Titel: Sulke vriende is skaars
Skrywers: Stephanus Muller en Stephanie Vos
Uitgewer: Protea Boekhuis
Resensent: Carla van der Spuy
Dit was een van die hoogtepunte in my musikale ma se lewe toe sy dekades gelede in ’n koor gesing het wat deur Anton Hartman gedirigeer is. Hy was haar musiekheld. Ek onthou nog hoe ek gereeld in my skooldae na die repetisies saamgeneem is. Dit was gedurende die apartheidsdae in die sestigs en die koor was natuurlik spierwit.
Twee meer uiteenlopende mans as die bekende dirigent, Anton Hartman, en die begaafde komponis, Arnold van Wyk, kon mens nie kry nie. Dit blyk duidelik uit die geannoteerde briefkorrespondensie in die lywige boek van meer as 500 bladsye met die 133 briewe wat hulle tussen 1949 en 1981 aan mekaar geskryf het. Hierdie briewe word in twee argiewe bewaar, die Nasionale Argief van Suid-Afrika (NASA) in Pretoria en die dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS) aan die Universiteit van Stellenbosch. Benewens die briewe, word belangrike foto’s, afskrifte van faksimilees, telegramme en ander vorme van korrespondensie in die boek met sy sterk visuele voorkoms geplaas.
Die byna vreemde en ’n besondere vriendskap tussen die twee mans (een ’n konserwatiewe gelukkig getroude Afrikaner en die ander gay en meer van ’n vrydenker) is gebou op die kernwaarde van Westerse (meestal Europese) kunsmusiek.
Hartman was hoof van musiek by die SAUK se afdeling vir musiek, ’n aartsoptimis, gesinsman (hoewel kinderloos) en alewig aan die reis Wildtuin toe of see toe met sy Jossie.
“Nols”, soos hy Van Wyk genoem het, was duidelik ’n introvert wat aan erge depressie gely het, ’n diep gekwelde siel, wat voortdurend siek en platsak was, selde liefde gevind het, soms eensaam was maar wat ook dikwels verkies het om alleen te wees. Hy het homself ook gereeld aan klaagliedere oorgegee.
Dis amper asof Hartman, hoewel ietwat jonger as Van Wyk, ’n soort vaderfiguur vir hom was.
Dit sou vandag vreemd gewees het dat daar nie meer uitgesproke gesprekke oor Van Wyk se seksuele voorkeure was nie. Van Wyk word in die boek beskryf as ’n man met “kreatiewe frustrasie, aweregse kritiek en politieke en ideologiese ambivalensie”. Hy was ook nie so vurig oor Afrikaans soos Hartman nie.
Die twee trap mekaar uit en hemel mekaar dan weer veral op musikale gebied op. Maar hulle respekteer mekaar se verskillende standpunte en hulle bly vriende.
Dis tog ironies dat hulle so ’n ambivalente verhouding met Europese kunsmusiek gehad het wat as maatstaf vir dié van Suid-Afrika gedien het, want daar is ook verontwaardiging oor Europese musici wat vir groot uitvoerings ingevoer word wat “die brood uit ons eie musici se monde neem”, as hulle hier kom optree het.
Hulle skryf en skinder heerlik oor ego’s, onnosele koorlede en nare karakters in die musiekwêreld, terwyl die SAUK van weleer menige dwarsklap kry. En dan kla hulle oor die ouderdom wanneer hulle maar in hul veertigs is!
Van Wyk het nogal ’n slag met woorde en praat van griep wat hom erger as “katkots” laat voel en van die baie reën in die Kaap wat Tafelberg skoon laat “verdrink”. En Hartman gebruik die lekker tongklapwoord “sowrintigjakobregopwaar!”
Oor die groot politieke gebeure soos die sluipmoordaanval op dr. HF Verwoerd en die Soweto-opstande rep hulle nie juis iets nie. Kunsmusiek oorheers byna obsessief al hul gesprekke.
Mens moet glimlag as Hartman praat oor die verstommende som van 4000 pond wat hy vir ’n groot huis in Stellenbosch moes opdok en wanneer hy Van Wyk vra om net ’n pennie op sy briewe te sit sodat dit hom vinniger per lugpos kan bereik.
Wat mens mis in die boek is meer persoonlike gegewens. Mens sou byvoorbeeld graag wou weet hoe en waarvan die mans gesterf het.
Daar is by tye woorde wat pretensieus voordoen soos “sensibiliteit.” Maar nouja, die boek is deur akademici en nie deur joernaliste geskryf nie, wat leer om meer toeganklik te skryf.
Hierdie boek sal groot byval vind by navorsers, musikoloë en historici sowel as diegene wat in musiek en die Afrikanergeskiedenis belangstel. Dis beslis nie bedoel vir diegene wat so min van musiek weet as ’n kat van saffraan nie. Ook nie vir die breë publiek nie.