Voorouers se lewensreis – ‘Loop saam op hul spore’

deur Isabel Groesbeek

Ek staan as vyfjarige in die gang van my ouerhuis voor ’n groot portret-collage ter herdenking van die Groot Trek, Voortrekkereeufees 1938 en ek wonder wie is die ooms en tantes? My ouma aan vaderskant, na wie ek vernoem is en wat as weduwee saam met ons in die huis woon, kom verby en ek vra haar daarna. Sy sê dat daar van my familie in die foto’s is. Ek staan as 7-jarige weer voor die portret en wonder wie is wel familie? Ek vra dieselfde ouma en sy vestig my aandag o.a. op die foto’s van Johan Bernhard RUDOLPH (1794-1875; Voortrekker weesheer) en Debora Jacoba RETIEF (1815-1900) en verduidelik dat dit familie is.

Ek kuier ook as laerskooldogter by oupa en ouma Schutte en oupa vertel vir ons dat hy as jong seun met die Eloff-kleinseuns van die president in Pretoria gespeel het en later as 16-jarige ook aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het. Hy is egter gewond en gevange geneem, deur behandeling van ’n Ierse dokter is sy lewe gered en hy is saam met ander krygsgevangenes via Tin Town na Indië weggevoer. Oupa het dikwels sy herinneringe vertel en gelukkig voer ’n geskiedenisonderwyser met hom ’n onderhoud. Sy en ander oorlogsveterane se verhale word in die plaaslike koerant gepubliseer, maar ook in W.H. Ackermann se publikasie, OPSAAL: Herinneringe aan die Tweede Vryheidsoorlog (1967) opgeneem. My ma stel voor dat oupa na herhaaldelike vertellinge sy herinneringe in ’n boek, wat sy tydens haar onderwysopleiding ingebind het, opskryf. So laat hy vir ons familie ’n kosbare erfenis in sy eie handskrif voor sy afsterwe in 1971. Die saadjies is geplant.

Wat beteken dit vir my?

My pa is lief vir geskiedenis en neem ons na talle kulturele saamtrekke en spesiale kultuurdae. Ek verdiep my in elke uitgawe van Die PANORAMA en die Afrikaanse Kinderensiklopedie. Ek kies om geskiedenis as vak te neem. Ek geniet die voorreg dat talle familieverjaardae en ander gesellighede ons familie byeengebring het. Gesprekke oor familiebesigheid, kerk en godsdiens, gemeenskapsdiens en politiek van die dag was dikwels onderwerpe van bespreking tydens kuiers.

My oupa se verhale het my ’n nuuskierigheid laat ontwikkel en met geskiedenis as universiteitsvak kon ek net nog te meer die verskillende fases in die geskiedenis verstaan. Ek ontdek genealogie (studie van ’n familie) as wetenskap op 29 jaar en ek gryp die geleentheid aan om die hulpmiddel te benut. Ek begin toe met die hulp van my middeljarige ouers ons familieraamwerk opstel en soos ek vorder, begin persone in die foto-collage hul plek in die familiegalery inneem. As jong volwassene vra ek my ouers om ook hul lewensherinneringe oor hulself, hul ouers, broers en susters aan te teken en delf dieper in familiedokumente en ons beskryf familiefoto’s. My ma is baie taalvaardig en met haar kosbare beskrywings kon ons nie anders om ook Krugersdorp as dorp van haar herkoms te besoek nie, waartydens sy haar eie verhaal nog meer met herinneringe ingekleur het. Hul herinneringe en vertellinge het my geskiedenisbegrip van ons vaderland ook verbreed met o.a. my pa se herinneringe van die Groot Depressie en my ma se herinneringe tydens en na die Tweede Wêreldoorlog, waaruit haar spaarsamigheid spruit. My ouers en grootouers se aanvullende lewensverhale, gebeure uit hul lewensreis, verander name in lewende mense. Plekke op die RSA- en wêreldkaart het net meer spesifieke betekenis gekry. Die onderskeie vertellinge en opgetekende herinneringe het my net geprikkel om nog meer uit te vind.

Ek en my man onderneem spesifieke reise na plekke waar pionierfamilies in die Oos-Vrystaat en die Suikerbosrand gevestig het. Ons ‘ontdek’ pioniershuisies, grotte waarin vroue geskuil het tydens hul vlug voor die Engelse in die Brandwaterkom. Ons besoek o.a. die Oorlogsmuseum te Bloemfontein waar ons ’n kopie van die foto van een van die Satarakamp-sokkerspanne te Indië vind waarvan my oupa in sy herinneringe skryf en ons gedenk voormoeders wat in konsentrasiekampe oorlede is. Ons ‘ontdek’ familie in stamlande en geniet die voorreg om plekke van herkoms in Amsterdam en Scheveningen, Nederland en Mer, Blois, Frankryk, te besoek, want ons ken ons voorgeskiedenis. Hierdie wonderlike ervaringe sou nie moontlik gewees het as ons ouers en grootouers nie hul verhale met ons gedeel het om belangstelling in ons herkoms te prikkel nie. Ons maak wêreldwyd nuwe vriende deur die loop op ons familiespore.

Huweliksinskrywing van Fouché-stamouers in Blois Argief

Wat kan dit vir jou beteken?

Die aanvullende lewensverhale van voorouers se persoonlike geskiedenis tot die vaderlandse geskiedenis en wêreldgeskiedenis gee jou net beter begrip vir hul omstandighede. Die voorouers se gene is ook in jou DNS en al is jy ’n individu in eie reg, is jy ’n nasaat en somtotaal van verskeie voorouers.

My droom is dat elke oupa en ouma, elke ma en pa die waarde van hul eie lewensverhaal, as legkaartstuk van die groter geskiedenis, sal besef. Familie moet meer tyd saam spandeer  vir spontane deel van lewenservaringe en herinneringe. Genealogie (familieraamwerk met presiese data) en familiegeskiedenis moet aangeteken word (in manuskripvorm en/of e-data), sodat die waardevolle inligting nie verlore raak nie.

Het jy dalk al voor ’n familieportret gestaan en gewonder wie die persoon in die foto werklik is en wat sy/haar lewe gevul het? Jy erken dalk jou eie gelaatstrekke in die betrokke voorouer(s), maar wat was kosbaar vir die persoon op sy/haar lewensreis?

As ’n nasaat dalk nie nou in die verlede belangstel nie, maar tog later daaroor gaan wonder, begin die persoon prikkel met kosbare staaltjies en deel van herinneringe. Teken kosbare familiedata en persoonlike geskiedenis aan, bewaar familiedokumente en beskryf familiefoto’s, sodat ’n nasaat nie eendag voor ’n portret van ’n onbekende familielid hoef te staan nie.

Vir hulp en raad met die aanteken van ou eie genealogie en jul familiegeskiedenis kontak gerus vir Isabel Groesbeek by die FAK-Genealogielessenaar: Isabel@fak.org.za en besoek ook gerus www.genealogielessenaar.com