As jy op soek is na ’n lekker Afrikaanse rock-album …

In 2015 het die publiek vir die eerste keer van Wit Kasteel kennis geneem toe hul rock-weergawe van Laurika Rauch se treffer “Die nostalgie” die eerste plek op ’n paar radiostasies se trefferslyste gehaal het.

Nou is hulle terug met hul jongste album, Toegewyd. Die titelsnit is ’n komposisie van Hugo Ludik, wat deel is van die groep Adam, en dis reeds besig om ’n treffer te word. Dit is ’n kommersiële rock-snit wat gaan oor positiwiteit in moeilike tye, en om hierdie rede is dit as titelsnit gekies. Die rock-kitaarwerk op “Nog een” is uitstekend, en maak dat jy die volume lekker wil oopdraai. Dit is ’n snit wat gemik is op dié wat daarvan hou om lekker te kuier. “Herinnering” is nog ’n lekker snit, en het ’n effens nostalgiese gevoel. ‘Jy maak my mal” is nog een van die lekker rock-snitte op die album, en weer eens laat die kitaarwerk jou lekkerkry, net jammer vir die vloekwoord wat hierin voorkom. “Deel dit uit” is ’n rock-ballade; moenie dat die akoestiese kitaarwerk aan die begin jou om die bos lei nie! Elke mens is ’n hoogtepunt op die album, want die woorde laat jou dink. Daar is seker niemand wat nie seer van die verlede dra nie. Hopelik sal hierdie snit baie radiolugtyd kry! “Gee my dorp terug” is nog ’n snit met ’n nostalgiese gevoel; diegene wat Pretoria onthou soos dit vroeër jare was, sal hiervan hou.

Soos op hul eerste album het hulle weer ’n paar bekende snitte ingesluit, en die eerste hiervan is ’n uitstekende weergawe van The Animals se treffer “House of the rising sun”, waarop Elizca Coetzer saam met hulle sing. “Laaste keer” is nog een van die kort rock-liedjies wat so kenmerkend van die album is, en behoort ’n treffer te word. “Bloedoog bottelboer” is nóg ’n snit met kitaarwerk wat jou laat lekkerkry. Die laaste twee snitte is weer nuwe opnames van bekende treffers; die eerste een is ’n lekker rock-weergawe van Jerry Lee Lewis se “Great balls of fire”.

Daar is min albums waarmee jy aan die een kant die bure wakker kan maak, maar aan die ander kant na kan luister, omdat die meeste snitte se lirieke regtig iets om die lyf het. As jy op soek is na ’n lekker rock-album, maar een wat nogtans kommersieel toeganklik is, sal jy hierdie een geniet!