Die kind se naam is Anneke

Skrywer: Juliana Coetzer

Uitgewer: Human en Rousseau

Resensent: Carla van der Spuy

 


Die lewe met haar gestremde kind klink na iets uit ’n riller. Sy stoot haar ma weg en haar drukkies is halfhartig. Hulle moet hul beursies wegsteek, sy stamp gedurig in goed vas. Sy stel die wasmasjien vir twee items, kry eindelose epileptiese aanvalle, raas in die nag en smyt waardevolle breekware van sentimentele waarde stukkend, gooi vloermoere, koop hardkoppig klere wat hopeloos te klein vir haar is en gooi selfs haar ma met ’n mes wat voor haar voete beland. Sy het demensie in haar twintigs. Sy is nie net verstandelik gestrem nie maar ook psigiatries gestrem. Daar is geen orde in haar brein nie. Sy het geen besef van wat sosiaal aanvaarbaar is nie. Die mediese verklaring daarvoor is die krimping van die brein. Die oumense sou haar “kranksinnig” genoem het.

Niemand moet vir die skrywer en psigoterapeut Juliana Coetzer, die snert kom vertel van ouers wat spesiaal gekies word vir gestremde kinders en vra of sy al aan die groter doel gedink het nie. Dom onsensitiewe vrae en simpel oppervlakkige opmerkings wat ouers van elke gestremde kind ken.

Die kind se naam is Anneke volg ses jaar na Coetzer se blitsverkoper Bloedvreemd, waarin sy die eerste keer skryf oor die verlies en geleidelike agteruitgang by haar kind wat ’n virus opgedoen het wat haar brein aangetas het. Hoewel sy en haar man Fanus, alles in hul vermoë doen om haar met liefde, begrip en empatie te omhul, bring elke dag sy eie eindelose uitdagings nadat sy met Landau-Kleffner gediagnoseer word. Dit beteken dat die brein sal agteruitgaan, dat sy toevalle sal kry, haar persoonlikheid sal verander en die woede sal toeneem.

Coetzer skryf skreiend eerlik en spaar nie haar eie soms onmoederlike gedagtes nie. Gedagtes dat hulle beter daaraan toe sonder haar sal wees. Sy skryf dat mense wat nie kinders wil hê nie, slim is want “’n mens se hart breek op ander manier oor ’n kind.” Hulle wonder wat sal gebeur as hulle haar van haar medikasie ontneem. Sy erken dat dit al in haar gedagtes was dat as hulle nie vir haar Rivotril gee nie, sy in status epilepsie sal gaan en sal sterf. Dit sal ’n uitkoms wees vir Anneke en sy moet erken ook vir hulle. Sy verwys na ’n narkotiseur wat vertel dat ouers van gestremde kinders deur die bank vir hom vra om die natuur maar sy gang te laat gaan, sou dit nodig wees om in te gryp as komplikasies intree. So radeloos is hierdie ouers.

Maar die paradoks is dat Coetzer ook reddeloos lief vir haar kind is. Enigiets vir haar sal doen. As sy tot die uiterste toe uitgedaag word, is Coetzer ook op haar liefste vir die kind. Terwyl Anneke wel na haar pa luister, voel dit asof sý heeltyd Anneke se teiken is. As Anneke nie meer woorde vind nie, is baklei die enigste uitweg. Maar maak nie saak wat gebeur nie, haar liefde vir haar kind bly “soos ’n permanente ondergrondse stroom vloei.” Sy vra haar af hoe mens die woord “liefde” en “bang” in een sin versoen.

Coetzer gryp jou aan die hart as sy vertel dat die kind soos wat hulle haar ken, van die radar af verdwyn het. Haar broers se maats kuier skaterend maar Anneke se maats raak weg. Die ouers voel skuldig omdat hulle vir die seuns se manewales lag terwyl hulle oor die verlies van Anneke huil. En Coetzer, synde ’n pleaser, voel nog skuldiger omdat sy haarself so in haar eie emosionele kokon toespin dat sy nie ander se pyn meer raaksien nie. Nie net haar kind nie, maar ook sy verander.

Sy vertel hoe sy soggens hartseer opstaan en saans met woede gaan slaap. So wanhopig was die ouers dat hulle Anneke in ’n stadium na die omstrede Nigeriese profeet TB Joshua geneem het nadat iemand anders se kind oënskynlik genees is. Hy sê toe sy is glo in die geesteswêreld gesond, maar nie in haar aardse liggaam nie. Hulle moet aanhou glo. Maar haar epileptiese aanvalle word net erger. Coetzer vertel reguit dat sy na Anneke se siekte nie meer soos ’n kind kon glo nie. Sy het besluit om wye draaie om gesondheid- en godsdienstige fundamentaliste te loop.

Sy besef ook dat die tou by die Sassa-kantoor vir Anneke se toelae om aansoek vir ’n ongeskiktheidspensioen te doen die groot gelykmaker is. Dat hul gesin geen uitsondering is nie.

Moenie prekerigheid, vroomheid of ’n suikerlagie oor al die smart in hierdie boek verwag nie. Die skrywer se woorde is nugter en realisties. So skryf sy: “Op planeet Aarde kry jy die volledige pakkie. Niemand is so spesiaal dat jy nie deur swaarkry getref sal word nie. Enigiets kan met enigiemand gebeur.” Dis inderdaad soos wat sy skryf ’n geval van die son draai nie om jou en jou gesin nie. Hoe kan sy verwag om net gesonde kinders te hê?

Coetzer is ’n bedrewe skrywer wat jou aandag enduit behou. Dis veral die treffende slot wat jou lank bybly en laat besef dat liefde altyd wen.

Sy skryf met haar hart en haar verstand oor die harde werklikheid en wanhoop wat ouers van gestremde kinders beleef. Mens slaak saam met die ouers ’n sug van verligting as hulle na dekades daarin slaag om Anneke in ’n liefdevolle tehuis te kry.

Mens kan nie anders as om saam met die skrywer te vra hoekom daar inderdaad ’n doel met alles moet wees nie. Niks rondom Anneke hoef verstaan te word nie. Dis die lewe. “Al staan jy hoe lank op jou knieë.” Al is jy, in haar woorde, “bereid om jouself honderd keer op die brandstapel te offer, kan jy nie jou kind se plek inneem nie.” Niemand is so spesiaal dat hulle hartseer gespaar bly nie, skryf sy wys.

Inderdaad. Sy kom tot die slotsom dat jy maar onder sulke omstandighede beheer oor jou lewe moet neem deur die oomblik te kies. En dis nie ’n les nie. Dis die waarheid.

Hierdie trefferboek behoort wyd gelees te word deur almal wat al pyn beleef het en deur alle ouers – van gestremde sowel as gesonde kinders. Sodat hulle beter kan verstaan.