Met die een voet in die Bybel
Skrywer: Gert Janse van Rensburg
Uitgewer: Kreativ SA
Resensent: Carla van der Spuy
Ek onthou goed hoe wrewelrig ek as kind gevoel het as my ma na my jongste broer as haar ou “Benjaminnetjie” verwys het. Pure sibbejaloesie en dit as gevolg van ’n onskuldige Bybelse beskrywing.
Nee, wat die ou is te oud vir my, het ek weer in my twintigs oor ’n aspirant-vryer besluit wat nege jaar ouer as ek was. ’n Regte ou Metusalem. Een voet in die graf. Oor die muur.
Nou kry ek skoon skaam as mens in Met een voet in die Bybel lees dat einste Metusalem (die agtste afstammeling in die nageslag van Adam) ’n hele 969 jaar oud geword het, glo die oudste mens ooit. Daardie deel van die Bybel was altyd net vir my ’n bietjie te dik vir ’n daalder. Gelukkig vind jy uit dat die jare destyds moontlik anders bereken is of dat dit dalk figuurlike taal was. Van Rensburg verwys selfs daarna as moontlik ’n stukkie mitologie om te wys hoe die mens probeer het om “soos God te wees”.
Bogenoemde was vir my maar een van die talle interessanthede in die boek wat 800 Afrikaanse spreekwoorde, idiome, vaste uitdrukking en gesegdes wat aan die Bybel ontleen is, bevat. Dit kom tesame met 2000 Skrifverwysings en toeligtings met hier en daar ’n stukkie teologie en humor.
Dis interessant dat gelowiges sowel as ongelowiges daagliks baie van hierdie Bybelse verwysings gebruik. Met hierdie boek leer jy veel meer oor die oorsprong hiervan. Dink maar net hoe dikwels gebruik ons uitdrukkings soos: “Dit kom uit Noag se ark” (dis baie oud), “op die ashoop sit” (moedeloos of treurig wees), “iemand se beker loop oor (verheug wees), “berge versit” (besonder baie uitrig), “bloed sweet” (baie swaar kry) en “iemand is bokveld toe” (hy is oorlede).
Soos te verwagte, is daar sommer ’n hele paar bladsye oor die duiwel soos: “Om die duiwel met Beëlsebul uit te dryf” (om kwaad met kwaad te probeer teëgaan) en “die duiwel se briewe lees” (Kaartspeel – oeps!). Die skrywer verduidelik dat daar ’n tyd was dat selfs vroom, toegewyde Christene oortuig was dat kaartspel uit die bose en dus sondig is. Hy skryf dat ons natuurlik twyfelagtige sake ernstig moet oorweeg, maar “ons moet nie onse God en Vader as pretbederwer beskou en Hom so aan ander voorstel nie.” Daar is ook spreekwoorde soos: “Die duiwel by Satan verkla (verkla by iemand wat kop in een mus met hom is) en “die duiwel preek vir Satan” (een wat vol foute is, wil ’n ander reghelp.)
Op ’n ligter noot kan mens gerus “eet, drink en wees vrolik” ter harte neem. Dit word eers gevolg deur ’n lang verduideliking dat die slagspreuk nie moet beteken dat dit net oor jouself gaan nie, maar ook dat Christus self wyn gedrink het en ’n bruilof se vreugde gered het deur water in wyn te verander.
Prof. Rufus Gouws van die Universiteit van Stellenbosch beskryf die boek op die omslag soos volg: “Die bewerking bied ’n kombinasie van betekenisleiding, etimologie, kulturele kennis asook Christelike raad en waardes.” Hy meen dit kan amper met ’n dagstukkieboek vergelyk word – “’n Bybelse spreekwoord vir elke dag.”
Baie van hierdie treffende gesegdes het natuurlik spontaan aan die hand van die Bybel op metaforiese wyse ontstaan en word wyd gebruik. Dink net aan Salomo se wysheid (ietwat debateerbaar weens al die vroue wat hy moes onderhou) en Job se geduld. Blykbaar was Job toe nou nie so danig geduldig nie. Hy het eerder (met goeie rede darem) gereeld gekla. In die boek word gepraat van “so arm soos Job” en “so arm soos Job se trane” wat op nog erger armoede aandui. Dan is daar ’n “Jobsbode”, iemand wat slegte tydings bring terwyl ’n “Jobstrooster” iemand is wat nou nie juis uitblink in sy taak nie, en die een wat getroos moet word net meer die harnas injaag.
Ek het dit geniet om meer oor die ontstaan van die gesegdes te leer. Ons taal wemel van Bybelse gesegdes. So vind mens uit dat die meeste Afrikaanse spreekwoorde wat ons aan die Bybel ontleen uit die 1933/53-vertaling kom.
Ander interessante bevindings is dat ons in Afrikaans ongeveer 300 uitdrukkings uit die mond van die Here Jesus Christus self as spreekwoorde gebruik en daarvan kom sowat 70 uit sy bergpreek in Mattheus 5-7. Dit is ook so dat ons in ’n paar gevalle ’n uitdrukking gebruik, vas oortuig dat dit uit die Bybel kom en dan is dit nie die geval nie. Voorbeelde hiervan is “jou Moses teëkom” en iemand wys “waar Dawid die wortels gegrawe het”. Netso word ook uitdrukkings gebruik wat na die Bybel herlei kan word, maar waarvan ons onbewus is. Uitdrukkings soos “iemand staan kop en skouers uit bo die res.”
Daar is heelwat gesegdes oor Adam en Eva. Twee wat ek nie geken het nie, is “Adam en Eva se skoene aantrek” (kaalvoet loop) en “hy eet met sy adamsvurk” (Hy eet met sy hande.) “Die amandel(boom) bloei/staan al in die blom” is iets wat jy skertsend sal sê vir iemand wat al grys word.” “Met Apostelperde reis” beteken te voet loop.
Die spreekwoorde is alfabeties onder trefwoorde gerangskik maar dalk sou dit makliker gelees het as dit alfabeties volgens letters in hoofstukke verdeel was eerder as een lang relaas. Die skrywer het egter ’n reusetaak aangeknoop en baie navorsing gedoen. Knap gedaan! Die boek is besonder leersaam en behoort veral byval te vind by mense wat lief is vir die woord sowel as die Woord, taalkenners, Bybellesers, teoloë, akademici en waarskynlik ook die breë publiek.