Gesprek oor genealogie en familiegeskiedenis is ononderhandelbaar

deur Isabel Groesbeek

Hoe belangrik is genealogie en familiegeskiedenis vir jou? Het jy al oor die onderwerp gewonder en wou dalk begin, maar was onseker waar om daarmee te begin?

As ouers en grootouers nie met hul kinders en kleinkinders oor hul lewenservaring, belangstellings, eie persoonlike geskiedenis gesels nie, sal gebrek aan kennis oor hul bloedfamilie en hul eie herkoms ontstaan en so ook groot gapings in die groter geheel van Suid-Afrikaanse genealogie. Dit ondermyn die waarde van die individu in konteks van die geskiedenis en van die hede.

Die FAK-Genealogielessenaar moedig die gesprek oor genealogie en familiegeskiedenis tussen familielede aan, want ons weet wat die positiewe impak daarvan op mense se lewens is. Navorsers se taak om familiedata aan te teken, raak al hoe ingewikkelder weens die feite dat mense makliker migreer, nie meer hul kinders tradisioneel vernoem nie, asook dat doop- en huweliksregisters nie noodwendig meer ’n brondokument is nie. Die realiteite beteken dat dit die familie en jou verantwoordelikheid word om ’n bydrae tot die gesprek, hoe gering ook al, te maak.

Genealogie is ’n kosbare hulpmiddel vir ’n ieder en ’n elk om hul familiedata en -geskiedenis met bronne (persoonlike getuienis) aan te teken en te bewaar. Hoe meer daaroor gepraat word, hoe meer kan vrae ontstaan en fyner detail ingevul word.

Die voordele van gesprekke rondom die tema is legio – kom ons oordink ’n klompie:

  • Persoonlike familiegeskiedenis is ’n stuk van die omvattende legkaart van die groter familieraamwerk, die plaaslike, streeks- en vaderlandsgeskiedenis.
  • Persoonlike oordrag sal die nageslag eerstehands laat kennis neem van gebeure en keuse in hul grootouers, ouers se lewe. Hul eie familie skep elke dag weer nuwe geskiedenis wat by ’n groter prentjie inpas.
  • Beter begrip vir hul eie plek binne ’n spesifieke familieraamwerk word gevorm.
  • Kennis oor familiedata bring insig in voorouer se eie omstandighede en keuses.
  • Kennis van eie familiestorie(s) bou familietrots.
  • Kennis van waar die nageslag by die direkte voorgeslag en eeuelange stamlyn(e) inpas, bied ’n anker in vlietende tye en bevestiging van ‘wortels’.
  • Persoonlike getuienis en deel van herkoms en familiestories is meer betroubare en oorspronklike getuienis van gebeure.
  • Lewende informante kan voortdurend, as daar nog vrae opduik, vir verifiëring geraadpleeg word.
  • Gesprekke nader aan die gebeure gee meer betroubare inligting en selfaantekening deur betrokke persone dra ook meer waarde
  • Kennis van hartseer gebeure help om lesse uit die verlede te leer.
  • Gesprekke skep kosbare familietyd.
  • Name van persone word lewende mense met goeie en swak punte.
  • Kennis van eie familiegeskiedenis prikkel belangstelling in vaderlandsgeskiedenis.
  • Plekke waar familie gebore, gewoon en oorlede is, kry meer betekenis en lei tot hunkering om plekke van herkoms te besoek, wat weer ’n persoon se lewe verryk.
  • ’n Nageslag sal nie in die toekoms oningelig of spyt wees dat hulle nie hul ouers en grootouers meer oor hul herkoms en familiegeskiedenis uitgevra het nie, want ouers en grootouers het hul lewensverhaal en kennis oorgedra.

Kontak die FAK-Genealogielessenaar via www.fak.org.za (lees ook die artikel “Voorouers se lewensreis – ‘loop saam op hul spore’”) om jou van hulp in die gesprek te