PREDIKER Hoofstuk 1 – Bottomless Coffee Band
Daantjie Dinamiet
Deur die jare was daar ’n paar egpare wat saam musiek gemaak het, soos Francois en Elizabeth Fourie, Wynand en Lindi Delport (Anders) en Marius en Vernette Wessels (Coffeesnobs).
Bottomless Coffee Band bestaan uit nóg ’n egpaar, Lourens en Esté Rabé, wat mekaar as studente aan die Universiteit van Stellenbosch ontmoet het. Hulle kan ’n verskeidenheid musiekinstrumente bespeel, soos akoestiese en elektriese kitaar, baskitaar, trekklavier, ukulele, mondfluitjie, glockenspiel en verskeie slaginstrumente, onder meer ’n voet-trom. Hulle het albei eers in die korporatiewe omgewing gewerk voordat hulle besluit het om tot die musiekbedryf toe te tree.
Hulle beskryf hul musiek as ’n mengsel van folk en pop, met ritmes wat die voete laat jeuk, en lirieke wat ’n boodskap oordra. Hulle noem dit “gourmet-musiek”, aangesien dit die verskillende fases van hul ontwikkeling as musikante, en hul kreatiwiteit, weerspieël. Hul oogmerk is om lirieke te skryf en liedjies te speel wat emosies aanwakker en dade van hoop, liefde en verandering inspireer.
Hul eerste Afrikaanse album, Prediker hoofstuk 1, is onlangs op digitale platforms uitgereik. Die eerste hoofstuk bestaan uit drie liedjies, “Sewe somers”, “Ek wou nog” en “Alles en niks”. Dié nuwe album sal voortdurend met nuwe liedjies oftewel dan hoofstukke aangevul word.
“Sewe somers” is die eerste liedjie een waarvan daar ’n musiekvideo vervaardig is. Met hierdie liedjie kom ’n mens reeds agter dat hulle nie sommer net ’n gewone groep is nie; die lirieke het iets om die lyf, en soos ’n mens in die musiekvideo kan sien, is hulle albei uiters talentvol. Hopelik sal hierdie liedjie ’n groot treffer word!
Die akoestiese kitaarwerk op “Ek wou nog” is baie goed, en weer eens is die lirieke uitstekend. Hierin sing hulle van al die dinge wat ’n mens nog wou doen voordat dit te laat geword het. Die boodskap is dat ’n mens elke oomblik saam met die een wat jy liefhet, ten volle moet benut.
“Alles en niks” is ’n lekker snit met ’n rock-aanslag, en die orrel aan die begin klink fantasties. Die filosofiese lirieke is regtig iets besonders. Die verandering in ritme wat omtrent in die middel van die liedjie voorkom, maak die musiek ook meer interessant.
Bottomless Coffee Band stel hul onteenseglike musiektalent op al drie snitte ten toon, en al drie verdien om gereeld oor die radio gespeel te word. Hul musiek is van hoogstaande gehalte, en ’n mens sal nie gou moeg word daarvoor nie. Hopelik sal hulle gou weer nog ’n paar nuwe Afrikaanse snitte uitreik, maar intussen is hierdie drie snitte onder die beste liedjies wat die afgelope jaar verskyn het!