op die album nie, en Riaan het ’n paar bekendes ingesluit. Die eerste daarvan is “Ek wil lewe vir môre”, wat aanvanklik ’n treffer vir Hugo Nieuwoudt was. Dit kan van voor af weer gewild word. Riaan het nog nooit ’n geheim daarvan gemaak dat Bles Bridges een van sy gunsteling kunstenaars was nie, en op hierdie album het hy Bles se treffer “Love is my destiny” ingesluit. Riaan beskou homself as ’n impulsiewe mens, en “Bonkers”, nog ’n Rudi Claase-komposisie beskryf dit baie mooi. Riaan het vir Tertius Pretorius riglyne vir liedjies gegee, en Tertius het “Vir ewig”, asook die pragtige snit “Koue hart”, geskryf.

“Meer en meer” was ’n treffer vir Anneli van Rooyen, en is deur wyle Fredi Nest geskryf. Fredi was ’n uitstekende liedjieskrywer en sanger, maar die woorde van hierdie liedjie is té herhalend. “Rys op” bevat eintlik ’n taalfout, want dis ’n regstreekse vertaling van “Rise up”, maar die boodskap van dié Rudi Claase-komposisie vergoed tot ’n mate daarvoor. Die heel eerste liedjie wat Riaan ooit gesing het, was Philip Moolman se oordrewe sentimentele komposisie “’n Bietjie kwyt (Vissies)”. Riaan het egter gevoel dat die tyd nou eers reg was om dit op te neem. Riaan vertel dat Christo en Cobus se treffer “Daar sal nuwe winde waai” sy pa se groot gunsteling is, en Riaan het daarom besluit om dit vir hierdie album op te neem. “Klop klop aan jou hart” is nog ’n snit wat ’n treffer kan word. Rudi Muller het homself die afgelope tyd gevestig as ’n sanger van kontemporêre Christelike musiek en “Alfa en Omega” is een van sy gewildste liedjies tot dusver in hierdie genre. Riaan het besluit om dit vir hierdie album op te neem. Die laaste snit is ’n sokkie-weergawe van “Ek wil lewe vir môre”.

Riaan het weer eens vorendag gekom met ’n album wat by ’n breë gehoor byval sal vind, en daar is ’n paar snitte wat trefferpotensiaal het. Diegene wat hom net as ’n radio-omroeper ken, kan gerus die moeite doen om hierdie album behoorlik deur te luister, want daar kan geen twyfel oor sy talent as sanger bestaan nie.