Dit is nou al sewe jaar sedert die Suid-Afrikaanse publiek vir die eerste keer van Jan Rhaap kennis geneem het.

Sy debuutalbum, Laaste kans, het ’n paar treffers, onder meer die outobiografiese “Grootword in die onderdorp” oor sy kinderjare in die Pretoriase voorstad Garsfontein opgelewer, en sedertdien het hy nog twee albums vrygestel.

Jan, wie se regte naam Werner Burger is, het pas sy vierde album, Elmboog na bo, vrygestel, en daar is reeds ’n aantal snitte wat radiolugtyd gekry het. Die eerste snit, wat ook die eerste enkelsnit is, is “Maak jou maak(e)”; dit beteken “doen jou ding”. Die video is al byna 80 000 keer op YouTube gekyk en die liedjie was ’n treffer op verskeie radiostasies. Die tweede snit, wat glo die volgende enkelsnit gaan word, is “Kom loop”. Die boodskap is dat jy nie die reg het om op ander mense neer te sien of hulle summier te veroordeel nie. Dis goed dat hierdie snit gereelde radiolugtyd gaan kry, want hierdie boodskap kan nie genoeg oorgedra word nie. Die titelsnit vertel die verhaal van ’n man wat sy vriend probeer oortuig om brandewyn eerder as gin (ken iemand ooit die word “jenewer”?) te drink.

Die volgende snit sal mense laat lag. Op “Jan ek kan nie dans nie” vertel hy die storie van ’n enkellopende jong man wat ’n troue bywoon maar net verdwyn wanneer die dansbaan geopen word, en nie eens belangstel om met ’n enkellopende meisie te dans nie. Hy verkies om eerder te drink. In hierdie liedjie verwys Jan na die rolprent Dirty dancing, met Patrick Swayze in die manlike hoofrol. “As my hart nou ophou klop” is iets heeltemal anders; hierin sing hy van die belangrikheid van die liefde soos wat ’n mens ouer word. “Afrikaans, my kind” is ’n snit waarop hy kinders aanmoedig om trots op hul taal te wees. “Ry-ry dagdroom” is ’n lekker snit vir die langpad. Jan raak ook ’n bietjie rustiger op die volgende snit, “As ek jou soen in jou hart”. Juan Boucher het “Huisie in die bos” op Jan se vorige album saam met hom geskryf en gesing, en op hierdie album het hulle saamgespan vir “Afrika”, wat weer eens ’n treffer vir hulle kan word. Een snit wat wel al ’n treffer is en waarvoor daar ’n musiekvideo vervaardig is, is “Adrenalien”, waarop die Bok Radio-omroeper Le-Lue saam met hom sing. Sy het ’n pragtige stem, en dis eintlik ’n skande dat sy net in die Wes-Kaap bekend is.

Die meeste rugbyspanne het verskeie ondersteunersliedjies maar een span wat tot dusver in hierdie opsig afgeskeep is, was die Griekwas. Jan, wat op ’n plaas in die Noord-Kaap boer, het hierdie saak egter reggestel en “Poublou”, wat verwys na die span se truie, geskryf. “Vuis teen jou bors” sal by enige boer byval vind, want hierin sing hy van die belangrikheid van reën in droogtetye. Die laaste snit, “Ons kan nie breek nie”, handel oor die deursettingsvermoë en vasberadenheid van die Afrikanervolk.

Jan se musiek is gemik op dieselfde gehoor as dié van Adam Tas, wat hy as ’n mentor beskou en ’n paar jaar voor hom aan die Hoërskool Garsfontein in Pretoria gematrikuleer het, asook Appel. Gelukkig is daar bitter min, indien enige, lirieke met ’n politieke strekking, wat maak dat sy musiek by ’n breër gehoor aanklank sal vind as wat dalk andersins die geval sou wees. Jan het hom nou al gevestig as ’n uitstekende sanger en liedjieskrywer en hierdie album kan baie sterk aanbeveel word!