Kambrokind ­’n jeugreis

Skrywer: FA Venter

Uitgewer: Protea Boekhuis

Resensent: Carla van der Spuy

Hierdie boek neem ons byna honderd jaar terug na ’n rugbreektydperk van trekboere wat wanhopig van die droogtes probeer ontsnap, maandelange afsondering in ’n wa in die veld en van die Groot Depressie. Dit was ’n tydperk waarin kinders gesien en nie gehoor moes word nie en so deeglik onder die sambok deurgeloop het dat dit vandag in klagtes weens kindermishandeling sou uitloop.

Kambrokind gaan oor die skrywer se grootwordjare in die Karoo waar slegs geharde mense ’n bestaan kon maak tot sy universiteitsjare. Die groot droogte dwing sy gesin wat met skaap boer om te trek – eers na Kakamas en daarna Kalahari toe. Die lewe was hard en genadeloos. Maar ons voorsate het oorleef. Yster, soos daar iewers in die boek geskryf word, kan mos nie gebreek word nie.

Ek het die eerste keer in matriek met FA Venter kennis gemaak toe ons sy voorgeskrewe boek Offerland, in die Afrikaanse klas behandel het. Hy het beslis daartoe bygedra dat Afrikaans een van my gunstelingvakke was.

Kambrokind is meer as 40 jaar na die eerste uitgawe herdruk. Hiermee het die uitgewers lesers ’n groot guns bewys. Ouer lesers sal nostalgies aan hul kinderdae met lampe en kerse, dolosse gooi, kweperlat swaai, donkie- en perdekarre terugverlang en die jonges sal besef dat die lewe nooit in die “goeie ou dae” makliker as vandag was nie. 

Brood is waar hulle ook al staning kon kry in broodpanne in ’n gat in die grond gebak met ’n paar kole en ’n stukkie blikplaat oor. Op koue winternagte moes hulle op verlate plekke drie of vier keer na honger diere gaan soek.

Boererate was volop en dokters buite bereik. So het sy ma altyd met inflammasiepleister, samboksalf en wintergreens gereis. Sy kon ’n bruin man wat deur ’n geelkapel gepik is, met petrol en mosterd deurhaal.

Hulle het die Groot Griep genadiglik oorleef. Die plaasmense het in elk geval eers ’n dokter ontbied wanneer “jy op sterwe na dood is.” Met sy kenmerkende droë humorsin skryf hy: “Miskien het die griep gemeen ek is nie die moeite werd om te vat nie. Of miskien het hy gemeen dis nie nodig om my te vat nie; ek sal sommer van honger en ellende doodgaan.”

Kos moes vindingryk voorberei word en hul velskoene het na “doodgaanbees” geruik. Een van Venter se vele vernuftige beskrywings wat jou eindeloos amuseer.

Kyk nou maar net na: “Vir my was dit asof die man dwarsdeur my kyk tot binne in my harsings”, “Hy hou die swart man met sy oë vas soos ’n slang ’n muis” en “Hulle moet nog net ’n opdraand sonder ’n afdraand maak dan het ons alles”.

Van sy Oupa Frans skryf hierdie veldmens: “Hy was soos ’n boom op ’n vlakte. Almal het sy koelte opgesoek. En nou was hy weg.”

Hy skryf oor die lewensvreugde van die arm mense van Perdekraal wat ’n lofgesang kon sing dat die “mossies uit die neste vlieg en die honde aan die huil gaan”, oor “’n predikant met ’n stem soos donderweer” wat hulle so “in ’n hoek gepreek het dat hulle moes kies tussen Saligheid en Verderf.”

Jy hoor, voel, sien, ruik en proe die droogte, die hitte, ysige reënvlae, die wind wat deur jou waai, die woestyn en die veld waarvan hy hom nooit werklik kon losskeur nie as hy skryf: “Koue blou wolke waai uit Boesmanland oor en die gras bibber in die skraal windjie” en die droogte wat hulle soos “’n gogga in ’n bottel” laat rondskarrel.

Mens verlekker jou in outydse woorde en beskrywings soos “Soetland”, “Soon”, “giftag”, “aitsa”, “orreljorrels”, ’n oom wat “onkruidsig” is, ’n “skaapwagtersny” brood  en die plaas Botterkraal wat vir sy sterk, uitgesproke ma net altyd “bittergal en duiwelsdrek” was. Sy ma vir wie mense “Kwaai Nelie” genoem het maar van wie ook gesê is dat sy niemand ooit sal “bekruip” nie. “Sy val van voor aan.” En sy pa wat in “’n biduurstem” vra hoe die slagding lyk. Dan reis hulle na plekke met beskrywende name toe soos Rugseer en Kieriebreek. Plekke waar die son jou “stil en moedeloos” brand. Hulle het byna ook na die destydse Suidwes getrek maar toe gehoor van die trekboere wat Suidwes “opvreet soos sprinkane.”

En dan is daar die mense wat op hul pad kom. Ware karakters. Party warm en gasvry, ander gewetenloos. Ouers spreek mekaar as “Ma” en “Pa” aan en vreemdelinge as “Neef” en “Niggie”. Oom Casper was “’n doodliewe bloed en so goed dat daar sandsuiker in hom is.” Die predikant was “die bord waarteen alle klagtes vasgespyker is.” ’n Tante by wie hy loseer het, se gesig was altyd “onbeweeglik asof sy nou net ’n doodstyding ontvang het.”

Maar soms het, soos hy skryf, die “soetdorings wel vir hulle geblom.” Die Kalahari voel nog “heel” soos die Skepper hom gemaak het. Nie doodgeleef nie.

Hy beskryf plekke asof dit mense is. Pretoria is “droog en warm, oud en beskeie met die naklanke van die Boereoorlog nog vaagweg hoorbaar” en Johannesburg is “’n ryk stiefma wat hom voldoende voed en klee maar nie by die hart uitkom nie.”

Jy jubel saam met hom oor die tjek vir 17 sjielings en ses pennies wat hy net na matriek van die Landbouweekblad ontvang het vir sy eerste storie. Sy ma wou gehad het hy moet predikant word en sy pa ’n boer. Maar toe word hy ’n joernalis en skrywer. Dankie tog! Mens wil sy woorde neerskryf en vir altyd onthou.

Kambrokind is ’n lieflike boek. Vir ons en ons nasate.

Van die swart mense se dialoog sou vandag beslis nie polities korrek wees nie. Ook nie die aanspreekvorms soos “Outa” en “Aia” nie, hoewel dit destyds nie sonder respek bedoel is nie. Daar word dan ook wyslik aan die begin van die boek daarop gewys dat enigiets wat aanstoot gee in die konteks van die vertelling gesien word. En dus in die tyd waarin dit afspeel. Die geskiedenis kan immers nie verander word nie.