Titel: Bethel se berg
Skrywer: Maretha Maartens
Uitgewer: Lapa
Resensent: Francois Bekker
Met ongeveer 155 boeke uit haar pen het Maretha Maartens nie enige bekendstelling nodig nie. Ek sou my nie as een van haar getroue lesers beskou nie, maar respekteer die feit dat ’n hele generasie grootgeword het met Maartens se boeke wat veral geestelike temas onder die loep neem. Hierdie resensent het Maartens se jeugnovelle versigtig, so net duskant skepties, opgeneem om te lees. Laat ek uit die staanspoor sê dat dit my stoutste verwagtings oortref het. ’n Bildungsroman gestroop van tierlantyntjies, wat blom in sy eenvoud en wat boei van begin tot einde.
Dit is die tagtigerjare. ’n Ma en haar kinders voer ’n nomadiese bestaan omdat hulle letterlik van plek tot plek per kombi reis. Hulle vertoef dan op plekke waar hulle so in die kombi en ’n gehawende tent ’n sukkelbestaan voer. Op hierdie plekke gaan die kinders dan skool wat altyd gepaard gaan met vernedering en moeilike aanpassing. Om aan die lewe te bly, verkoop die ma vetkoeke. Die inkomste wat sy hieruit genereer, is kwalik genoeg om haarself en vier mondjies te voer. En daar is jouwaarlik nóg ’n lewetjie op pad. Hulle vertoef nooit lank op een plek nie want die patroon herhaal hom klokslag. Nuwe plek. Nuwe skool. Nuwe vriende. Totdat die dorpenaars oor hierdie sukkelaars begin kla. Dan word daar opgepak om na die volgende plek te reis.
Maartens skryf met ’n vaste hand. As meesterstilis kan van die hoofstukke selfs op hul eie as kortverhale staan. Die spanningslyn oor hierdie gesin se ontberings word effektief opgebou tot ’n oomblik van lewenswaarheid. Dit gebeur by ’n plek wat Bethel, uit wie se oogpunt die storie vertel word, se berg word.
Die karakters, ook newekarakters, word lewensgetrou en oortuigend geteken. Twee groot regmerkies vir die feit dat die storie nooit preek nie, en nimmer in sentimentaliteite verval. ’n Nomadiese distopie teen die agtergrond van spanning in die land en oorlog op die grens. Maar nooit sonder hoop nie.
Die pragtige uitleg van die boek verdien melding. Met die aanvang van elke hoofstuk is daar ’n afdruk van ’n landkaart – dit sluit aan by die reismotief van die verhaal asook ’n tienermeisie se soeke na vaste bakens op haar lewenspad. ’n Onvergeetlike verhaal wat diep ontroer.