’n Waardevolle toevoeging tot Anglo-Boereoorlog-bronne

Maggie – My lewe in die kamp

Outeur: Maggie Jooste

Uitgewer: Tafelberg

Resensent: Petronel Fourie

“Ek wil niemand veroordeel nie, of bitter wees nie, maar kan nie ons bittere lyding en ontberings vergeet nie,” skryf Maggie Jooste in hierdie boek, wat haar persoonlike ervarings as 14-jarige dogter in ’n konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog beskryf.

Jooste het haar storie eers in 1962, op 76-jarige ouderdom neergeskryf, maar die herinneringe was nog helder in haar gemoed. Sy vertel so eenvoudig en tog lewendig, jy betwyfel nie vir ’n oomblik die waarheid daarvan nie. Prof. Fransjohan Pretorius beskryf dit raak as ’n blik deur die oë van ’n intelligente en oplettende tienermeisie.

Jooste vertel kortliks hoe haar gesinslewe voor die oorlog verloop het – gelukkig en redelik sorgvry, met die opwinding en streke wat ’n gesonde kindertyd kenmerk. Die welgestelde gesin van ’n wamaker in Heidelberg, Transvaal, het gemaklik gelewe voor die oorlog.

Maar dorpsmense van hoë aansien is geensins die vernedering van die konsentrasiekampe gespaar nie. “Toe breek daardie vreeslike dag van 23 Junie 1900 vir ons aan … daardie dag het die vroue en kinders wat agtergebly het se onbeskryflike smart en angs van langer as twee jaar begin.”

In Jooste se boek lees ’n mens ’n paar minder bekende realiteite van daardie tyd raak, soos dat die vroue wie se mans op kommando was, nie uit hul erwe mag kom nie en nie eers kon waag om ’n kers op te steek nie – “sodra daar ’n liggie brand, is daar op die huis geskiet. Ses maande lank kon ons geen kos koop nie. Baie mense glo dit nie en wil weet waarvan ons dan geleef het. Ja, waarvan hét ons geleef? Niemand is toegelaat om iets te verdien nie.”

Haar gesin se beurt om weggevoer te word, het op 5 Desember 1900 aangebreek. Hulle het vir oulaas lekker gebad en geëet wat daar was. Dit was na al die jare steeds vir haar moeilik om dit wat hulle in die daaropvolgende drie dae deurgemaak het, te beskryf, toe hulle met goederetreine na Pietermaritzburg geneem is. Die smarte en lyding het elke dag toegeneem. ’n Hele paar van die kinders het op die tog in die trokke gesterf.

“Eers jare later het ek ’n beeld in my kop gevorm van hoe ons moes gelyk het na dae saamgebondel in ’n vuil trok sonder sanitêre geriewe of water om te was,” skryf sy. “Hoe kon ons skoon en netjies gelyk het vir die honderde nuuskierige Engelsgesindes wat op die stasie met kameras gewag het om te sien hoe die eerste ‘refugees’ lyk? Oral het ons minagtende aanmerkings van ‘Dirty Dutch’ gehoor.”

Sy beskryf die karige kos wat hulle in die kamp gekry het, hoe hulle probeer skoon en gesond bly het, meestal vergeefs. Haar ma het later ’n geldjie verdien met naaldwerk en wasgoed stryk en kon dan medisyne en ontsmettingsmiddel koop. Nog baie ander besonderhede oor die kamplewe gryp ’n mens aan, soos die afsonderlike tente wat eenkant staangemaak is vir vroue wat in die kamp swanger geraak het, die ewige wete in ’n dogter en vrou se agterkop dat sy moontlik misbruik kan word. Ook die krag wat die einste vroue ten toon gestel het wanneer dit by sake van die hart gekom het – soveel so dat die Engelse byvoorbeeld op Dingaansdag te bang was om die groep singende vroue uiteen te probeer jaag.

Toe die oorlog verby was, moes duisende kinders huis toe gaan met hul gesondheid geknak en ’n groot agterstand in onderwys, onthou sy. Die tuiskoms was ook ’n skok, want pleks van ’n netjiese en goed gemeubileerde huis, het hulle net ’n leë dop gekry, vuil en verniel. Van haar pa se florerende wamakersbesigheid was nie ’n steen opmekaar of ’n enkele spyker te sien nie.

Tog is hulle geleer om dapper te wees en nie met lang gesigte rond te loop nie. “Ma het ons ook geleer om onder alle omstandighede netjies te wees. Daarom het die buitewêreld nooit geweet wat ons deurgemaak het nie.”

In dié boek lees die buitewêreld eindelik van hul swaarkry en ontnugtering. Dis van alle pretensie gestroop en ’n waardevolle toevoeging tot Anglo-Boereoorlog-bronne.