Sedert Leah se debuutalbum, Wonderwerk, in 2015 vrygestel is, het sy een van ons land se voorste Afrikaanse kunstenaars geword.

Sedertdien het sy ’n nuwe weergawe van hierdie album vrygestel, terwyl haar laaste vollengte-album, Kyk na my, in 2019 verskyn het. Intussen was sy die aanbieder van die vorige reeks van Boer soek ’n vrou, en tans bied sy Duidelik dapper op kykNET aan.

Te midde van die Covid-19-inperking het sy egter nie ophou sing nie, en sy het pas ’n akoestiese album wat voor ’n gehoor opgeneem is, met Danny Smoke op kitaar, vrygestel. Met enige konsertalbum kan dit gebeur dat ’n kunstenaar praat voordat hulle ’n liedjie begin sing, en so iets kan vir sommige mense hinderlik wees. Die eerste snit op die album is haar groot treffer, “Volmaan”, waarvan daar destyds ’n pragtige musiekvideo gemaak is. Die kombinasie van Leah wat sing en Danny wat kitaar speel, klink absoluut fantasties, en wys dat dit nie altyd nodig is om volle orkesbegeleiding by ’n liedjie in te sluit nie.

Selfs ’n opgewekte liedjie soos “Ek noem jou myne” klink baie goed met niks anders as kitaarbegeleiding nie. Hierdie liedjie was een van die treffers van haar mees onlangse album. “Girls night” is ’n snit wat sy in Afrikaans en Engels opgeneem het en in albei tale werk dit. Sy sing dit op hierdie album in Afrikaans. Baie vroue kan hulle met die woorde vereenselwig, veral in die moeilike tye waarin ons tans lewe. Dis snaaks dat sy sê sy sluit af met haar treffer “Met jou klere aan”, maar dit is net die vierde snit op die album. Hoe ook al, dit bly een van die lekkerste Afrikaanse liedjies wat die afgelope tien jaar vrygestel is en die liedjie wat haar as kunstenaar gevestig het. “Ek mag jou mis” was een van die snitte wat op haar album Kyk na my ingesluit is, en die weergawe op hierdie album is baie rustiger as die oorspronklike een. Die titelsnit van die album “Kyk na my”, is haar laaste oorspronklike liedjie op die album. Die boodskap van hierdie liedjie, wat deur Karen Zoid en Johan Vorster geskryf is, is dat jy genoeg is, ongeag jou omstandighede.

Die feit dat The Beatles se treffer “I wanna to hold your hand”, meer as twintig jaar ouer as Leah self is, maak nie saak nie. Haar weergawe is uitstekend, veral aangesien sy absoluut nootvas is as sy a capella sing. Danny begelei haar nog steeds maar nie reg aan die begin nie. Een baie interessante snit wat sy ingesluit het, was ’n uiters slim samevoeging van “Want you to want me” van Jason Derulo en Whitney Houston se reuse treffer “I wanna dance with somebody (who loves me)”. Sy kan dit gerus baie meer gereeld tydens konserte sing! Die laaste snit is ’n keurspel van Laurika Rauch se treffers “Stille waters” en “Vier seisoene kind”, waarop Danny Smoke klavier speel.

Leah het die Suid-Afrikaanse publiek die afgelope paar jaar met haar skoonheid, haar sprankelende persoonlikheid en veral haar talent oorrompel, en dis beslis nie net haar bewonderaars wat van hierdie album sal hou nie. Dis dalk effens kort, maar ’n mens hoop dat sy weer so iets sal aanpak. Dit sou ook goed wees om beeldmateriaal, miskien ’n DVD, van hierdie konsert te sien. Dit wys wat ’n mens van haar konserte, wat beslis die moeite werd is om by te woon, kan verwag. Sy is ongetwyfeld een van ons land se beste vroulike kunstenaars.