’n Hart is so groot soos ’n vuis – ’n roman

Skrywer: PP Fourie

Uitgewer: Kwela Boeke (NB-Uitgewers)

Resensent: Carla van der Spuy

 

 

Dit is vreemd dat die skrywer die boek aanvanklik in Engels – nie sy moedertaal nie – geskryf het en dit daarna vernuftig in Afrikaans deur Marius Swart vertaal is – so oortuigend dat mens sou dink dit is in Afrikaans geskryf.

Die rede hiervoor het my laat kop krap. Dis mos soveel makliker om in jou moedertaal te skryf. Maar in ’n aanlyn boekonderhoud met die vertaler, vertel Fourie dat hy die skryfproses so andersom/aweregs aangepak het omdat hy afstandelikheid wou kry. Dit maak vir my sin.

’n Hart is so groot soos ’n vuis is swaar om te lees. Dit moes swaarder gewees het om hierdie titel te leef. Vandaar die afstandelikheid. ’n Kind wat uit ’n gewelddadige en disfunksionele huis kom, moet immers hanteringsmeganismes aanleer. In die geval van die hoofkarakter in hierdie boek het hy probeer om onopsigtelik te leef, in die agtergrond. Afstandelik.

Soos Fourie in die onderhoud verduidelik: “As jy iets skryf met baie geweld en emosies en die woorde ‘hart’ en ‘vuis’ op die voorblad, kan dit maklik in sentiment ontaard. Dit kan ‘kitsch’ raak.” (Ai tog, wat is tog verkeerd met ’n bietjie sentiment? Is dit “onletterkundig”? Kitsch is ook al lankal weer mode. Laasgenoemde tong in die kies bedoel.)

Die voorblad is treffend met ’n foto van ’n oënskynlik eensame seuntjie. Later stel jy vas die alleenlewe is sy eie keuse.

’n Hart is so groot soos ’n vuis is die storie van ’n seun, Paul, se ambivalente en verwikkelde verhouding met sy talentvolle, charismatiese en gewelddadige alkoholis-pa. Soms was sy pa die intellektueel, die filosoof en die man wat hulle op gesinsuitstappies in die Swartbergpas “met ’n asemrowende uitsig waar jy tot in die toekoms dalk selfs tot in die hemel kon sien.”

Hy kyk terug na sy kinderjare onder die invloed van hierdie man wat dikwels ’n monster was, hoe sy ouers soms versoen het en die wanhopige en die fyn beplande vlugtogte met sy ma waar ’n jong kind besonder berekend moet optree en sy ma moet beskerm. Dieselfde gewelddadige pa wat in ’n teer oomblik met sy swanger vrou op ’n jaagtog hospitaal toe stilhou vir ’n klein skilpadjie wat ongewoon vir die stad, besig was om oor die straat te loop. Dis die einste pa wat hy deur ’n skreef ’n rewolwer “soos ’n Fabergé-eier” sien koester het. Dit vertel ook die roerende verhaal van sy ontluiking as jongman, van selfontdekking en hoe vloeibaar seksualiteit kan wees. Hy skryf oor ’n vriendskap met ’n seun toe hy op skool was wat meer in meisies belanggestel het as hy. Sy vriend het geweet as hy verlief op ’n seun by die skool was. Die goed is nooit bespreek nie, nie omdat hulle skaam of te ongesofistikeerd was nie, maar doodgewoon omdat dit nie saak gemaak het nie. Nogal bevrydend vir daardie tydperk.

Die herontmoeting met en die ontferming oor sy vervreemde veel jonger halfbroer – ’n jonger weergawe van hom – lig darem mens se gemoed. Hulle het baie in gemeen maar beide is ook depressief. Hy wil sy broer beskerm. Paul het sy pa afgeskryf maar sy broer versorg hom as sieklike ou man. Hulle deel dieselfde pa maar het verskillende ervarings.

In die onderhoud erken Fourie dat hoewel die boek as ’n roman bemark word van sy karakters verpakkings van verskillende mense is. Hy voeg by dat die gebeure (daar word onder meer op huweliksverkragting gesinspeel) egter onbetwisbaar is. Daar is die pa wat by die verteller se meisie slaap en as gevolg van drank en dwelms ongekende fisieke en verbale wreedhede teenoor sy ma pleeg asook grusame tonele van lyding. Donker.

Dis te verstane dat Paul ’n teruggetrokke seun was. Sy ouers (beide kunssinnig) sou dalk van ’n meer passievolle seun gehou het, dink hy. Iemand meer in voeling met emosie, meer vreesloos, spontaan. Maar kyk wat het al die eienskappe hulle in die sak gebring, vra hy. Daarom is hy kalm, koel, en afstandelik, inskiklik, beleefd, buigsaam en volwasse. Hy verwys na ’n skrywer wat meen dat elkeen van ons net een storie het en vra: “Wat is jou sentrale narratief? Ek dink myne is die behoefte aan ’n band met ander, maar ook die vrees daarvoor.”

Sy sielkundige het hom vertel dat mense met sy agtergrond dikwels op soek na disfunksionaliteit is.

Hy skryf skreiend eerlik oor die aaklige liefdelose ouma vir wie die verteller sê: “Ek kan my net voorstel hoe dit voel om jou eie stukkende kinders te sien en te weet dis jy wat hulle gebreek het. Ek wil jou nooit weer sien of met jou praat nie. Ek hoop jy het ’n lang lewe met baie jare sodat jy kan leer om te sien hoe die mense wat jy gemaak het finaal inmekaarstort. En wanneer jy doodgaan, hoop ek jy is by jou volle bewussyn. En in pyn. En alleen. Dan is daar daardie wonderlike onkonvensionele huiswerker Evelina, wat dieselfde antidepressante en sigarette as sy ma gebruik het, haar op haar naam genoem het (dis dekades gelede) en sy ma aangemoedig het om haar man te los.

Fourie skryf kreatief oor plekke asof dit mense is. “Amsterdam is klein, pragtig, kleurvol, smerig-sjarmant. Nie naastenby so deftig soos Parys nie maar baie meer leefbaar.” Hy het as kind onder meer in Clarens gewoon waarvan hy sê dat dit nou “’n soeterige selfbewuste kunstenaardorpie” is. Onthouwoorde.

Ek voel altyd ’n bietjie verward as ’n roman eintlik op die waarheid gebaseer is. Daar word mos deesdae van “faction” gepraat. Fourie vertel reguit dat hy “lieg maar nie bedrieg nie”. Dan wil jy weet; wat was fiksie en wat niefiksie? Maar op die ou end is dit nie belangrik nie. Die storie is.

Veral insiggewend is Fourie se siening van geheue. Hy beskou dit as buitengewoon veranderlik.

“En as ek my herinneringe kan verander, kan ek my identiteit verander. Dit maak my hoopvol. Optimisties.”

Dis dalk presies waar mense met sy ervarings se redding lê.

Hierdie roman is briljant geskryf. Ek sal verstom wees as dit nie vir ’n toekenning benoem word nie. Selfs of dalk veral omdat die gebeure soms byna objektief en kil weergegee word, gryp dit jou aan die hart.