Die rol van die Wes-Kaapse Argief in genealogiese navorsing oor (Suid-)Afrikaanse families

deur Helena Liebenberg

Opgedra aan my vriendin en kollega
Maureen Agnes Rall
(†4.1.2021)

  1. Inleidend

Die Tracing History Trust en lede van die transkriberingspan is geen onbekendes in Suid-Afrikaanse Genealogiese kringe nie. Die trustees het al sedert die totstandkoming van die Trust in 2008 die voorreg om as genooides aan plaaslike genealogiese byeenkomste en feeste deel te neem. Die laaste sodanige geleentheid waaraan die uwe deelgeneem het, was mev. Isabel Groesbeek se uiters suksesvolle Genealogie- & Familie-Erfenisfees in 2018 in Pretoria. Hierdie inligting ter inleiding bring die res van die artikel in die gepaste genealogiese perspektief.

  1. Dokumentontsluiting en genealogie

Omdat die drie voltooide transkriberingsprojekte waarvan ek u vervolgens gaan vertel, Kaapse en in besonder VOC-argiefmateriaal van 183 jaar (1651-1834) ontsluit het, het letterlik duisende mense uit die voorheen geslote boeke opgestaan en ’n stem in woorde op skrif gekry, waarvan amptenare, vryburgers (o.a. Hugenote), slawe, bannelinge en inheemses die belangrikste groepe was.

Dit spreek vanself dat Afrikaanse familienavorsing ten nouste aansluit by die inligting wat tussen 2001 en 2020 tydens die TANAP-, TEPC- en VOC-Daghregisterprojek beskikbaar gemaak is. Dit is juis in sodanige argiefdokumente waar die interessantste  kinkels en kabels in familielyne aangetref word.

Benewens plek- en persoonsname, vanne, familieskakels, datums, en in ons mense se geval skeepsname, is die familienavorser ook geïnteresseerd in bykomende gegewens wat aan hierdie of daardie familie of familielid se verhaal lyf kan gee. Hierdie en verwante argiefmateriaal vorm deel van die gedokumenteerde erfenisskat wat elke aspek van die Kaapse samelewing, kultuur en geskiedenis belig, en verder verryk word met talle voorbeelde van Afrikaans as taal in wording.

Gevallestudies oor bepaalde persone kan gevolglik met groot sukses uitgevoer word indien verbandhoudende inligting wat verspreid voorkom in hierdie argiefdokumente, synde primêre bronne, onttrek en verwerk word tot ’n sinvolle geheel. Die volgende twee gevallestudies wat die uwe onderneem het, was besonder suksesvol juis omdat daar so ’n groot hoeveelheid gedokumenteerde materiaal uit die onderskeie argiefreekse beskikbaar was: “Maria Magdalena Marais – melaatse van La Cotte in die Fransse Hoek”,[1] asook “Oosterse Adel aan die Kaap – die gedokumenteerde verhaal van die prinsebroers Loring Passir en Dipa Nagara”.[2] Twee ander gevallestudies is dié van “Angela van Bengalen”, stammoeder van die Basson-familie, asook “Eva-Krotoa van Herrijs volk”.

  1. TANAP[3] (2001-2003) – geleentheid van ’n leeftyd

Die Nederlandse TANAP-program, ’n gesamentlike onderneming van die Nationaal Archief in Den Haag en die Rijksuniversiteit van Leiden in medewerking met UNESCO se Memory of the World-program, het geld bewillig vir die digitale beskikbaarmaking van die Resolusies van die Politieke Raad aan die Kaap (1651-1795). Twee Suid-Afrikaanse TANAP-projekte, naamlik die transkriberingsprojek en die XML-omskakelingsprojek, is van stapel gestuur. Dié gelyklopende projekte met ’n omvang van ~7 miljoen woorde, het van Oktober 2001 tot September 2003 geduur.

Elke belangrike gebeurtenis aan Cabo de Goede Hoop is deur die VOC-amptenary aangeteken sedert 1651 se eerste Resolusie op 30 Desember 1651 deur Jan van Riebeeck en sy skeepsraad aan boord van die Drommedaris tot die laaste Resolusie op 16 September 1795 met die eerste Britse oorname waar die voorwaardes vir oorname in Engels naas Nederlands geskryf en in die Kasteel onderteken is.

Die Resolusies is oor die algemeen geskryf in pragtige sierskrif, aanvanklik in Goties wat lyk soos kosbare kerkhandskrifte, afgewissel deur moeilik leesbare handskrifte, maar teen die einde van die VOC-tydperk – van die 1790’s af – het die letters in party bande soms byna tot onsigbaarheid verdof. Die dokumente is geskryf met gansveerpenne vasgehou deur skribas, gewoonlik Nederlandssprekend. Die hoofbestanddeel van die ink wat plaaslik gemaak is, was die sap van boomwortels; wanneer ek my boek in die oggend oopgeblaai het, was ek bewus van die vars, skerp reuk van die Tzitsikammawoud en Kaapse fynbos.

Omdat die Resolusies dien as ’n geweldige bron van inligting oor ’n legio onderwerpe, is dit bykans ’n vanselfsprekendheid dat die entoesiastiese navorser, hetsy genealogies of andersins, hom/haar kan oorgee aan ondersoeke van watter toepaslike aard ook al. In die uwe se geval het dit gelei tot gepubliseerde artikels oor Afrikaans, asook die VOC-tydperk, waaronder “Jan van Riebeeck se Daghregister”, “Oor Kaapse landbouers en seisoene”, “Die ontstaan van Kaapse plekname”, “Transkripsies uit die VOC-verhaleskat”, “Agie en die Wolf” (oor Afr. idiome, Vrouekeur, 30 Augustus 2002); “Die waagmoedige taalsuster” en “Woorde uit eergister vir vandag”.

CD 1 – TANAP

Resolusies van die Politieke Raad van die Kaap de Goede Hoop (1651-1795) – volledig getranskribeer en XML-gekodeer.

Omvattende tweetalige inleiding met belangrike geskiedkundige inligting en redigeerder van die Glossarium met vreemde woorde.

  1. TEPC[4] (2004-2008) – ’n tweede gulde kans

Met onderhandelings afgehandel en befondsing gereël deur die Nederlandse Konsulaat in Kaapstad, word die TEPC-transkriberingsprojek in 2004 ’n werklikheid. Hoewel die projek aanvanklik slegs 18 maande sou duur, word dit vanweë tevredenheid met die vordering en gehaltewerk telkens verleng en duur uiteindelik 4 jaar, waartydens 4,5 miljoen woorde ontsluit is.

Die dokumentreekse wat tydens hierdie projek getranskribeer is, is van die rykste bronne vir genealogiese navorsing. Inventarisse van intestate boedels koördineer met die vendusierolle en in ’n mate met die boedelrekenings, terwyl die VOC-monsterrolle inligting bevat oor al die amptenare in diens van die Kompanjie aan die Kaap. Die gegewens word op hulle beurt aangevul en/of bevestig deur inligting uit die Resolusies en die VOC-Dagregisters. Die omvattende inleidings, indekse van oorledenes, van slawe-, plek- en plaasname, glossariums en artikels oor verwante onderwerpe, verskyn op voorgaande twee CD’s. Al die Resolusies asook die inventarisse wat tydens TEPC getranskribeer is, verskyn ook op die Nationaal Archief Nederland se webblad.

’n Groot probleem vir die familienavorser is ongeplaaste persone, of persone van wie die ouers onbekend is. Tydens die TEPC-projek kon ons talle kere potloodaantekeninge in die Leeskamer-eksemplare van De Villiers/Pama en Heese/Lombard maak wanneer ons op regstelbare gegewens in die transkripsies afgekom het. Een sodanige regstelling was in DeVilliers/Pama waar gemeld word dat Simon Johannes Visser se ouers onbekend was. Uit twee inventarisse het geblyk dat Simon se moeder Constantia van de Kaap was (MOOC8/68.4 en MOOC8/40.23).

TEPC-spanlede op een van die punte van die Kasteel. V.l.n.r.: Dr. Antonia Malan (projekbestuurder), mev. Illona Meyer (redigeerder), mej. Fiona Clayton (transkribeerder), mev. Maureen Rall (transkribeerder en Eng. vertaalster, 2021), Helena Liebenberg (senior redigeerder en kantoorhoof) en mnr. Kobus Faasen (transkribeerder, 2014). Mej. Erika van As (redigeerder) was afwesig. Latere spanlede was mev. Annemarie Krzesinski (transkribeerder), mev. Rina Guillon (transkribeerder, 2009), mej. Jean Blanckenberg (transkribeerder, 2013) en mev. Marianne Timmerman de Kroon (indekseerder). Mnr. Jaco van der Merwe van die Kaapse Argief het ’n besondere waardevolle inset tydens al die transkriberingsprojekte gelewer.

Toekenning ontvang (kunstenares Liz Lacey)

In 2006 word ’n internasionale kongres in Kaapstad deur TEPC aangebied en die span se individuele lesings verskyn in Household Inventories at the Cape, asook in die 2007-kongresbundel getiteld Contingent Lives – social identity and material culture in the VOC World. In 2007 skenk die Van Ewijck-Stigting R50 000 as prestasietoekenning aan TANAP en TEPC gesamentlik; die geld word in 2008 en later aangewend.

Twee verdere gebeurtenisse om ’n belangrike projek mee af te sluit: Tydens die Wes-Kaapse Kuns, Kultuur, en Erfenis-toekenningseremonie in 2007 by die Kasteel, ontvang die TEPC-span die gesogte toekenning as beste instelling wat die Argiefdiens deur gepubliseerde artikels en/of besoeke bevorder het.

Tydens die projek is daar ’n voortdurende toeloop by ons werksplek in die Leeskamer, onder andere van navorsers, talle skoolgroepe, asook hooggeplaastes (o.a. ’n Ndl. kultuurafvaardiging en die Ndl. Ambassadeur in Pretoria, asook die Indonesiese Konsul-Generaal in Kaapstad, mnr. Andrajati, en sy personeel).

Die Indonesiese Konsulaat reël vir 8 Januarie 2008 ’n werkswinkel wat deur ongeveer 40 Moesliem-navorsers, die Konsul-Generaal en sy personeel, asook TEPC-lede bygewoon is. Die uwe is genooi om die hoofaktiwiteit (gevallestudies) aan te bied.

Na afloop van die lesing het die aanwesiges aan groepbesprekings deelgeneem. Aan die kop van die tafel sit mnr. Andrajati regs en ’n US-geskiedenisdosent links, met die uwe links voor.

Aan die einde van ’n baie suksesvolle, leersame en aangename byeenkoms oorhandig die Konsul-Generaal, mnr. Andrajati, aan dr. Antonia Malan ’n besonderse toekenning as blyk van dank en waardering vir die werk wat tydens die TEPC-projek deur die span gelewer is.

Consulate General of the Republic of Indonesia
Cape Town

Afgesien van die drie omvattende Introductions wat elke hoofafdeling van die projekwerk ingelei het, het spanlede ook individuele bydraes gelewer, onder andere

Transcribing the Inventories – personal experience bestaande uit die volgende artikels:

  • Into Cape homes of the 17th and 18th century: E. van As
  • Present in the past: F. Clayton
  • Transcriptions are like puzzles: A. Krzesinski
  • Rendezvous in Roelandstraat: K. Faasen
  • Hidden lives revealed: M. Rall
  • Home remedies echoing the past: I. Meyer
  • Dutch, Afrikaans and the Inventories: H. Liebenberg

aangevul deur:

  • The Orphan Chamber of 1792: a visit – recreating interiors from room-by-room inventories:
    Liebenberg en A. Malan
  • Bilingual list – Dutch and English: M. Rall
  • Bilingual list – Malay and English: H. Liebenberg en K. Faasen

Van groot mediese waarde is die transkripsie deur M. Rall: Huislijk geneeskundig handbook voor de ingesetenen van Nederlands Africa; beschreifen door J:F: Häszner, gesworne chijrurgijn der Colonie Graaffe Rijnette. Cabo de Goede Hoop 1793.

In aansluiting by Häszner se handboek en vanweë die deernis teenoor jong gesinne waar die mamma tydens of binne ’n jaar na ’n geboorte oorlede is, het Maureen Rall hierdie sterfgevalle tussen 1720 en 1824 opgeteken en navorsing daaroor gedoen. Twee familiename het deurgaans voorgekom, naamlik Van der Merwe en Botha. Van die 634 sterftes was 3.16% Van der Merwe-vrouens en 2.68% Botha-vrouens. 45% Van der Merwe-vrouens en 33% Botha-vrouens sterf met die geboorte van hul eersteling. Genetika het waarskynlik hier ’n rol gespeel. Die titel van hierdie artikel wat ook op die CD voorkom, is “Table of women whose deaths were childbirth-related”.

CD 2 – TEPC

1. Inventarisse van intestate boedels (MOOC8, 75 bande getranskribeer)

2. Vendusierolle (MOOC10, 5 bande getranskribeer plus 40 geïndekseer)

3. Bandietenrollen (15 bande getranskribeer)

(1.-3. se transkriberings XML-gekodeer)

4. Boedelrekenings (MOOC14, 85 bande geïndekseer)

5. VOC-monsterrolle (18 bande getranskribeer).

  1. Stigting van die Tracing History Trust (THT)

In Februarie 2008 is die Trust as niewinsgewende entiteit geregistreer met as hoofdoelwit die ontsluiting deur transkribering van VOC-argiefdokumente as voortsetting van die werk wat tydens die twee voorafgaande projekte gedoen is. Die stigterslede was dre. Antonia Malan, Helena Liebenberg en Fanie Marais van Cordis Trust, Pretoria. Na laasgenoemde se bedanking is mev. Maureen Rall, mev. Marianne Timmerman-de Kroon en mnr. Jaco van der Merwe in 2017 as trustees benoem.

Aangesien die Trust geen eie fondse of lopende inkomste het nie, buiten die verkoop van produkte (CD’s en boeke) teen ’n klein winsgrens, is suksesvolle fondswerwing van die grootste belang, want daarsonder gebeur geen projek of produk nie. Positiewe bemarking en die goedgesindheid van befondsers ter wille van ’n kultuur-bevorderende projek, was in al onderstaande gevalle van deurslaggewende belang.

  1. “Vrijboek”-lyste – baanbrekerswerk

Die heel eerste projek deur die Trust is onderneem met die R50 000-prestasietoekenning deur die Van Ewijck-Stigting. In 2007 stuur THT ’n fotograaf na die Nationaal Archief, Den Haag om die VOC-monsterrolle en “Vrijboek”-lyste (insluitend Kamer Zeeland-lyste) wat in die Wes-Kaapse Argief ontbreek, af te neem. Die beelde is plaaslik getranskribeer en geredigeer. Met Cordis Trust se bydrae is die derde THT-CD ontwikkel en die produk beskikbaar gestel. Hierdie lyste is weer eens van genealogiese belang, aangesien etlike stamvaders se inligting hierin vervat is.

  1. VOC-Daghregisters – vertoonstuk in verskillende fases (2015-2020)

Die volgende projek wat die Trust geïdentifiseer het, is die beskikbaarstelling van die VOC-Daghregisters van die Kaap de Goede Hoop vanweë die ontsaglike hoeveelheid inligting wat daagliks in redelik informele styl oor alle wetenswaardige gebeure aangeteken is, hetsy dit oor die weer, Khoekhoen-stamme, aankomende en vertrekkende skepe of vermiste vaarders, slawehandel, binnelandse ekspedisies of wat ook al gehandel het. Die getranskribeerde omvang van die VOC-Daghregisterprojek in geheel beloop ~4 miljoen woorde.

By ondersoek is gevind dat die volgende VOC-dagregisters in sowel die Kaapse Argief as die Nationaal Archief Nederland ontbreek: 1688, 1691, 1790, 1792, 1793 en 1795[5].

Die volgende moontlike verklarings waarom 1688 en 1691 se Kaapse dagregisters nêrens bestaan nie, is gevind in die RGP[6]-reeks (met dank aan mnr. Jaco van der Merwe, senior argivaris, Kaapse Argief):

  • Die VOC-skip Zuid-Beverland (bl. 130-131) keer in 1689 terug na Nederland nadat dit by die Kaap aangedoen en o.a. die possakke aan boord geneem het. Pas na die skip se aankoms in Amsterdam het dit in die hawe uitgebrand, die Kaapse 1688-dagregister daarmee saam.
  • Die VOC-skip Waterland (bl. 136-137) met Kommandeur Kemp as aanvoerder van die terugkerende vloot het die Kaap in 1692 aangedoen en o.a. die 1691-possakke aan boord geneem. Op die terugvaart is die Waterland deur ’n Franse skip aangeval en dit het gesink. Die Franse kon die betrokke possakke gekonfiskeer het, of anders het dit saam met die skip vergaan.

Fase 1

Die Trust het ook gemerk dat daar 11 jaar se joernale in die Wes-Kaapse Argief ontbreek. Met behulp van etlike befondsers, o.a. prof. Stefan Grab, Universiteit van die Witwatersrand, is hierdie dagregisters wat in 2010 deur die Trust se fotograaf in die Nationaal Archief Nederland afgeneem is, plaaslik getranskribeer en as vier CD’s, elk met ’n eie inleiding, beskikbaar gestel. Die jare wat gedek is, is 1687, 1692, 1695, 1699, 1700, 1704, 1706, 1709, 1713, 1714 en 1789.

Dit gebeur dikwels in die Dagregisters dat groepe mense se name genoem word, wat waarskynlik vir ’n genealoog vanweë verskillende redes belangrik kan wees. Vergelyk die lys vryburgers wat in die 1692-dagregister (bl. 356-357) moes omsien na die paaie in Drakenstein, Perel en Stellenkeur, asook die driwwe oor die Bergrivier. Hieruit blyk dat Simon van der Stel se uitplasingsbeleid van die Hugenote suksesvol was, met die Franse (kursief) wat tussen die Nederlanders en Duitsers grond gegee is:

“Jan van Oldenborg, Hendrik Thieleman, Hendrik Venter, Roelof Pasman, Weimer Pasman, Jacob de Savoije, de weduwe Ekhof, Roelof van Wijk, Arij van Wijk, de twe Fransoisen boven Savoijen, Pieter van der Bijl, Abraham Diemer, Maarten van Staden, Jacobus van der Heiden, François Bastiansz: ande Perel, de weduwe van den overleden Pieter Jansz van Kalais, de soon van d’ opgemelde weduwe, Pieter Meijer, Jan Duran, Willem Basson, Jacobus van As, Andre Gauche, Matthijs Vrijhagen, Jan Manu, Hercules du Pre d’ oude, Thomas Monk, Pieter Andriesz:, Christopher Snijman, Ernst Frederig Walter, Arij Lekkerwijn, Jan Claas Mulder, Jan le Long[7] met de Fransman naast hem wonende.”

 

Fase 2

Die volgende fase van die omvangryke projek staan bekend as die VC[8]-Daghregister Transcription Project (2017-2018). Tydens hierdie fase wat deur die Nederlandse Ambassade, Pretoria as hoofborg tesame met die Universiteit van die Witwatersrand befonds is, word 63 jaar se dagregisters deur die THT-span afgeneem, getranskribeer, geredigeer en as twee CD’s gepubliseer.

Buiten die dagregisters wat deur voorgaande partye befonds is, is geld ook vir twee kleiner projekte verkry:

  • Eerstens, befonds SADiLaR[9] (Universiteit van Noordwes) die ontsluiting van die VOC-dagregisters vanaf 1671 tot 1679. Die projek het fotografering, transkribering, redigering en metadata-bewerking vereis.
  • Tweedens, befonds die Historium Trust (Taalmuseum, Paarl) ’n gelyklopende projek waartydens die Wagenaar-tydperk soos behandel in Anna Böeseken se Daghregister en Briewe van Zacharias Wagenaer, 1662-1666 (1973) geskandeer, ontfout en geredigeer is.

In 2017 verskyn die gewilde Stories and Tales in the VOC Journals met op die agterblad die name van al die befondsers wat die VOC-Daghregisterprojekte tot daardie datum moontlik gemaak het.

Fase 3

Onderhandelings word vervolgens gevoer met twee afvaardigings van die Nationaal Archief Nederland wat die Kaap besoek: In September 2018 met mev. Irene Gerrits en mnr. Arjan Agema en op 1 Mei 2019 met mnr. Arjan Agema en mej. Lidwien Jansen, albei kere in Caledon Villa, Stellenbosch. Daarna word die Driepartyenovereenkomst VOC Daghregisters Zuid-Afrika opgestel en onderteken deur prof. Hans Bennis, voormalige HUB van die Nederlandse Taalunie, mnr. Marens Engelhard, algemene ryksargivaris, Nationaal Archief Nederland en dr. Helena Liebenberg, Tracing History Trust.

Die ooreenkoms bepaal die transkribering van die 53 jaar se oorblywende Kaapse VOC-dagregisters van die VC-reeks, sodat die hele reeks in die toekoms saam met die Resolusies (TANAP) en die Inventarisse (TEPC) op die Nationaal Archief se webtuiste in die openbare domein beskikbaar sal wees. Die Nederlandse Taalunie sal insgelyks al die finale getranskribeerde tekste vir navorsingsdoeleindes ontvang.

Omdat die Trust-span, bestaande uit die tegniese kundige en twee redigeerders, by name Helena Liebenberg en Maureen Rall tydens die verloop van hierdie fase van die projek deurgaans ’n bepaalde pas kon handhaaf en onverpoosd aflyn en Covid-vry kon voortgaan, kon die werk wat kontraktueel eers in 2021 voltooi moes wees, met goeie gevolg voortydig aan die einde van Oktober 2020 afgehandel word. Twee kollegas is in September betrek om met die redigering van die laaste paar dagregisters te help sodat hierdie doel bereik kon word.

Die geleentheid om die Transkribus-transkriberingsprogram te gebruik, was uiters bevredigend en leersaam en het in ’n groot mate bygedra tot die voorspoedige voltooiing van die projek. Dit is ’n uitstekend ontwikkelde platform wat die transkriberings- en redigeringsproses in die geheel vergemaklik het.

  1. Slave Registers-transkriberingsprojek (2021)

Die Slaweregisters (1816-1838), bekend as die SO6-reeks, bestaan uit 150 volumes en vorm deel van die SO[10]-versameling. Die Slaweregisters is ’n unieke reeks in die Wes-Kaapse Argief omdat daar geen kopieë bestaan nie. Op 11 Januarie 2021 het hierdie belangrike Nederland-befondsde transkriberingsprojek waartydens 55 volumes getranskribeer word, amptelik begin. Die registers bevat inligting oor aangetekende slawetransaksies in die Kaapkolonie en dek Kaapstad, die Kaapse Distrik en Simonstad, asook Stellenbosch, Swellendam, Worcester, Clanwilliam, asook Graaff-Reinet, Beaufort, Somerset, Albany, Uitenhage en George. Die span bestaande uit transkribeers, redigeerders en ’n tegniese kundige, het reeds goeie vordering gemaak en behoort die werk soos kontraktueel onderneem, in Desember 2021 af te handel.

.

  1. Praktiese genealogie-ontginning van Argiefmateriaal

Die volgende dien as voorbeeld wat met die beskikbare argiefmateriaal op genealogiese vlak gedoen kan word: Sedert 2008 benut Liebenberg elke geleentheid om die publiek oor die VOC-projekte in te lig, vors verskeie onderwerpe na en doen belangrike primêrebron-kennis op. Die volgende is hoogtepunte van openbare optredes (telkens met gewaardeerde geldelike steun deur GGSA), waarvan talle ook vir lesers wêreldwyd op Taaloord[11] beskikbaar is: “Transkripsies uit die VOC-verhaleskat” (2008), “TANAP, TEPC en familienavorsing” (GGSA, Pretoria, 2010), “Voorouerverhale uit die Kaapse Argief” (GGSA, Potchefstroom, 2011), “Stamboomstories uit Kaapse geskrifte” (GGSA, Bloemfontein, 2011), “Families uit die VOC-verhaleskat” (GGSA, George, 2012), “Die Tracing History Trust en die VOC-Daghregisters” (SASNEV, 2016), “Wes-Kaapse Argief en die begin van Afrikaans”[12] (hoofreferaat, SAVN-kongres, Potchefstroom, 2017), “VOC-Daghregister, Deel 4” (GGSA, Pretoria, 8 Julie 2017), “Slawe se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans” (Afr. Taalmuseum, Paarl, 2017) en laastens “Indigenous Place Names in VOC Cape Documents”[13] (referaat, 2019 International Symposium on Place Names, Clarens).

  1. Slotwoorde

Ons as genealoë, asook navorsers bedrywig in ’n groot verskeidenheid ander studierigtings, is die VOC-amptenary en almal wat hierdie dokumente geskryf en help opstel het innig dankbaar vir dié onvervangbare nalatenskap. Ons huldig hulle daarvoor.

Elkeen van ons is inderdaad ’n argief in die kleine, want in ons DNS lê die bloudruk van leeftye se genealogiese dokumentasie ingeskape. Ons kan nie daarvan ontneem word nie en ons dra wie ons in hart en wese is, in hierdie leeftyd daagliks met ons saam in rigtinggewende woorde en dade.

“Om te weet waar ’n mens vandaan kom, is om te weet waarheen jy op pad is en watter weg om te volg, elkeen op sy of haar unieke manier van doen tydens die lewensreis.” – helena liebenberg

__________ o0o __________

 

BRONNELYS

Primêre bronne

Resolusies van die Politieke Raad van die Kaap de Goede Hoop (1651-1795) – TANAP-CD

MOOC8, MOOC10, MOOC14, Monsterrolle en “Bandietenrollen” – TEPC-CD

Vrijboek Lysten – Nationaal Archief Nederland, Den Haag – Gelyknamige CD

VOC-daghregisters (1651-1795), o.a. VC-reeks – etlike CD’s

Slave Registers, SO6, volume 1-55

Sekondêre bronne

A.J. Böeseken (red.) 1973. “Daghregister en Briewe van Zacharias Wagenaer, 1662-1666”, SA Argiefstukke: Belangrike Kaapse Dokumente, Deel 2, 1973. Pretoria, Staatsdrukker.

Cornell, C. and Antonia Malan. 2006. Household Inventories at the Cape. VASSA (Vernacular Architecture Society of South Africa), Cape Town.

Liebenberg, Helena. “Agie en die Wolf”, Vrouekeur, 30 Augustus 2002.

Liebenberg, Helena. 2017. Stories and Tales in the VOC Journals. Parow, Bellville, J. Taylor Pre-Printing Solutions cc.

Liebenberg, Helena. 2018.“Die Wes-Kaapse argief en die begin van Afrikaans/The Western Cape Archives and the beginning of Afrikaans”, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Volume 58 Nr. 2, Junie 2018.

Liebenberg, Helena. 2020. “Indigenous place names in VOC Cape documents.” In: Chrismi-Rinda Loth (Ed). Recognition, Regulation, Revitalisation: Place Names and Indigenous Languages. Proceedings of the 5th International Symposium on Place Names 2019. Bloemfontein: Sun Bonani.

RGP Grote Serie 167: Dutch-Asiatic Shipping in the 17th and 18th Centuries: volume 3: Homeward-bound voyages from Asia and the Cape to the Netherlands (1597-1795). Edited by JR Bruijn, FS Gaastra and others. The Hague: Marthinus Nijhoff, 1979.

 Worden, Nigel (ed.). 2007. Contingent Lives – social identity and material culture in the VOC World. Conference Publication, Rondebosch, University of Cape Town.

[1] Lesing, Stellenbosch Woordfees, 2006

[2] Lesing, GGSA-Wes-Kaaptak, 2007; artikel op Taaloord (http://www.taaloord.co.za)

[3] TANAP: Akroniem vir Towards A New Age of Partnership, ’n projek deur die Nationaal Archief Nederland, Den Haag

[4] TEPC: Akroniem vir Transcription of Estate Papers of the Cape of Good Hope

[5] Die jare 1790, 1792, 1793 en 1794 se daghregister is nie in enige VC-bande opgeneem nie, terwyl die inskrywings van die 1791-daghregister op 30 November in plaas van 31 Desember eindig.

[6] RGP Grote Serie 167: Dutch-Asiatic Shipping in the 17th and 18th Centuries: volume 3: Homeward-bound voyages from Asia and the Cape to the Netherlands (1597-1795). Edited by JR Bruijn, FS Gaastra and others. The Hague: Marthinus Nijhoff, 1979.

[7] Die laaste inskrywing, nl. Jean le Long (x Maria Coche) is later vernederlands na Jan de Lange. Op papier is daar toe nie meer te onderskei tussen die nageslag van die Franse en die Nederlandse Jan de Lange nie.

[8] VC: Alkroniem vir Verbatim Copies, kopieë in 1886 in die Ryksargief gemaak en tans in die Kaapse Argief bewaar word.

[9] SADiLaR: Akroniem vir South African Centre for Digital Language Resources (regeringsinstansie)

[10] SO: Slave Office

[11] http://www.taaloord.co.za

[12] Liebenberg, Helena. 2018.“Die Wes-Kaapse argief en die begin van Afrikaans/The Western Cape Archives and the beginning of Afrikaans”, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Volume 58 Nr. 2, Junie 2018.

[13] Liebenberg, Helena. 2020. “Indigenous place names in VOC Cape documents.” In: Chrismi-Rinda Loth (Ed). Recognition, Regulation, Revitalisation: Place Names and Indigenous Languages. Proceedings of the 5th International Symposium on Place Names 2019. Bloemfontein: Sun Bonani.